23 November 2017
Ek het nou al die voorreg gehad om beide van my dogters se huwelike waar te neem. Al twee geleenthede was vir my baie spesiaal, en albei kere moes ek maar by tye groot slukke sluk om net die emosies bietjie onder bedwang te hou. Toe die gemeente dus verneem dat Francois en Nannette gereël het dat klein Cari hier gedoop sou word, en dat die uwe haar sou doop, het ‘n hele paar van hulle al moeilikheid sien kom. Na 25 jaar weet hulle al baie goed dat ek nie eintlik die stil, sterk soort is nie…
‘n Mens vertel baie keer in die voorafgaande week vir jouself dat hierdie eintlik net nog ‘n geleentheid is om God se Woord te verkondig, en dat niks belangriker as dit is nie. En dis heeltemal waar. Dis ongelukkig ook waar dat ons maar net mense is, en dat daar tog baie verwagtinge rondom die dag was – veral my Senior Bybelstudiegroep vertel al vandat sy nog net ‘n week of wat oud was, hoe hulle uitsien na haar doop!
Niks kon my egter voorberei op die oomblik toe my kinders voor die kansel kom staan met die kleine wonderwerkie in hulle arms nie – presies waar ek en Adri destyds met Nannette (weliswaar destyds in Wellington-Oos) gestaan het. God se genade strek immers oor geslagte heen, en dis vir ons kinders net so ‘n werklikheid soos dit vir ons ouers was. Dit was vir my eenvoudig oorweldigend. Wat ‘n wonder om as gedoopte ook jou kleindkind met daardie selfde teken te bedien!
En ja, ek dink nog altyd sy is die mooiste mensie in die hele wêreld.