Jesaja 40:1-11 en Lukas 3:4

Datum: 6 Desember 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

PREDIKING

  1. INLEIDING

Wanneer stories gedeel word oor die Weermag van weleer, is daar een woord wat die manne met ontsag vul. VASBYT! Wie van julle kan nog die bloedsweet onthou tydens VASBYT! My nekhare staan regop wanneer ek daaraan dink. VASBYT is nie iets waaraan ons herinner wil word nie. ’n Volle week, sewe dae en en sewe nagte, van baie min slaap waartydens mens se liggaam tot die uiterste beproef was. Dit was ’n tyd toe die manne uit hulle gemaksones geneem is en aan erge fisiese en psigiese druk blootgestel was. Hoeveel keer het sommige manne nie tydens die twee “VASBYTE” wat ek meegemaak het die volgende vrae aanhoudend gevra nie: “Wanneer is die einde in sig? Wanneer hou hierdie nagmerrie op?” Ja, daar was sommige manne wat wou moed opgee. Daar was sommige manne wat net nie meer kon of wou aangaan nie. En natuurlik was hulle deur die instrukteurs aangemoedig om handdoek in te gooi. En wanneer hulle besluit het om op te gee, was hulle onmiddellik uit die groep verwyder. Wat het ek geleer tydens die twee “VASBYTE” wat ek meegemaak het?

Ons het geleer om vir mekaar te sorg. Ons het geleer om in donker tye met hoop te werk. Ons het geleer om onder sulke moeilike omstandighede blymoedig te wees.  Ons het ook geleer om onder druk geduld aan die dag te lê. Want sien, die instrukteurs het ons heeltyd uitgenooi om handdoek in te gooi, terwyl ons gekies het om saam te staan en mekaar te ondersteun. Ons het geleer dat mens nie alleen kan oorleef nie. Mens leef nie alleen op ’n vêrafgeleë eiland nie. Ons het geleer dat ons mekaar nodig het om te oorleef. Ons het geleer dat mens paaie vir mekaar gelyk moet maak eerder as om struikelblokke in mekaar se lewenspaaie te wees.

Maar vriende sewe dae en sewe nagte is nie naastenby so ‘ uitdaging as om vir jare in ballingskap weggevoer te word nie.

  1. DIE BALLINGE MOES OOK VASBYT

Ek het al baie keer gewonder oor die mense in Ballingskap. Hulle eie VASBYT. Hoe het hulle reageer toe hulle uit hul gemaksone verwyder was? Wat het hulle beleef terwyl hulle hul huise moes ontruim. Wat het hulle vir hul kinders gesê terwyl hulle in ballingskap weggevoer is. Wat het hulle gedoen om sin te maak van hulle omstandighede in ’n vreemde land? Hoe het hulle ge-“cope”?

Ons weet dat sommige van die ballinge gekla het. Ons weet dat sommige ballinge gewonder het oor waar God is. Sommige het vir God as ‘n afwesige God beleef. Dalk het hulle soos baie van die manne tydens VASBYT geworstel met vrae: : “Wanneer is die einde in sig? Wanneer hou hierdie nagmerrie op?”

En op ’n dag daag Jesaja op met ’n boodskap van God: TROOS, troos my volk, sê julle God. In die Hebreeuse teks word hierdie troos nie iets soos om iemand vas te hou of ‘n druk op die skouer te gee of om ‘n traan af te droog nie. Nee, dit beteken dat God hulle sagkens hanteer. God werk sag met die ballinge. God bemoedig en versterk hulle. God sien hulle seer en kondig die uitkoms aan. “Julle straf is nou verby.” Julle gaan huis toe. Julle gaan terug na Jerusalem waar my tempel, my huis is. Hierdie woorde is gerig aan ’n volk wat ver van hulle huis af is, wat oortuig was dat God nie meer vir hulle omgee of magtig genoeg is om hulle te red nie. Juda het geworstel met die werklikheid van die vernietiging van die tempel en Jerusalem en hulle geografiese afstand van hulle tuisland af. Binne hierdie situasie kom God met die troos deur sy profeet.

Ek wonder of die ballinge in verwondering gestaan het of was die oomblik dalk te groot en vir hulleself gesê het: “Kan dit regtig waar wees?” Maar God is ’n belofte-houer en die ballinge se wanneer-vrae verander in blydskap en vreugde!

Dalk het daar ook al wanneer-vrae in jou gedagtes rondgemaal: “Wanneer is die einde in sig? Wanneer hou hierdie nagmerrie op?”

  1. 2020 WAS ONS ALMAL SE VASBYT-JAAR

Die afgelope tyd het ek so baie gedink aan 2020 wie se uurglas nou baie vinnig uitloop. Dit was elkeen van ons se eie VASBYT-jaar. Ons was uit ons gemaksones geskud en onder verskriklike druk op vele terreine geplaas. En soos ons vanoggend hier sit is die VIRUS nie weg nie. Die onsigbare vyand is steeds besig om mense aan te val en ons kan nie oorgerus word en dink dat ons virus-bestand is nie. Daar is baie mense wat in hierdie VASBYT jaar ook die vrae gevra het: “Wanneer is die einde in sig? Wanneer hou hierdie nagmerrie op?” Ons is ook getraumatiseerde mense wat soms wonder of God nog kán en wíl red, wat soms deur die pandemie, die nood en geweld in die wêreld oorweldig voel. Ook ons het nodig om te hoor: Troos my volk! Ons het nodig dat God met ons sagkens werk, ons bemoedig en versterk.

Ons troos bestaan uit ’n krip, ’n kruis en ’n leë graf. Ons het vir Jesus, die Waarheid, die Weg en die Lewe. Ons weet dat Jesus terugkom om ons te kom haal! Dit gee my elke daag nuwe krag om my eie VASBYT in die lewe te hanteer.

Maar ons as begenadigdes is ontvangers van die troos-opdrag wat ander moet troos en versterk. In hierdie  VASBYT-jaar moet ons wag vir hulle wat swaarkry en wonder waar is God. Deur dade van liefde, geregtigheid en sagtheid moet ons ook kan uitroep: Kyk, hier is jou God! Hoe gaan ons as gelowiges dit doen in hierdie VASBYT-jaar en verder?

  1. SLOT

Dalk moet ons net drie dinge onthou en doen terwyl ons as padbouers en brugbouers voorbereiding tref vir Jesus se tweede besoek. Terwyl ons VASBYT en leegtes opvul en berge en heuwels platstoot. Terwyl ons VASBYT en draaie reguit maak en klipperige grond glad maak. Terwyl ons VASBYT en die pad deur die woestyn maak, ’n breë en reguit pad dwarsdeur die veld.

Terwyl ons besig is om die pad gereed te maak, moet ons die mense rondom ons versterk en bemoedig en motiveer deur die volgende getuienis uit te dra:

  • Ons as begenadigdes maak die pad gereed deur hoopvol te leef,
  • Ons as begenadigdes maak die pad gereed deur blymoedig te wees en,
  • Ons as begenadigdes maak die pad gereed deur geduld aan die dag te lê.

Met hierdie drie eienskappe gaan ons berge versit en leegtes vul vir ons Koning wat kom! Ons Koning wat ons in sy arms vashou en teen sy bors druk. Hy wat sag met ons werk.

Hoop, blymoedigheid en geduld Dit is wat aan ons kinders oorgedra moet word. Net dit. Ons Koning kom! Ons maak die pad gereed. Dit is Advent!

Amen