11 September 2020

Daar is ? lied in ons harte! Vandag wil ons op die Bottelaryheuwels staan en kliphard sing. Uit dankbaarheid wil ons lied 464 sing. Ons wil sing oor ons Vader se grootheid, ja, ons wil oor Sy grote Naam sing.

As predikante van De Eike kan ons duidelik julle behoefte raaksien om in dankbaarheid vir die Here te gee. Die syfers vertel aan ons die verhaal van mense wat ’n behoefte het om te gee eerder as om te ontvang en om die begroting te laat klop.

Kom ons wees vandag eerlik met julle. Grendeltyd het soos in elke liewe gemeente in ons land, sy tande hard en diep in ons ingeslaan. En ons moet verstaan dat Covid-19 die speelveld heeltemal en drasties verander – baie mense se inkomste is skielik minder. Ja, ons was en is steeds besorg oor die gemeente se finansiële posisie, maar ons het hier in De Eike kom leer dat julle graag gee vir die Here se werk. Dis verblydend in hoe ‘n mate die oorgrote meerderheid lidmate positief reageer wanneer die Woord gehoor word. Almal van ons wil gehoorsaam wees aan die Here en verstaan ook die beginsel:  “Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees”. Daarom wil ons drie saam met julle in vertroue luister wanneer die Here vanuit Maleagi 3:10 sê: Toets My of ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.” En dit gebeur in De Eike. Ek is onbeskryflik stil tevrede en dankbaar!

Dankie De Eike! Dankie vir julle sigbare dankbaarheid, diensbaarheid en offervaardigheid. Ons besef dat dit nie net ons verantwoordelikheid is om die skip deur die COVID-19 storm te stuur nie. Ons Vader is aan boord en elkeen van julle staan saam met ons op die dek en ons vat hande, vol vertroue in dankbaarheid.

Julle drie dominees

Kuilsrivier-De Eike