23 Mei 2019
Matteus 5-7: Die Bergrede
Oor ‘n week is dit Pinkster. Dan kom ons vir vyf aande (saam met die twee Sondae altesaam sewe geleenthede) in die kerk bymekaar. Dis natuurlik ‘n baie belangrike geleentheid op ons kalender, wat al ‘n baie ver pad kom – so ver soos die Groot Herlewing van die 1860s! In daardie tyd het ‘n dominee van die Paarl ‘n gesig gesien wat aanleiding gegee het tot iets wat uniek aan ons kerk is, en al is die reekse bietjie ingekort met die verloop van jare (aanvanklik was dit natuurlik tien aande) bly dit steeds ‘n tyd van hernieude toewyding en oorgawe in ons kerk. Baie van ons kan getuig van wat Pinksterreekse in die verlede al vir ons beteken het! En natuurlik bied dit ook vir die dominee wat daarvoor verantwoordelik is, ‘n wonderlike geleentheid om vir ‘n week lank dít te doen waarvoor ons eintlik geroep is: om die Woord te verkondig.
Dis nou al ‘n paar jaar wat ek loop met die begeerte om ‘n reeks aan die Bergrede te wy, maar elke keer is dit nog op die agtergrond gedruk deur ander temas wat die Here op my hart geplaas het. Vanjaar is dit sulke tyd, en ek is baie opgewonde en aangegryp deur hierdie unieke deel van die Bybel.
Waarom dan nou so opgewonde oor die Bergrede? Wel, eksegete is dit eens dat die Bergrede die hart van die Matteus-evangelie is. Dis selfs al “die Grondwet van die Koninkryk van God” genoem. As jy dit verstaan, verstaan jy die Evangelie. Wat jou dadelik opval, is dat dit ‘n ontsaglik praktiese deel van die Bybel is. Jy kan dit nie deurlees sonder om te sien dat dissipelskap ‘n ontsaglike praktiese saak is nie. Christenskap gaan nie oor ‘n oppervlakkige woord-belydenis nie, maar oor ons hele lewe, skrywe iemand hieroor. Dit maak die Bergrede ontsaglik relevant, selfs in 2019, twintig eeue later!
Een probleem is natuurlik dat die Bergrede maklik verkeerd verstaan word. Jy moet dit in sy konteks lees, om te verstaan dat ons hier die direkte gevolg van die koms van die koninkryk in ons lewe het, en nie ‘n “nuwe wet” soos dit al te dikwels voorgehou word nie. Jesus kom gee nie vir sy dissipels handevol nuwe (eintlik onmoontlike!) opdragte nie, maar kom illustreer vir ons die verskil wat die koninkryk in ons lewe maak. Jy sal met my saamstem, dis heeltemal iets anders!
Natuurlik is daar nog iets wat ‘n mens opval wanneer jy die Bergrede lees: die radikaliteit daarvan. As jy ooit gedink het ‘n mens kan Jesus volg sonder dat dit veel implikasies vir jou lewe sal hê en jou veel sal verontrief, is dit regtig hoog tyd dat jy die Bergrede lees. Jesus hou hier geen versuikerde beeld van dissipelskap voor om mense te probeer oortuig om Hom te volg nie. Hy teken vir ons in duidelike lyne die radikale werklikheid dat dissipelskap beteken om jou kruis op te neem en Hom te volg (Matteus 10:38).
Toe Jesus op die toneel verskyn het, was dit met die aardskuddende boodskap dat die koninkryk van God tot by ons gekom het. Hiermee spel Hy vir ons uit wat dit prakties in ons lewe beteken. Vir my was dit al klaar ‘n opwindende reis saam met die Here. Ek nooi jou om van 2 Junie af daarin met my te kom deel.