28 September 2017

Erfenisdag kom net een keer ‘n jaar, en Hervormingsfees500 net een keer in ‘n leeftyd. Dis seker dié dat ‘n mens by elke byeenkoms van die kerk, of dit nou ringsitting of sinode is, hoor van “ons gereformeerde erfenis” of “ons gereformeerde identiteit.” Dit het my laat wonder wat ons lidmate daaroor dink. Wat dink jy maak ons kerk uniek en gee daaraan regtig sy identiteit?

‘n Mens sou die antwoord seker van baie kante af kon benader. Ons sou kon praat oor die geskiedenis – maar dit sou die kerk dalk ietwat irrelevant maak in 2017 as net sy geskiedenis hom sou definieër. Ons sou kon praat oor die atmosfeer in ons eredienste en die liefde tussen ons lidmate – maar dis dalk ook nie reg om ‘n kerk in menslike terme te definieër nie. Baie buitestaanders definieër ons selfs in terme van ons gebou, maar ek dink nie ons wil regtig só graag die “Skilpadkerk” wees nie…

Daar is natuurlik iets anders wat ons as kerk definieër. En enigiemand wat die laaste tyd eredienste bygewoon het, sal seker weet waarvan ek praat. Ons definieër onsself in terme van die vyftal slagspreuke wat die Reformasie ons geleer het. Maar dan nie as geskiedkundige relieke (in Latyn van alle tale!) uit ‘n vroeëre era nie, maar as lewende werklikhede waarmee die gemeente nóú, in die 21e eeu, sy weg vind.

Maar dalk klink dit nog altyd meer soos ‘n geskiedenisles as soos kerk-wees. Kom ons stel dit dan in eenvoudige Afrikaans: Ons is in die eerste plek ‘n gemeente wat volledig op die Woord geskoei is. Daar is vir ons geen ander tradisie of opinie wat by ons die deurslag gee nie – in elke situasie vra ons net: Wat sê die Bybel? Ons staan en val daarby! En selfs belangriker nog: dan doen ons dit! Ons lewe die Woord – as gemeente, maar natuurlik veral ook as individue in ons lewe van elke dag. Dis hoe ons lewe! Ons vra heeltyd: wat sê die Woord?

Daarby is dit vir ons geweldig belangrik om die hele tyd bewus daarvan te bly, dat ons net uit genade gered is. Daaruit weet ons dat ons absoluut niks het waaroor ons vol van onsself kan wees nie – ons wil net vol van Jesus wees, en die Gees deur ons laat lewe, sodat ons die vrug kan dra waarvan ons missie praat (terloops, ons visie en missie definieër natuurlik ons kerk-wees net so duidelik!). En omdat dit so prominent in ons lewe is, maak dit van ons baie dankbare mense. Hulle wat baie vergewe is, is tog baie dankbaar, leer Jesus self ons.

Daarby lewe ons elke dag in totale geloofsafhanklikheid. Dit is natuurlik in die eerste plek die weg waarlangs ons verlos is, maar dit speel steeds elke dag in ons lewe ‘n deurslaggewende rol. Ons lewe as mense wat die Here in alles vertrou – weereens, as gemeente, maar veral ook in die detail van ons elkeen se lewens en gesinne.

In ‘n neutedop is dit ons erfenis en ons identiteit. Dis wat dit beteken om ‘n gereformeerde gemeente te wees. En dis alles behalwe vervelig. Dis ‘n dinamiese, opwindende reis saam met die Here, soos Hy ons self geleer het!

Maar daar bly natuurlik nog een spreuk oor, en dis dalk die een wat die duidelikste van almal aan ons gemeente sy eie karakter gee. Op die ou end is die belangrikste ding wat jy van ons gemeente moet kan sê, sekerlik die feit dat oor alles “Aan God alleen die eer” geskrywe staan. Dit gaan nooit oor my nie, maar in alles net oor Hom!

Een (moedswillige) laaste vragie: dis seker maklik om so te sê, maar werk dit regtig so in die praktyk? Wel, ons is mos nog nie in die hemel nie. Dis hoekom ons almal mos nog feilbaar is. Maar as ons weet wie ons is, en na watter doel ons strewe, dan kan ons daardie doel glashelder voor oë hou, en dan gaan ons ten minste van tyd tot tyd dit regkry om kerk te wees soos God dit wil hê en soos dit tot sy eer is. En al meer groei daarin. En dis mos presies waarvoor ons hier is! Soli Deo Gloria!

Daarby moet ek net ook sê: dit alles beteken nie dat ons glo dat ons die enigste kerk is wat dit kan sê, en dat al die ander verkeerd is nie. Dit maak ons juis nederig en afhanklik, bereid om aan ander ook hul plekkie in die son te gun. Ons vorm immers sáám die liggaam van Christus!