Matteus 6:1-6: Goeie Dade
Datum: 4 Junie 2019 (Aanddiens)
Prediker: Hannes Burger
Kom ek herinner jou aan die laaste versie waarmee ons gisteraand geeïndig het. Dis so half of daardie vers nog hier in die lug bly hang het, selfs nadat julle almal julle koppie sop ingehad, en weer terug by die huis was. Want dis nie die soort versie wat jy maar net kan lees en dan die Bybel toemaak en daarvan vergeet nie. Dis die soort versie wat by jou spook, en jou amper laat wonder of jy reg gehoor het. Jesus sluit sy gesprek oor die wet af met die woorde: “Wees julle dan volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Jy moet regtig baie blazé wees, as dit jou nie vierspoor laat vassteek nie. Want as jy al ooit ‘n radikale woord gehoor het, dan is dit hierdie een. Dit laat geen ruimte vir enige kompromie nie. Dit duld geen flou verskonings nie. Dit sny deur tot op die been. Wees volmaak, soos jou hemelse Vader volmaak is. En dít is wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees. Geen kompromie, en geen verskoning. Wees volmaak, soos God...
Natuurlik weet ons nog heeltyd dat God volmaak is – in eindelose opsigte en in alles wat Hy doen. Maar Jesus dink hier veral aan die manier waarop God liefhet. En jy hoef nie ver te soek na ‘n voorbeeld daarvan nie – kyk maar net in die spieël. Jy weet tog jy verdien nie God se liefde en sy barmhartigheid nie. Ook nie sy eindelose geduld en barmhartigheid nie. Jy verdien nie dat Hy jou oor en oor dieselfde goed vergewe, selfs dit wat jy nooit eens bely het nie. Jy verdien regtig nie God se liefde nie. En nou is presies dít jou Rolmodel...
- Godsdiens is nie privaat aangeleentheid
Jesus help ons hier in die Bergrede om te verstaan dat Godsdiens nie net ‘n “geestelike” saak tussen jou en God is nie. Die stil word voor God, die gebede van oorgawe, en pleit om vergiffenis, die herhaalde toewyding, daardie oomblikke van stilte saam met God is vir seker belangrik en kosbaar. Maar dis nie al waaroor godsdiens gaan nie.
Ek en jy moet begin verstaan dat jy God net soveel dien deur hoe jy optree teenoor ander mense. Dis net soveel godsdiens as jou gebede en jou lofliedere in die kerk. God word net soveel gedien as jy iemand anders se trane raaksien.
Toe daardie Samaritaan sy rydier stop in die bergpas, en sy onmiddellike reisplan net daar kanselleer en sy kosbare tyd gee vir die een wat langs die pad lê, beoefen Hy godsdiens in die suiwerste sin van die woord. Al kan jy eintlik niks meer konkreet doen, as net om te luister en die ander se trane af te droog nie, net stil te staan en te luister. Dis Godsdiens. Wanneer jou eie gerief nie meer die belangrikste is nie, en jy jouself in iemand anders se skoene plaas, sodat dit vir jou onmoontlik raak om te oordeel, dís Godsdiens. Godsdiens is ‘n gebedslys wat vol is van ander mense se swaarkry.
Onthou jy hoe Jakobus geskrywe het oor ware Godsdiens? “Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.” Godsdiens is om die nood raak te sien van die magteloses wat nie vir hulleself kan keer nie, en ‘n verskil te maak. Klink dit vir jou na moeite en ongerieflik? Baie gevra? Dan het jy reg geluister. Niemand het ooit gesê jy kan ‘n dissipel wees in gemakstoel voor die TV nie...
- Maar Godsdiens is ook nie ‘n toeskouersport nie.
Maar ongelukkig is ons mos maar mense. En daar is seker baie redes hoekom jy ander mense sou wou help. Dalk wil jy maar net hê mense moet sien watter wonderlike mens jy is. Of dalk hoop jy heimlik dat die persoon jou darem een of ander tyd sal terugbetaal - veral as jy dalk self bietjie in die knyp raak.
Maar hier staan: ware Godsdiens is nie ‘n toneelstuk nie. Die Grieks impliseer hier: ons is nie akteurs nie. Ons speel nie ‘n rol om mense te beïndruk nie! Ons wil om die waarheid te sê, hoegenaamd glad nie aandag trek nie, want dit gaan nie meer om ons nie! Dit gaan om God, en om sy koninkryk en sy eer. Dis waarom Jesus sê: Die aandagtrekker het klaar sy loon weg: Hy is “Ten volle betaal” staan hier.
- Daar is ‘n verskil tussen godsdienstige dade en geloofsdade.
God vra nie van ons godsdienstige dade nie. Hy vra geloofsdade. Godsdienstige dade probeer God en mense beïndruk, en geloofsdade doen jy eenvoudig net omdat jy ‘n nuwe mens is. Omdat jy so vol van die Gees is, dat jy nie anders kan nie. Jou optrede as gelowige moet só spontaan wees, dat nie eens jyself van jou eie liefdadigheid weet nie! Daar is niks geforseerd aan nie, niks berekend nie.
Onthou jy dat Jesus gisteraand vir ons vertel het van gehoorsaamheid wat méér moet wees as die Fariseër s’n? Dit moet ons hele lewe oordek, spontaan uitstraal uit elke faset van jou lewe.
Dis wat Jesus bedoel met méér geregtigheid. Dis wanneer jou hele lewe so aan God behoort, dat elke oomblik van jou dag ‘n Godsdiens-oomblik word. Jy moenie eens daaraan dink om Jesus se voorbeeld te probeer volg nie – jy moet dit net lééf.
Die afgelope Saterdag lees ek in die briewekolom ‘n brierf van iemand wat vir Christene vra wanneer hulle gaan begin erken dat die Bybel maar net ‘n menslike boek is, vol menslike stories. Ek self sou hom natuurlik nie antwoord nie, maar ek het myself tog afgevra: Wat sou ek vir hom wou sê? En die antwoord is kort en kragtig: Ek is regtig intens jammer! As jy na al die jare se kontak met Christene nog so dink, het ons jou ernstig gefaal. In die steek gelaat. Want ons lewens moes by jou geen twyfel gelaat het oor die krag van God se Woord nie.
Godsdiens is ‘n wandel voor God, en nie wandel voor die mense nie... Want die nuwe era is hier, God se koninkryk het gekom. En in God se Nuwe Ryk, lewe ons vir net één motief: ons lewe vir Hom, en volg Hom na in alles. Daarom dien ons Hom deur ons naaste te dien. Ons doen dit net. Ongevraagd en sonder om enigiets terug te verwag. Net soos Jesus gedoen het...
AMEN