13 Oktober 2023
Liewe De Eike-lidmaat,
Dit is sowaar alreeds Oktober-maand en gedurende Oktober vier ons tradisioneel ons Dankbaarheid. Ek wil graag ‘n paar gedagtes rondom dankbaarheid deel, en dan wil ek jou persoonlik uitdaag.
Agtergrond: (ek haal aan uit “ ‘n Reënboog vol verrassings” van Nina Smit)
In die LIG van Augustus 2014 vertel die redakteur, Francine van Niekerk, die storie van hulle 100 Happy Days groepie vriende. Elkeen van hulle moes oor ‘n tydperk van 100 dae elke dag iets nuuts in hulle alledaagse lewe kry wat hulle gelukkig maak, ‘n foto daarvan neem en dit na die ander lede van hulle groepie aanstuur. “So het ons elke dag die lewe met ‘n spesifieke uitkyk aangepak; een van raaksien en waardeer. ‘n Lewe vol doelbewuste dankbaarheid,” skryf Francine. Uiteindelik het hierdie opdrag toe veel meer as ‘n argief vol mooi foto’s opgelewer, getuig sy. Hierdie dankbaarheidsargief het hulle genoop om te soek na dinge waarvoor hulle dankbaar kan wees. Die lekkerste was om dit met ander te deel, én die bonus was dat dankbaarheid naderhand ‘n gewoonte geword het wat hulle nader aan God en ander mense getrek het. “Dit is boonop aansteeklik. Gaan kyk maar self,” sluit sy die rubriek af.
Dankbaarheid, meen Mark Williams, ‘n kliniese sielkundige by Oxford, is om jou daarop toe te lê om bewus te word van die klein, voorheen onopgemerkte dingetjies in jou dag. Dit is presies wat Ann Voskamp, ‘n Amerikaanse boervrou en ma van ses kinders, gedoen het toe ‘n vriendin haar uitgedaag het om 1000 redes tot dankbaarheid te kry. Tussen al haar huistake deur – wat sy boonop sonder ‘n huishulp doen terwyl sy ook nog haar ses kinders tuis onderrig – het Ann die uitdaging aangepak.
Haar boek One Thousand Gifts het hieruit voortgevloei. Dit het háár ook verander, getuig Ann, asook die manier waarop sy na die wêreld kyk. Sy het ontdek dat die opdrag toe al die tyd ‘n uitdaging was om al die maniere aan te teken waarmee God haar met Sy liefde oorlaai.
Uitdaging:
Kom ons versamel ons eie lys van 2023 van hierdie alledaagse redes tot dankbaarheid.
Alledaagse vreugdes uit my eie dankbaarheidsjoernaal:
• Tuisgemaakte appelkooskonfyt op warm roosterbrood
• ‘n Handvol laventelblomme in my eie tuin gepluk
• ‘n Geskenk van vars suurlemoene
Laat my gerus weet vir watter alledaagse seëninge jy dankie sê by elmarischwenke@gmail.com of per Whatsapp op 082 895 7881, of laat weet die kerkkantoor. Indien jy verkies om anoniem te bly, is jy ook welkom om ‘n briefie in die kollekte-mandjie te gooi. Binnekort deel ons met mekaar waarvoor De Eike in 2023 dankbaar is!