8 November 2018

Vandag gesels ons verder oor die res van ons leraars, Die volgende een wat by ons aangeluit het was Hannes Burger wat in Oktober 1992 vanaf Mosselbaai-Suid oorgekom het na ons toe. Hy is gebore in Ladysmith, Kwazulu-Natal, en het op baie plekke grootgesword. Hulle het in Pretoria (nie lank genoeg om ‘n Blou Bul te word nie – red.), George, Philipstown in die Karoo, en Paulpietersburg bo in Noord-Natal gewoon, voordat hy in Wellington matriek kom maak het – in dieselfde tyd wat ek ook by Hugenote betrokke was! Toe is hy Stellenbosch toe waar hy naas sy predikante-studies ook ‘n MA- graad in Grieks verwerf het. Hy het al ‘n hele paar boeke geskrywe en skilder graag as stokperdjie. Hannes is getroud met Adri de Vos, wat in Williston gebore is en daarna ook op Heidelberg en Riversdal grootgeword het, voordat sy ook Stellenbosch toe is. Daar het sy ‘n BSc-graad met Wiskunde en Botanie verwerf. Sy is baie musikaal en speel graag klavier. Hulle het twee dogters: Nannette Botha is met Francois getroud. Sy is ‘n dosent op Stellenbosch in Sake-etiek en Ouditkunde, (en het die mooiste dogtertjie in die hele wêreld – red.) Hulle ander dogter is Sarli van Zyl, wat saam met haar man Arno in Hove naby London woon. Albie, hulle seun, doen sy doktoraat en gee klas aan die Universiteit van Essen-Duisburg in Duitsland.

Chris Barnardo was die vierde predikant in De Eike, en het in Januarie 2002 as derde leraar by ons aangesluit, in die tyd toe De Eike drasties in getalle gegroei het. Hy is in Bloemfontein gebore en het op Kroonstad grootgeword. Hy het aan die Universiteit van Suid-Afrika en Stellenbosch gestudeer. Vroeër was hy as kolonel aan die militêre intelligensiediens verbonde, nadat hy ook ernstig beseer in in die “Kerkstraat-bom”, voordat die Here hom geroep het in die bediening. Hy is getroud met Carina du Preez, wat op Oudtshoorn gebore is en in Despatch grootgeword het in ‘n pastorie. Sy het gekwalifiseer in Verpleegkunde aan die Universiteit van Vrystaat. Hulle beheer tans die Sorgeenheid vir verswakte bejaardes by ‘n aftree-oord in Brackenfell. Hulle drie kinders is dr. Lize Coetzee, ‘n tandarts, Anje Boshoff, ‘n onderwyseres by Laerskool Mikro, en dr Lodewiek Bernardo, ook ‘n tandarts. Lodewiek tree binnekort ook in die huwelik.

Nou is daar net een predikant oor oor wie ons kan gesels: Jandré Viljoen. Meer oor hom volgende keer!