Matteus 5:1-11: Die Saligsprekinge

Datum: 2 Junie 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Twee millenia gelede het daar ‘n aardskuddende ding in Palestina gebeur. In Palestina, van alle plekke! Onthou, dit was ‘n agterlike landjie, op die rand van die beskawing. En net soos vandag, was hulle toe eintlik ook net vir een ding bekend, en dit was moeilikheid. Toe het niemand nog geweet daar’s olie nie, en dit was niemand se droomvakansie-bestemming nie. Eerder ‘n plek om te vermy.

Toe verskyn daar ‘n snaakse, half-wilde man op die toneel. Van sy klere en sy dieët kon jy sien hy is ‘n profeet, en net soos die profete van die Ou Testament het hy almal aangemoedig om hulle te bekeer en God toe te laat om hulle te red. Maar hy het iets anders ook gesê wat niemand nog ooit gesê het nie – hy het verkondig dat God se koninkryk baie naby is, en dat die Messias enige oomblik sou kom.

Een mooi dag daar langs die Jordaan verstar hy skielik en stop halfpad deur sy sin. In ‘n harde stem roep hy: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” En so begin ‘n nuwe era, wat alles kom verander. Wat Johannes belowe het, het waar geword. En toe Jesus begin preek, was dít presies wat Hy gesê het: Die Koninkryk van God is hier! God het ingekom in ons deurmekaar wêreld, in ons lewens, om weer die beheer oor te neem, net soos destyds in die paradys!

En toe Jesus begin preek, was dit presies wat Hy sy dissipels geleer het. Sy heel eerste preek, daar teen die berg, is dít wat Hy vir sy dissipels gesê het. Hy het hulle geleer wat dit beteken dat die Koninkryk van God hier is, wat die implikasies daarvan is, dat God nou regtig ons Koning is. En hieroor gaan ons nou vir sewe geleenthede praat.

Vandag gaan dit oor die Saligsprekings. Maar weet jy ooit dat Matteus 5 nie al plek in die Bybel is waar ons saligsprekings kry nie? Om die waarheid te sê, dit kom altesaam 44 maal in die Bybel voor. Maar hier in Matteus 5 is dit anders. Want hier kom die saligsprekings direk uit die mond van Jesus. Hierdie is dus méér as net die goeie wense, wat ons mekaar toewens. Dis toeseggings uit die mond van Jesus. Wanneer Jesus jou gelukkig noem, IS jy gelukkig. Of eintlik is jy selfs méér as dit. Dalk onthou jy nog die woord van 1933-vertaling: “welgeluksalig”. Want die Griekse woord Makarios beteken meer as net gelukkig. Dit beteken hemels gelukkig. En dis wat die koninkryk van God vir ons gebring het: In die koninkryk van God maak Jesus ons makarios. Welgeluksalig. Hemels gelukkig.

  1. Die Saligsprekings is geen “nuwe wet” nie.

Maar een ding moet jy tog mooi verstaan. Want daar is al baie gesê dat Jesus hier ‘n nuwe wetgewer is. Hy klim net soos Moses op die berg om vir sy mense ‘n nuwe wet te gee, nuwe reëls waarvolgens ons moet lewe om deel te hê aan sy koninkryk. As dit waar is, móét jy treur, as jy die hemel wil ervaar. Maar wie dit so verstaan, vergeet dat die saligsprekings deel van die Evangelie is. Dat Matteus hier net soos in die res van die evangelie, vertel van genade. Dit gaan oor God wat gee, en nie oor Jesus wat ‘n nuwe, sware las op ons kom lê nie.

In die koninkryk kom gee Jesus vir ons nuwe lewensmoontlikhede. Hy kom gee vir ons die kans om deur die vernuwing van die Gees anders te kan wees. As jy deel het aan die Ryk van God, as jy die koningskap van God oor jou lewe aanvaar, en God regtig jou Koning maak, kom seën Jesus jou met ‘n lewe wat al meer lyk soos sy eie. Dis wat Matteus 5 sê. Hy kom maak ‘n verskil – al die verskil!

  1. Wat is dit wat God vir sy kinders belowe?

Maar kom ons praat bietjie daaroor. Wat behels dié nuwe lewe? En nou het ek ongelukkig bietjie van ‘n probleem. Sien, jy kan maklik ‘n hele Pinksterreeks net oor die Saligsprekings doen. Johan het my vertel dat hy presies dit lank gelede gedoen het. Maar vanjaar wil ons bietjie breër kyk en die goue drade soek wat dwarsdeur al die saligsprekings loop. Wat is dit wat God vir ons toesê?

Die eerste ding wat Hy vir ons in sy ryk gee, is Vergiffenis. As Hy in die middelpunt van jou lewe staan, sal jy leer wat ware vergiffenis is, en sal jy sy teenwoordigheid elke oomblik geniet. Die tweede ding is Troos, vir die wat besef hulle kan nie hulleself red nie. Hulle kan maar rustig wees, en weet Hy sal hulle red. En dan gee Hy Die nuwe aarde vir hulle wat op Hom vertrou, en alles aan Hom oorgee. Hy gee ook Geregtigheid vir elkeen wat nie nie onreg duld nie, maar aktief werk dat reg sal geskied, wat keer vir die wat nie vr hulleself kan keer nie. Hy gee ook sy Barmhartigheid vir hulle wat deernis vir ander het. En Hy gee sy selfopenbaring vir elkeen wat homself onverdeeld aan Hom gee, en so sal hulle Hom al beter leer ken. En sy Vrede, aan elkeen wat vrede skep en net op Hom vertrou, en dit nie nodig vind om hulleself te handhaaf en op hulle perdjie te spring oor alles nie. En natuurlik gee Hy die hemel vir hulle wat Hom volg, al kos dit wát.

  1. Jesus belowe nie hemel op aarde nie.

Ek wens so ons kon elkeen van hierdie saligsprekinge in detail bekyk. Maar die belangrikste wat jy moet onthou, is dat dit nie nuwe reëls is wat ons slaafs moet navolg, en wat ons in elk geval nooit gaan regkry nie. Hierdie is nie wette nie; dis geskenke vir elkeen in God se ryk. Hy gee dit vir jou, as jy Hom jou Koning maak.

Maar let tog daarop dat die Here nêrens belowe alles sal net altyd voor die wind gaan met sy kinders nie. Kyk, Jesus praat ook hier in vers 10 van die vervolging wat wag vir sy kinders. Daar kom ook donker dae kom vir hulle, maar met een belangrike verskil: Hy belowe dat hulle nooit ooit alleen daar sal deurgaan nie. Hy belowe Hy sal vir ewig daar wees –sy beloftes eindig nie die dag as ons doodgaan nie, maar ons ontvang dan juis die volle omvang van wat Hy ons belowe!

  1. Die radikale andersheid van diddipelskap.

Maar jy moet nog iets raaksien in die Saligsprekings, en dit is dat hulle heel uniek is. Met elkeen van hulle keer Jesus die natuurlike orde van ons wêreld totaal op sy kop om. Ons dink nie gewoonlik dat mense wat treur welgeluksalig is nie. Ons is eerder jammer vir hulle! Daarby kry die sagmoediges net een ding: daar word op hulle getrap. Reinheid van hart is nie juis ‘n aanbeveling nie, vredemakers wat nie op hulle regte staan nie, is ‘n klein bietjie pateties, en regtig waar, om die laaste ding jy iemand wat vervolg word, sou noem is geseënd!

Maar Jesus doen dit. Want die Koninkryk van God keer ons bekende orde totaal om. Jesus kom leer ons dat die illusies wat hierdie wêreld najaag niks meer as ‘n seepbel is nie. Mag en rykdom wat almal so najaag, maak niemand gelukkig nie, en status kan in ‘n oomblik wegval. As jy jou lewensgeluk daarop bou, skaats jy op baie dun ys. Want wêreldse geluk en voorspoed gaan gou verby. Dit kan ons nie makarios maak nie. Ons geluk lê in totale onvoorwaardelike afhanklikheid van God. Dit lê daarin om te wees soos Jesus.

  1. Saligheid is méér as ‘n privaat aangeleentheid.

En dan is daar nog een laaste les aan die saligsprekinge. Ons dink baie keer dat wat vir ons saligheid belangrik is, is net ons verhouding met God. Eintlik tel net jou geestelike lewe. En dis natuurlik waar! Want dis na alles presies waaroor die eerste groep van hierdie saligsprekinge ook gaan: dit poraat oor innerlike vrede, oor ons verhouding met God. Dit gaan oor ons afhanklikheid van God, oor ons wete dat ons Hom as Verlosser nodig het. Dis waar alles begin. Jou welgeluksaligheid begin inderdaad tussen jou en God.

Maar dit eindig nie daar nie. Want in die tweede deel van die saligsprekings gaan oor menseverhoudinge en oor dade –dit gaan oor hoe jy teenoor ander mense optree. Dissipelskap, volgelingskap van Jesus, raak ten nouste jou gedrag teenoor die ander. Of jy aktief reg en geregtigheid nastreef, of jy barmhartig is, of jy rein lewe en vrede najaag. In die koninkryk van God is jou verhouding teenoor ander onlosmaaklik deel van jou godsdiens. Wie dit nog nie verstaan nie, gaan nooit die welgeluksaligheid ken wat God vir sy kinders wil gee nie.

Die Saligsprekings is Evangelie. Dis goeie nuus. Dit vertel van God se seën oor sy kinders. Maar dit kom daag ons ook uit, vir ons wat juis so dikwels die welgeluksaligheid mis in ons lewens, wat so dikwels smag na méér in ons geestelike lewe. Dit kom leer ons dat die antwoord is om te laat gaan, om prys te gee, om oor te stap van ons aardse bestaan in die nuwe domein in, waar God werklik regeer, en waar ek en jy in afhanklikheid van Hom elke dag mag lewe, en bly wees. Want dis wonderlik, om deel van God se nuwe ryk te wees!

AMEN