19 Maart 2020
Brief van die Moderatuur
Pastorale BRIEF VAN DIE MODERATUUR
VAN DIE SINODE VAN WES-KAAPLAND
Koronavirus is ‘n kairos-oomblik vir gelowiges
Leef asof jy en ander die koronavirus het
Geliefdes in die Here Jesus Christus
Paulus moedig die gemeente in Kolosse aan tot volhardende gebed, waaksaamheid, dankbaarheid en oop deure vir die evangelie terwyl hy in gedwonge isolasie in die tronk is (Kolossense 4:2-6). Hy moedig die gemeente tot wyse optrede teenoor vreemdelinge aan en dat hulle, net soos hy, die beste gebruik van elke geleentheid (kairos-oomblik) sal maak. “Nou is die tyd om die hoop wat ons in Christus het te verkondig,” se hy in soveel woorde. Krisisoomblikke is dikwels ook tye vol geleenthede, om die evangelie nie net te verkondig nie, maar ook te leef.
Een kans
Ons het een kans om met nugtere pro-aktiewe optrede die verspreiding van die virus te verlangsaam. Daarom behoort ons nie die minimum vereistes van die regering na te streef nie, maar die maksimum te doen en die ekstra myl te loop. As dit met verantwoordelikheid gedoen word, kan ‘n eskalerende situasie spoedig omgedraai word. Dit vra van ons almal om, so vinnig as moontlik en so beslis as moontlik, maatreëls te tref wat sosiale en fisiese kontak tussen mense te beperk.
Die aard van die virus is uniek. Daarom vra dit ook van ons deernis en buitengewoon verantwoordelike optrede. Anders as onder normale omstandighede beteken deernis in hierdie konteks om sosiale en fisiese kontak sover as moontlik te beperk.
Ontkenning en vrees
Met die realiteit van die korona-virus en maatreëls wat nasionaal aangekondig is, is dit ‘n tyd om met groot verantwoordelikheid op te tree. Alle ontkenning van die omvang en die erns van die virus is onverskillig en ons roep gemeentes op om die realiteit in die oë te kyk. Draers van die hoop van die evangelie behoort hulle te weerhou van onverskillige teologiese- en geloofsuitsprake, soos dat die uitbraak van die virus ‘n voorbeeld van God se straf is. Ons missionale roeping vra in hierdie omstandighede van ons om kreatief na geleenthede te soek om ons medemens in nood te bedien, te versorg en te ondersteun. Ons vertrou dat die Gees plaaslike gemeentes hierin sal lei. Ons ontvang graag terugvoer van gemeentes sodat ons dit in die sisteem kan versprei. Ons het van prof. Cas Wepener ‘n artikel ontvang oor hoe die kerk 100 jaar gelede in ? soortgelyke situasie met kreatiwiteit aanpassings gemaak het.
Riglyne vir eredienste (en ander samekomste) in hierdie tyd
Eredienste is die hart van gemeentewees. Ons doen ‘n beroep op gemeentes om nie voort te gaan met hul gebruiklike eredienste nie, maar binne hulle konteks maatreëls te tref dat die evangelie steeds aan mense verkondig kan word, sonder die samekoms van groot groepe mense.
Die afstel van eredienste kan moontlike finansiële implikasies vir gemeentes inhou. Daarom doen ons ‘n beroep op lidmate om maniere te vind om voort te gaan om hul offers vir die Here te gee. Gemeentes wat erg geknou word hierdeur word herinner aan die bestaan van die gemeenteondersteuningsfonds waar aansoek gedoen kan word vir finansiele ondersteuning. Die Saakgelastigde (bossie@kaapkerk.co.za) kan ook gekontak word vir meer inligting oor maniere van offervaardigheid en hulp.
Riglyne vir gemeentes wat betrokke is by bejaarde- en kindersorg, uitreike en ander gemeenskapsbetrokkenheid
Die Diensgroep Diaconia het saam met Badisa gedink oor wat ‘n verantwoordelike betrokkenheid in hierdie tyd van gemeentes vra. Die riglyne help veral gemeentes wat betrokke is by outehuise, kinderhuise, kleuterskole en kwesbare gemeenskappe. Badisa se spesifieke riglyne word tans intern gekommunikeer en kan van eerskomende Woensdag af bekom word by www.badisa.org.za. Die unieke uitdaging in die Suid-Afrikaanse konteks is die ongelykheid in die beskikbaarheid van en toegang tot hulpbronne, asook die feit dat arm gemeenskappe die meeste uitgelewer is in hierdie krisistyd. Die harde werklikheid is dat die meeste Suid-Afrikaners, wat lidmate van ons kerkfamilie insluit, afhanklik is van hul daaglikse/weeklikse inkomste om te oorleef. Lidmate wie sulke werkers in diens het word opgeroep om aan hulle hul normale lone te betaal, al kan hulle nie hulle normale werk verrig nie. Waardevolle riglyne en inligting is deur die Taakspan vir Publieke Getuienis beskikbaar by www.publiekegetuienis.org/nuus.
Riglyne ten opsigte van sinodale geboue, personeel, vergaderings en reisreëlings
In die lig van bogenoemde het die sinodale diensgroepe soos volg besluit:
- Alle VBO-kursusse en konferensies is tot einde April opgeskort. Daar sal pogings aangewend word om d.m.v. Streaming inligting deur te gee.
- Alle binnelandse en buitelandse vlugte is opgeskort. Alle personeel wat onlangs internasionaal gevlieg het, word versoek om hulleself vir twee weke in isolasie te plaas.
- By sinodale geboue is daar toegangsbeheer wat insluit handewas en die neem van koors.
- Alle sinodale vergaderings word tot die minimum beperk deur die benutting van telefoonkonferensies of streaming.
Verdere riglyne en opvolgskrywes
Ons sal soos nodig, opvolg skrywes aan u stuur, asook in Vrydagnuus rapporteer soos die situasie verander en nuwe inligting beskikbaar raak. U is ook welkom om idees en voorstelle te stuur oor wat u gemeente doen om die bediening voort te sit en uit te reik.
Die moderatuur
Sinode van Wes-Kaapland