15 Maart 2019
Liewe broers en susters
Die Moderatuur van die Algemene Sinode het in hulle verklaring kennis geneem van die hofuitspraak oor die NG Kerk en selfdegeslagverhoudings. Die kerk respekteer die hofuitspraak. Die kerk moet egter nog saam met sy regspan die uitspraak bestudeer om die volle implikasies daarvan te verreken in sy keuse om na die Konstitusionele Hof te appelleer of nie.
Die Moderatuur van Wes-Kaapland is bewus van die ontwrigtende effek wat die kerklike prosesse en die hofuitspraak op gemeentes het, en stuur daarom nou aan u hierdie pastorale brief. Vir lidmate wat sterk gekant is teen selfdegeslagverhoudings was die kerklike en juridiese prosesse baie ontstellend. Aan die anderkant het ons gay-lidmate en hulle families en vriende soveel keer seergekry. Ons is verleë daaroor dat die teenstrydige besluite oor selfdegeslagverhoudings verwarring en hartseer veroorsaak het. Ons moderamen het met die hulp en leiding van ons Sinodale Kommissie vir Leer-en Aktuele-Sake ’n proses onderneem waarin gemeentes, gay persone, akademici en ander se mening oor selfdegeslagverhoudings ondersoek en baie ernstig geneem het. Die moderamen het verlede week met ’n eenparige besluit voorstelle goedgekeur wat by ons komende sinodesitting voorgelê gaan word vir oorweging. Ons is positief dat hierdie voorstelle ons kan help om vorentoe te beweeg.
Ons besef dat die kerk nou oor hierdie kwessie duidelik sal moet leiding gee ten opsigte van ’n lewe in gemeenskap met, en navolging van Christus. Ons moet in hierdie tyd waak daarteen om die uitspraak van die hof met die konstitusionele implikasies daarvan, en die roeping van die kerk teenoor mekaar te stel. Ons moet in nederigheid die uitspraak van die hof oorweeg. Ons moet egter ook geloofsonderskeidend voortgaan om die Woord te lees en in gebed ons oopstel vir die leiding van die Gees. Christus regeer immers sy kerk deur sy Woord en Gees.
As moderatuur is ons bewus van die moontlikheid van nuwe spanning en verwarring in gemeentes na aanleiding van die uitspraak van die hof. Daarom bid ons dat die Here vir ons in hierdie tyd met ’n kalme nugterheid sal seën. Ons bid ook dat Hy ons sal help om mekaar vas te hou en mekaar met respek en opregte omgee te hanteer. Ons het by die afgelope vergadering van die moderamen beleef dat ons geleer het om te midde van verskille, beter na mekaar te luister en by mekaar te leer.
Ten spyte van ons beste bedoelings maak ons dikwels foute met die uitkoms dat mense seerkry. Selfs al was dié slegte uitkomste onbedoeld, het gelowiges deur die eeue reageer deur hulle skuld te bely. Om te sê dat ons jammer is, is nie vir gelowiges vernederend nie, maar bevrydend. Ons ís jammer. Matteus 5:3 sê immers: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Die lydenstyd bied ook ’n wonderlike geleentheid vir verootmoediging en besinning. Die Heilige Gees het gelowiges nog altyd in tye van broosheid die lewegewende genade van God laat herontdek en met nuwe wysheid en geloof vorentoe laat gaan. Profete soos Jesaja en Jeremia het in die tye toe die volk van die Here op hulle brooste was, die uitkoms uit die verte gesien kom. Ons is oortuig dat alles wat die afgelope tyd gebeur het, ons veel nader bring aan ’n punt van gehoorsaamheid, geregtigheid en vrede. Laat ons intussen gehoorsaam bly aan ons roeping. Ons hoor merkwaardige getuienisse van die Here se werke in en deur ons gemeentes.
Ons bid vir julle.
In Christus
Nelis Janse van Rensburg, Frederick Marais, Charl Stander, Francois Herselman, Melanie Thirion, Frik Bosman, Riana Furniss, Marié Britz, Bossie Minnaar, Gielie Loubser