Matteus 4:18-23

Datum: 26 Januarie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

INLEIDING

Visie skerpte word gewoonlik met ’n Snellen kaart gemeet. “normale” visie is 20/20. Dit beteken dat die persoon wat getoets word dieselfde lyn letters sien op 20 voet as die persoon met normale visie op 20 voet.

Ek wil hierdie 20/20 visie verder neem in 2020. Ek wil in 2020 praat oor ’n 20/20 geloofsvisie. My tema vir Pinkster 2020 gaan ook op hierdie 20/20 beginsel geskoei wees. Ek nooi jou dus uit om saam met my in 2020 jou 20/20 geloofsvisie te ontwikkel.

Waar begin dit? Presies waar Moses in die Bybel geplaas word, soos wat Hannes verlede Sondag vir ons die teks oopgebreek het. Inkort, verlede Sondag het ons gehoor van Moses se ontmoetingsplek met die Here. Die plek waar hy kon stil word en hoor wat God vir hom wil sê. Waar is jou ontmoetingsplek met die Here? Ons het ’n ontmoetingsplek nodig waar ons ons 20-20 geloofvisie kan ontwikkel. ’n Veilige plek waar ons die Here duideliker kan sien.

Maar daar is ’n uitdaging hieraan verbonde wanneer ons die Here duideliker begin sien. Wanneer ons 20/20 geloofsvsie al hoe skerper word, wanneer ons die Here en Sy roeping duideliker begin sien, moet ons ’n besluit maak- gaan ons terugbeweeg na ons ou lewens, of gaan ons onsself oorgee in totale afhanklikheid aan die Here?

Kom ons oorweeg vanoggend ’n paar dinge oor ’n 20/20 geloofsvisie wat ons in hierdie Skriflesing geleer word.

MET ‘N 20/20 GELOOFSVISIE SAL JY OPSTAAN EN GAAN WAAR GOD JOU ROEP.

Om agteroor te sit wanneer die Here jou roep grens aan afgodery. Dalk is daar ander prioriteite wat meer saak maak. ’n Gebrek aan 20/20 geloofvisie word veroorsaak deur dinge wat groter waarde het as om die Here voluit te volg. Dalk geniet my gemak, my status en my veiligheid groter waarde as om die Here voluit te dien.

 

Dwarsdeur die Bybel ontmoet ons mense wat opstaan en gaan, waar ook al die Here hulle lei. Abraham, Moses, Esther, Ragab, Jona, die dissipels, Paulus – almal van hulle maak die geloofsprong die onbekende in en konfronteer die uitdagings sodat die Here se dienswerk gedoen kan word. Daardie eerste dissipels waarvan ons vanoggend gelees het, Andréas, Petrus, Jakobus en Johannes sit nie rond op die strand en kyk dat die verf droog word aan hulle skuite nie. Hulle is besig. Hulle het werk wat gedoen moet word. Hulle moet voorsien aan hulle gesinne. Die rekeninge moet betaal word. Ek vermoed dat hulle ook planne vir die naweek gehad het. Hulle het nie Jesus gesoek nie. Jesus was op soek na hulle. Maar hulle sien iets in Jesus, in Sy boodskap en karakter en visie wat daartoe bydra dat hulle dat hulle onmiddellik “JA,” sê en opstaan en gaan. Andréas, Simon Petrus, Jakobus en Johannes staan op en volg vir Jesus want hulle sien vir God in Jesus, en hulle wil weet hoe God hulle kan gebruik tot Sy eer. Wil jy ’n 20/20 geloofvisie hê, dan moet jy in beweging kom en aktief raak wanneer Hy jou roep.

Verlede jaar aan die einde van Augustus het ek vertel van die beplande uitreik na Nuwerus. Na die erediens het Louw de Swardt my gebel. Ds. Chris ek moet saamgaan Nuwerus toe.

Ek kan nie agterbly nie. Ek wil voer saamvat met my. Ek wil deel wees van die uitreik. Louw se plek was bespreek op die Nuwerus uitreik. Tydens die uitreik het hy geblom van vreugde en pure blydskap. Tydens die uitreik was daar tye dat hy hartseer dankbaar was dat hy “JA,” geantwoord het toe die Here geroep het om saam op die uitreik te gaan. Na die uitreik was dit Louw se voorreg om die boom die KOKERBOOM hier in die kerktuin te plant. Vanoggend is Louw se plek leeg in hierdie kerkgebou en wanneer ek verby daardie kokerboom loop dan sien ek vir Louw op die uitreik. Die oudste persoon op die uitreik wat gehoorsaam was toe die Here hom geroep het.

 

MET ’N 20/20 GELOOFSVISE FOKUS JY OP GELEENTHEDE WAT JY NOU HET OM GOD TE DIEN

Dis moeilik om ’n nuwe rigting in jou lewe in te slaan.  Dis moeilik om geleenthede van die hand te wys wat in stryd is met jou 20/20 geloofsvisie. Soms is daar verhoudings wat in die slag bly wanneer jy God se werk begin doen. Daar is moeilike besluite wat jy moet maak om volgens God se wil te leef. Moenie verwag dat mense jou gaan toejuig nie. Mense gaan nie hande klap vir jou nie. Meeste van die tyd gaan mense jou motiewe bevraagteken. Jy kan selfs verwerp voel. Kom ons troos ons daaraan. Iets is verkeerd wanneer ons lewens sin maak vir ongelowiges. Die wêreld se visie vir jou is nie God se visie vir jou nie. Die waardes wat belangrik is vir die wêreld is nie die waardes wat belangrik is vir die koninkryk van Here nie. Wanneer jou lewe sin maak vir ongelowiges, moet jy dalk die vraag vra of jou lewe in lyn is met God se waardes. Lees deur die Bybel en luister na mense se getuienisse en jy sal agterkom dat elke geleentheid wat hulle in hul lewens gehad het, ’n Goddelike -geleentheid was. Elke seëning was ’n geleentheid om God te eer en Hom te verheerlik. Maar so ook elke hartseer-oomblik is ’n geleentheid om eer aan die Here te gee. Smag jy na 20/20 geloofsvsie? Fokus op elke geleentheid om die Here te dien en diensbaar te wees. En hierdie diensbaarheid – ding bring my by die derde en laaste punt.

MET ’N 20-20 GELOOFSVISIE SAL JY GOD VIND WAAR JY DIENSBAAR IS

Kyk wat bied Jesus aan vir Sy nuwe dissipels. Jesus sê nie: “Volg my en Ek sal julle suksesvol, gelukkiger en ryk maak nie. Jesus sê nie: Kom, volg my en ek sal die gesag in Rome aanvat en Israel in ere herstel nie. Jesus het selfs ook nie gesê: Volg my en julle sal wonderwerke kan doen nie. Nee, in verstaanbare eenvoudige taal sê Jesus: Kom, volg my en ek sal julle stuur om julle vissers van mense te word sodat mense nader aan die koninkryk van God getrek kan word. Volg My en Ek sal julle vissers van mense maak. Dit is Jesus se belofte. En die manne los alles en volg Hom. Jesus beloof dit ook aan ons. Wat staan tussen jou en om “JA,” te sê. Ja, vir die Here? Is daar iets wat jy in hierdie gemeente vir die Here kan doen? Gaan kyk weer ’n slag wat in die gemeente plaasvind. Gaan dan na jou veilige plekkie, jou ontmoetingsplek, en vra vir die Here om jou 20/20 geloofsvisie skerper te maak sodat jy sal kan sien waar Hy jou wil gebruik. Dit hoef nie skouspelagtig te wees nie. Die Here gebruik klein geskenkies net soos Hy groot geskenke gebruik. Die beste manier om ’n 20/20 geloofsvisie te ontwikkel is om Hom te vra waar jy diensbaar kan wees. Wat het ons vanoggend gehoor?

Ons hoor dat ons ’n 20/20 geloofsvisie moet ontwikkel sodat ons:

SAL JY OPSTAAN EN GAAN WAAR GOD ONS ROEP.

SAL FOKUS OP GELEENTHEDE WAT ONS NOU HET OM GOD TE DIEN EN,

DAT ONS GOD SAL VIND WAAR ONS DIENSBAAR IS

AMEN