Matteus 5:17-48: Nuwe houding teenoor die wet

Datum: 3 Junie 2019 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

Verbeel jou jy sit teen die berg en luister na Jesus. Jy hang aan sy lippe, want alles wat Hy sê, is vir jou nuut. Jy het nog nooit iemand so oor God hoor praat nie. Hy vat Johannes se aardskuddende boodskap wat ons Sondagoggend gehoor het - en neem dit net soveel verder. Hy kom vertel ons van ‘n nuwe era, die era van God se koninkryk wat in Hom by ons gekom het. Dis nou nie meer ‘n onbereikbare ideaal nie. Nie meer ‘n droom van beter dae nie. Dis hier. Want Hy is hier. Maar noodwendig sal jy wonder: wat beteken dit alles regtig?

Natuurlik is sy boodskap radikaal nuut – maar beteken dit dat Jesus eenvoudig ‘n streep trek deur alles wat dit voorafgegaan het? Wat nou van die Ou Testament met sy verhaal van God se trou aan sy mense, en hulle ontroue reaksie daarop – is dit nou alles water onderdeur die meule? Is die era van die tien gebooie nou verby – afgeskaf deur Jesus, sodat ons maar kan vergeet daarvan? Onthou, die mense wat daar na Hom sit en luister, was sielsmoeg vir die wet, en vir die ondraaglik sware pak wat die Fariseërs daarvan gemaak het. Hulle is moeg van net heeltyd weet dat niks wat hulle doen hulle nooit naby God sal kan bring nie.

Maar nou kom sê Jesus so duidelik soos Hy kan: Hy het NIE die wet kom afwater nie. Daar is nie ‘n breuk tussen die Ou en die Nuwe Testament nie. Dis die aaneen-verhaal van God se pad met sy mense, en dit is en bly Woord van God. Inteendeel, Jesus sê sommer reguit: Ek het julle kom leer wat die wet regtig beteken en watter rol dit regtig in ons lewe behoort te speel. Kortom: By Jesus leer ons vir die eerste keer wat ware gehoorsaamheid is...

  1. Tog is die leer van die Bergrede radikaal nuut!

Maar moenie daarom dink dat in God se nuwe ryk niks verander het nie. Want dit hét. Dit wat Jesus ons hier leer oor die wet, is net so nuut, net so radikaal soos die res van die bergrede. Want soos Jesus alles kom herstel het, het Hy ook die wet kom herstel, deur hom weer sy regmatige plek in gelowiges se lewe te kom gee.

Jy sien, die klomp Fariseërs het destyds een baie belangrike punt gemis in Eksodus 20. Hulle was so ingestel op die gebooie, dat hulle skoon die eerste vers misgelees het. Dis daardie opskrif wat sê: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die huis van slawerny, gelei het...”

My genade en my uitverkiesing het eerste gekom, het die Here toe al vir sy volk gesê. En nou IS julle myne. En as my kinders, is dít hoe Ek wil hê julle moet lewe...

En omdat God nooit verander nie, is dit presies wat Matteus 5 ook sê. Want die ingrype van die koninkryk kom heel eerste – voor enige eise. Jesus kom raak eers deel van ons lewe, kom maak ons eers syne, voordat Hy enigiets vra. Daarom is hierdie eindeloos meer as net ‘n nuwe wet, met nuwe eise wat Hy aan ons kom stel. Want eers kom lê God volledig op jou beslag, en dan kan Hy dit van jou vra, wat jy is syne! Belangriker nog: jy kan dit selfs nou gehoorsaam!

Dis hoekom Jesus hier vra dat ons gehoorsaamheid méér moet wees as dié van die Jode: nie omdat ons soeter is as hulle of meer gebooie gehoorsaam nie, maar omdat Christenskap ons hele lewe omvat. Dit raak elke greintjie daarvan. Daarom kan daar ook nooit by ons sprake wees van belangrike en minder belangrike eise nie. Alles wat God vra, is vir my belangrik. Niks in my lewe tel meer as God se wil nie. In alles wil ek lewe soos Hy vra, Hom eer deur my keuses en my optrede.

  1. Jesus vra nie nuwe, verbeterde modelle van Fariseërs nie

Jesus kom maak nie van ons nuwe, verbeterde modelle van Fariseërs, sodat ons hele lewe net om die wet sal draai, om elke klein reëltjie desperaat te probeer najaag om God se guns te wen nie. Natuurlik was hulle ook baie ernstig oor die wet, maar hulle het dit heeltemal misverstaan. Hulle het nooit verstaan dat genade gehoorsaamheid voorafgaan nie. En dis wat Jesus jou nou kom leer: God het ons éérs gegryp het en syne gemaak, en nou kan ons daarom tot sy eer lewe.

Maar dis ‘n fout om te dink ons is daarom minder gepla oor wat God vra. Want net so absoluut onverdiend, absoluut radikaal soos God se genade is, net so radikaal moet my en jou toewyding en gehoorsaamheid noodwendig ook wees! ‘n Alles-omvattende gehoorsaamheid, wat in alles God se wil soek en doen. Enigiets anders is net ‘n karikatuur.

  1. Die oproep is om onsself te verloor in gehoorsaamheid.

En wanneer dit tyd raak om jouself af te vra: presies wat vra Jesus hier van ons wat sy dissipels is? Dan kom jy agter hoe naby hierdie gedeelte aansluit by die Saligsprekings. Ten diepste is hierdie gedeelte nie eens soseer ‘n opdrag nie. Dis eerder ‘n troos. Hierdie gedeelte herinner my en jou dat dit nie meer nodig is om onsself te handhaaf nie. Jy het ‘n Vader in die hemel wat vir jou keer; jy hoef nie meer vir jouself te keer nie. Trouens, jy moenie meer vir jouself keer nie – jy moet Hom vertrou. Almal om jou is nie meer potensiële opponente nie. Jy is vry om lief te hê. Jy kan maar liefhê, want God het jou eerste liefgehad. En Hy sal jou altyd liefhê...

Ook in ons persoonlike verhoudings, gaan dit nie meer om verdienste en beloning nie. Die dae van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand is verby. Dit pas by heidene. Nee, ons verhoudinge werk glad nie meer so nie. Vir ons is genade nou eenvoudig alles... Want in die eerste plek het ons genade onbeskryflik groot ontvang, wat vir ons die lewe gee en vir ons die hemel oopsluit. En daarom, leer Jesus ons, kan ons ook genade aan mekaar bewys. Selfs aan ons vyande...

Vergeet van jouself handhaaf en jou man staan. Vergeet van bitsige kwaai antwoorde, van nie op jou laat trap nie. Jy is nou in die koninkryk, en in koninkrykskinders se woordeskat is daar geen belangriker woord as versoening nie. Want hoe meer jy vrede maak, hoe meer jy versoening najaag, hoe meer lyk jy na ons Vader...

AMEN