Matteus 5:13-16 Sout en lig vir die wêreld.

Datum: 2 Junie 2019 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

Wat ons vanoggend gesê het oor die Saligsprekinge, is net so waar van hierdie vier verse van Matteus 5. Die gevaar is altyd daar dat jy hulle maklik verkeerd kan verstaan. Want op hulle eie, buite die konteks waarin dit staan, klink dit ook maklik soos ‘n “nuwe wet”. Dan is Jesus die nuwe wetgewer, wat soos Moses die berg op is om vir sy mense nuwe gebooie te gee. Nuwe reëls om te gehoorsaam. Maar onthou, dis die Evangelie dié. Dit gaan oor die genade van God, wat ons red.

Die probleem is natuurlik: as jy ‘n wet hiervan maak, gaan dit jou ontsaglik moedeloos maak. Want jy sal nooit uit jou eie sout kan wees nie, en jou liggie sal hoogstens net so dofweg gloei. Dis hoekom jy heeltyd in jou agterkop moet hou dat die Bergrede die direkte uitvloeisel is van Jesus se aankondiging dat God se koninkryk hier is. Dis Evangelie. Dis Goeie nuus.

Maar miskien moet ek eers verduidelik. Wat is die konteks waarvan ek aanmekaar praat? In die eerste plek is die konteks natuurlik Jesus se eerste preek, die Bergrede. Daarby gaan die hele Matteus 1-7 daaroor, dat die koninkryk van God tot by ons gekom het. Dis dus hoe jy Matteus 5:13-16 moet lees: ons is sout omdat die koninkryk gekom het! Dis nie ‘n eis vir buitestaanders om te gehoorsaam nie – Jesus stel hier ‘n voldonge feit oor die lewe van koninkryksmense.

  1. Waarom sout / lig?

Ons is die sout en die lig van die wêreld. Maar nou moet ons oppas dat ons nie nou oor sout begin gesels, asof dit vir Jesus hier oor sout gaan nie. Die versoeking is groot om die teks te vergeestelik en oor sout te begin praat, en dan allerlei interessanthede oor sout noem, en hulle op ons geestelike lewe begin projekteer. Ons kan sê dat sout smaak gee, dat dit bederfwerend is, en nog alnder goed oor sout. En dieselfde van die lig. Lig wys ons die pad, dit laat ons veilig voel, en maak lewe en groei moontlik. Sout en lig is wonderlike goed, wat ons regtig nodig het.

Maar dis nie waaroor dit gaan nie. Want wat die Here hier vir ons wil sê, is dat sout ‘n verskil maak, omdat dit anders is. Jy kan sout nie eintlik mis nie. Ewe min as lig in die donker. Want sout maak ‘n verskil. Sout maak kos anders. Dis hoekom Jesus ons hier so ernstig waarsku om nie ons andersheid te verloor nie.

Iemand sê terloops vir my dat suiwer sout nie kan verslaan nie. Dit verander nooit van samestelling nie. Maar die sout wat Jesus se volgelinge geken het, was baie minder suiwer, en kon al te maklik sy andersheid verloor. Dan was dit doodgewoon en maak dit geen verskil nie. Dit kon net sowel nie daar gewees het nie.

Matteus kom vertel vir ons dat Jesus God se koninkryk tot by ons gebring het, en ek en jy mag nou deel daarvan wees. God se koninkryk is aan die kom in ons wêreld en jy mag daarin deel en ‘n verskil maak. Gaan verteenwoordig dan vir Jesus daar en dra sy vrug. Dán is jy sout vir die wêreld...

  1. Word wat jy is.

Maar weet jy wat is vir my die heel wonderlikste van hierdie 4 verse? Kyk mooi - dit sê nêrens: julle moet die sout wees, en julle moet die lig vir die wêreld wees nie. Hierdie is nie ‘n opdrag, ‘n wet nie. Dis ‘n stelling: Julle IS die sout  en julle IS die lig vir die aarde. Dis nie ‘n opdrag nie - dis ‘n feit! As dit ‘n opdrag was, kon jy dalk kies of jy as Christen dit wil wees. Maar nou is hier van geen keuse sprake nie. Daar is geen opsie daarin, en ook geen keuse nie.

Dis wie jy is, as jy deel het aan die koninkryk van God. Dis wat Jesus se kruisdood jou gemaak het, van die dag af toe jy Hom as Verlosser en Koning van jou lewe aangeneem het. Van toe af IS jy sout en lig vir die wêreld! Vir jou om laf te raak, om soutloos wêreldgelykvormig te raak, is om jouself te verloën - erger nog, om die Koning van die Koninkryk te verloën. Die dag wat jy ophou anders wees, trek jy ‘n streep deur die feit dat Jesus gekom het, en God se koninkryk hier kom vestig het. Dis absolute ondankbaarheid vir alles wat Jesus vir jou gedoen het en gee.

Maar op die ou end is die absolute wonder wanneer Jesus hier praat van ons goeie werke wat mense moet raaksien, sodat hulle vir God die eer kan gee, dat hierdie goeie werke nie jou prestasies is wat jyself reggekry het omdat jy so oulik is nie. Hierdie “Goeie Werke” is geen prestasie nie, dis wat God self binne-in jou doen! Dis as jy maar net is wat Hy jou gemaak het: ‘n nuwe skepping, wat tot sy eer lewe.

  1. Waar laat hierdie teks ons?

En tog maak hierdie wood van Jesus ons baie klein. Dis ‘n teks vir skuldbelydenis. Want ek kyk na myself, en ek besef dat die ondenkbare gebeur het. Ek het dit reggekry om te wees wat ek nie is nie, en om dit wat ek is, so diep weg te steek dat niemand dit sien nie, en ek geen verskil maak nie. Ek val meer dikwels aan die lawwe kant van die skaal, as nie.

En so word hierdie teks ‘n oproep: Ek en jy moet baie stil word voor God, en ‘n slag ernstig nadink, sodat jy kan begin verstaan wie jy is. Jy IS sout en lig vir die wêreld. Waag dit dan, om so te lewe. Waag dit om God te vra om jou al meer sout te maak, jou lig al helderder te maak. Waag dit, om vry te kom, en regtig te lewe. Wees met waagmoed dit wat jy reeds is in Christus!

AMEN