11 Mei 2018
Lidmate van Othello vra al ‘n geruime tyd of ons nie ‘n Bybelstudie byeenkoms by Othello kan hou nie. Phillie van Wyk het my gehelp om onder ons lidmate uit te vind wat spesifiek hulle behoefte is. Lidmate kon aandui of hulle belangstel in so ‘n Bybelstudie groep, watter dag in die week hulle verkies, watter tyd en hoe gereeld. Uiteindelik het ons op grond van die terugvoering besluit om die tweede en die vierde Woensdagoggende van die maand ‘n Bybelstudie byeenkoms om 09:30 in die eetsaal aan te bied.
Ons het hierdie week (gister!) ons eerste byeenkoms gehad. Ons was so dankbaar toe daar 17 mense opgedaag het! Ons het gesels oor hoe ons die Bybelstudie gaan inrig en die lede het geleentheid gekry om aan te dui watter materiaal hulle wil doen. Ons het op die Evangelie van Matteus besluit. Indien daar nog lidmate van Othello is wat belangstel, is julle baie welkom om in te skakel. Wat wondelik is, is dat ‘n paar van die groeplede aangedui het dat dit die eerste Bybelstudiegroep in hul lewe is waarby aansluit! Watter ‘n avontuur wag op hulle! Ons het gereël dat ek die materiaal wat ons gaan gebruik so gou as moontlik by Ina Hurter in Othello se kantoor sal plaas. Groeplede kan die materiaal by Ina neem. As ons dan op 23 Mei ons eerste Bybelstudie begin, het julle reeds geleentheid gehad om voorbereiding te doen.
Johan Morkel