14 Augustus 2020
Liewe De Eike-familielid,
Ek het vroeg in Maartmaand ‘n reünie by my universiteitskoshuis bygewoon. Baie dinge het verander gedurende die afgelope 20 jaar sedert ek daar ‘n inwoner was. Ek was heel nostalgies om te verneem dat die interkomstelsel* so 2 jaar gelede ingegee het en nie herstel kan word nie en dat die telefoonhokkie* nou as stoorspasie gebruik word. Tog het die gees van kameraderie onder die inwoners behoue gebly deur die jare.
‘n Praktiese voorbeeld van hierdie kameraderie is ‘n voorraadkassie waar ‘n huisinwoner ‘n item wat sy nodig het, kan gaan haal – ongeag of dit nou ‘n pen of ‘n buisie tandepasta is. Die kassie word deur die koshuis se eie inwoners vol gemaak en só sorg hulle vir mekaar.
Ons De Eike-familie doen dieselfde: ons sorg vir mekaar. Op my eie kan ek dalk nie baie doen nie, en my bydrae is dalk net ‘n druppel in die emmer, maar almal van ons se bydraes sáám maak ‘n reuse verskil.
Ek het gedurende die afgelope maande keer op keer verstom gestaan oor hoe warm De Eike se hart klop. Ons lidmate het ons harte oopgemaak met die kospakkie-bydraes wat tydens “Drop & Go”-tye afgelewer is, die Roadhouse Basaar-bestellings en skenkings het ingerol en dankofferbydraes tot einde Julie is slegs 3% minder as dieselfde tydperk verlede jaar – ten spyte van al die uitdagings wat die Grendeltyd meebring. En dis hier waar my woorde opraak. Ek kan maar net met trane in my oë opkyk met ‘n woordelose dankbaarheid in my hart vir seëning op seëning wat ons ontvang het.
Dankie aan elke De Eike-familielid vir julle betrokkenheid by en deelname aan God se familie. Dankie vir julle omgee vir ander en ondersteuning van mekaar. Dankie dat julle ook julle dankbaarheid uitleef deur middel van julle diensbaarheid en offervaardigheid.
Ons bekommer ons nie oor die storms en die onstuimige waters rondom ons nie, want Ons Vader is saam met ons aanboord van ons skip.
Hierdie wete gee my ‘n rustigheid wat alle verstand te bowe gaan en vervul my met dankbaarheid.
Elmari Schwenke-van der Walt
Voorsitter: Fondse Kommissie
Kuilsrivier-De Eike