Matteus 6:5-15: Die Ons Vader

Datum: 5 Junie 2019 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

Die volgende aspek van die lewe in die koninkryk wat Jesus in die Bergrede aanroer, is gebed. En nou was gebed natuurlik vir nie een van die dissipels daar vreemd nie. Want as toegewyde Jode het hulle almal gebid. Maar weereens, het Jesus anders gepraat oor gebed - net so radikaal nuut as die res van die Bergrede. Want alles het nou verander. In God se ryk is daar ‘n heel nuwe verhouding tussen ons en God. Daar was nou nie meer ‘n muur tussen ons en God waaroor jy as’t ware moes probeer bid nie, nie meer ‘n diep kloof waaroor ons mos bid nie. Met die vrye toegang wat Jesus vir ons bewerk het, kan Hy ons op ‘n radikaal nuwe manier met God leer praat.

Dit was totaal nuut. So radikaal dat dit elkeen van die dissipels daar regop laat sit het. Só het niemand nog ooit met God gepraat nie! Selfs ek en jy weet ‘n mens kan baie aflei van die verhouding tussen twee mense, wanneer jy hulle hoor gesels. Jy praat mos anders met jou lewensmaat, of jou beste vriend, as wat jy met die verkeersman praat wat jou langs die pad aftrek. Jy praat anders met jou pa, en vir seker met jou hemelse Vader, as met enigiemand anders. En daarom is ons gebedslewe die één ding wat die heel duidelikste wys waar ons met God staan. Jou lewe van nederige afhanklikheid voor die Here wys die heel duidelikste wanneer jy met God gesels....

Maar nou slaan Jesus klaar ons asem weg as Hy ons leer begin met “ons Vader wat in die hemel is”. Want daar is geen manier wat jy self ooit met God sou kon praat nie! En dit mag ook nooit vir jou vanselfsprekend raak om met God so te praat nie. Dis net deur Jesus wat ons so kan bid. Net omdat Jesus sy koninkryk tot by ons gebring het, sodat ons deel daarvan mag wees, mag ons sê: “Ons Vader, wat in die hemel woon...”

  1. Natuurlik kan ons baie lank gesels oor die gebed wat Jesus ons hier leer.

Maar as ek nou die aand ‘n probleem gehad het om al die Saligsprekinge in te pas in een diens, is ek vanaand niks beter af nie. Baie Pinksterreekse is al net oor hierdie 11 verse gemaak! Jy kan oor elkeen van hierdie bede ‘n preek op sy eie maak, en ‘n hele aand in verwondering net daarby stilstaan. So ryk aan betekenis is die nuwe groot gebed van die koninkryk. Maar sekerlik sal ons dit nie vanaand kan doen nie. Ons kan hoogstens ‘n paar hooflyne trek.

So nou gaan ons eers weer die goue draad soek, en vir onsself afvra: Wat wil die Heilige Gees vanaand hê moet ons raaksien in die “Ons Vader”-gebed?

  1. Waarom noem ons God “Ons Vader”?

En dan steek jy maar weer vas by hierdie aangrypende begin. Die wonder dat Jesus ons leer om net ons oë te sluit en te sê: “Ons Vader”. Want daar kan nie ‘n duideliker voorbeeld van nederige afhanklikheid en kinderlike vertroue wees as hierdie twee woordjies nie. Dis nie die taal van ‘n selfversorgende persoon wat op sy eie voete kan staan nie. Nee, dis die taal van ‘n kindjie, wat weet dat hy sy pa ontsettend nodig het, maar ook dat sy pa hom bo alles ontsaglik lief het. Om te sê “ons Vader” is om al jou gewaande grootheid te laat gaan, al jou onafhanklikheid prys te gee. Dis ‘n belydenis van wie ons is in die koninkryk, en wie God is...

Maar dis net so belangrik dat die gebed begin met die woordjie “Ons”: Want gebed snoer ons saam. In God se koninkryk is ons almal kinders van God, familie. Daarom, as jy bid, bid jy nooit op jou eie nie. Jy bid altyd saam met ander. En bid jy ook nooit net vir jouself en jou eie behoeftes nie. Want ware gebed, leer Jesus ons, is nie op jouself gerig nie, maar in die eerste plek op die Vader wat jy aanspreek... en dan verder, op die ander wat jy liefhet soos jy jouself liefhet!

Natuurlik sou mens ook verkeerd kon bid. En selfsugtige gebed is verkeerd. Natuurlik beteken dit nie dat God natuurlik ook daardie skietgebedjie hoor wat jy in jou nood opskiet voordat hulle jou instoot in die operasiesaal nie, maar wat dit wel beteken, is dat jou gebedslewe nie net om jouself en jou eie mense mag draai nie. Ons het mekaar nodig. Ook in gebed tot Ons Vader...

  1. Gebed is ‘n stuk blootstelling voor God.

Maar op die ou end staan daar veral een ding oor die “Ons Vader”-gebed geskryf, wat jy nie kan miskyk nie. Dié van blootgestel staan voor God. Dis ‘n gebed wat getuig van ons afhanklikheid, ons gebrokenheid en ons broosheid, en ook ons magteloosheid en ons nood. Die “Ons Vader”-gebed is ‘n kreet tot God, ons Rots en ons Redder, wat nooit sy kinders vergeet nie, maar elke woord hoor wat ons prewel, hoe onvolmaak ook al. En ons mag maar met ons Vader praat, want Hy het ons genooi om oor niks besorg te wees nie, maar in alles ons begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend te maak. En dis presies wat jy bely in hierdie woorde op jou lippe: Hy is ons Vader, wat in die hemel woon...

Maar juis omdat hierdie gebed ‘n belydenis van totale afhanklikheid is, is dit ook ‘n kreet van hoop: terwyl jy dit op jou lippe neem, weet jy jy staan nie alleen in hierdie donker wêreld nie!

Jesus het God se koninkryk tot by ons gebring; Hy het God se plan met ons wêreld waar kom maak. Wanneer jy dus die gebed van die koninkryk bid, bid jy daarmee vir ‘n radikaal nuwe bedeling, in jou eie lewe en in jou huis, maar ook in ons land en ons wêreld. Jy mag maar bid dat sy koninkryk sal kom in jou huis, en sy wil daar geskied soos in die hemel. En jy bid dit omdat jy wéét dat die duisternis nie die laaste woord sal hê nie, maar dat God se koninkryk sal triomfeer. Want ons het ‘n Vader in die hemel...

Maar dis ook ‘n gebed wat ons in nederigheid en afhanklikheid prewel, wanneer Jesus ons geleer het om te bid: Nie my wil nie, maar u wil. En dis dalk die grootste belydenis van ons volle vertroue in Ons Vader, wanneer ons dit bid: Laat u koninkryk kom, en laat u wil geskied. Dis al wat ons vra...

AMEN

Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

Gee ons vandag

ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings

soos ons ook dié vergewe

wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die Koninkryk

En die krag en die heerlikheid

Tot in ewigheid

AMEN