15 Maart 2018

Wanneer ons nadink oor die 2017/18 finansiële jaar, kan ons met groot dankbaarheid getuig van seëning op seëning.

  • Ons het die jaar afgeskop met die viering van ons gemeente se 40-ste bestaansjaar.
  • Ons kan spog met ‘n opgegradeerde parkeerterrein.
  • Ons het ‘n nuwe klankstelsel geïnstalleer om die erg verouderde stelsel te vervang.
  • Ons het terselfdertyd die liturgiese ruimte vergroot en toeganklik gemaak vir rolstoele.
  • Ons het ‘n nuwe webwerf bekendgestel en daarmee saam begin om ‘n weeklikse e-nuusbrief te versprei. Daar is nuwe rekenaartoerusting en programmatuur aangekoop vir hierdie doel.
  • Die werk wat nodig was om ‘n “Certificate of Compliance” ten opsigte van ons elektriese bedrading te verkry, behoort binnekort afgehandel te wees, wat beteken dat hierdie sertifikaat eersdaags uitgereik sal word. Dit was noodsaaklik om hierdie uitgawes aan te gaan ten einde aan ons versekeraar se vereistes te voldoen.

Bogenoemde opgradering van ons eiendomme is gefinansier uit die opbrengs met die verkoop van die pastorie in die vorige finansiële jaar.

Ons gemeente het gedurende die afgelope jaar R332 000 tot verskeie getuienisaksies beide in ons eie gemeenskap en ook regoor die wêreld bygedra.

Dit is moontlik gemaak deur u bydraes – maandelikse en jaarlikse dankoffers, sowel as die ondersteuning van ons fondsinsamelings soos die basaar en die wynveiling.  Gedurende die afgelope jaar het ons met al ons fondsinsamelings net-net meer ingesamel as waarvoor ons begroot het.  Tesame daarmee is ons fondse deurgaans baie versigtig spandeer.  Dit het meegebring dat die tekort waarvoor ons aan die begin van die jaar begroot het, nie gerealiseer het nie.

Baie dankie vir u offervaardigheid!  “Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.  En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens Sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus.” Fil. 4:18, 19

Ns. Enigiemand met verdere navrae is natuurlik welkom om vir Elmari of die kerkkantoor te kontak.