Matteus 6:19-34: Die materiële

Datum: 6 Junie 2019 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

As jy hierdie gedeelte vinnig deurlees, is dit nogal regtig moeilik om daardie goue draad te vind waarna ons elke aand soek. Dit lyk nogal op die oog af of dit eintlik net ‘n klomp losstaande uitlatings is, wat oënskynlik min met mekaar in gemeen het. Jesus praat hier van aardse goed en skatte in die hemel, van die oog wat die lig van jou liggaam is, en van bekommernisse wat maklik jou vrede kan steel, selfs al is jy reeds deel van die koninkryk van God.

Maar miskien is juis dít die goue draad waarna ons soek. Want ons moet steeds die hele tyd onthou dat hierdie tweede deel van Matteus 6 nog steeds deel is van die Bergrede, van Jesus se groot preek oor die koninkryk van God. En as jy mooi kyk, kom jy agter dit sluit eintlik baie nou aan by die “Ons Vader”-gebed wat Hy ons so pas geleer het. Die tema is steeds die koninkryk van God, waarvoor Hy ons so pas leer bid het, in die tweede bede van die Ons Vader: “Laat u koninkryk kom...”.

Maar dit bring Jesus by die groot toets. Vir my en jou, wat so pas gebid het vir die koms van die koninkryk. Nou kom die groot toetsvraag na ons toe: Jy het gebid om die koninkryk, maar waar presies lê jou hart nou eintlik?

Want dis tog vanselfsprekend, dat jy nie deel kan hê aan God se radikale nuwe bestel, en steeds krampagtig bly vasklou aan dieselfde tydelike, aardse goed wat jou lewe tot nou toe bepaal het nie! Hoe kan jy dan deel hê aan God se nuwe, ewige ryk terwyl jy verknog bly aan goed wat ons almal weet sal vergaan, wat jy nie met jou kan saamneem nie? – Jy weet tog die ou mense het gesê ‘n doodskleed het nie sakke nie! Jy kan nie vlieg in God se nuwe ryk, as jy steeds steeds aan die aarde geanker is, steeds vasgesuig sit in aardse goed nie.

  1. ‘n Mens kan op verskillende maniere verknog wees aan goed:

Maar jy moet ook weet dat hierdie verslawing verskeie vorme aanneem. Die een moontlikheid is dat dit die vorm aanneem van ‘n desperate sug na meer, wat jou lewe oorneem totdat alles later vir jou daarom draai. Totdat alles later daaraan onderworpe is. Want ongelukkig is Mammon ‘n wrede baas. Hy slurp alles op vir homself: jou tyd, jou gesondheid, jou verhoudings, jou vrede, ja jou lewe self. Hy maak van jou sy slaaf, en die hele tyd dink jy dat jy eintlik besig is om net na jouself om te sien.

Hebsug maak dit totaal onmoontlik om te lewe in God se nuwe ryk. Want in God se nuwe ryk is Hy die Koning. En solank jy geld najaag, is jy eintlik besig om materiële te dien, om vir Mammon te dien. Dan is hy jou god. En mag ek maar vir jou sê: Sterkte dan vir jou! Want as jy vir geld kies, vir Mammon kies, kies jy ‘n harde baas. En kies jy vir die ryk van motte en roes en skelms... Jy sal geen vrede ken en nooit ‘n oog kan toemaak nie, want as dít jou skatte is, kies jy vir die verganklike, wat in ‘n oogwenk soos ‘n seepbel kan bars. En jou met leë hande agterlaat.

Die toets is eenvoudig. Al stel ek dit vir jou met huiwering, want jy weet mos ons dominees mos nie so graag daaroor nie. Maar vanaand moet ek vir jou sê: Jou dankoffer aan die Here wys waar jou hart lê. Dis die toets. ‘n Beledigende aalmoesie wat maak dat die werk van die koninkryk skade ly, is ‘n simptoom dat Mammon nog in jou lewe hoogty vier. As jy regtig wil lewe in die konikryk, regtig vry kom, sal jy moet kyk daarna, en waag om ‘n bietjie met die Here te praat daaroor. Jy dink dalk dis jou eie saak wat jy met jou eie geld maak, en jy is dalk nie veel gepla of die kerk se boeke klop nie, maar dit gaan oor baie meer as dit. Dit gaan oor waar jou hart lê...

  1. Maar jy kan ook verknog wees deurdat kommer jou lewe kenmerk.

Maar natuurlik is dit nie net die staatskapers en die ander ouens wie se lewe net om geld draai, wat Mammon aanbid nie. Dis eindeloos meer subtiel as dit. Want daar is nog ‘n ander manier, waarop Mammon ook sy kloue in jou lewe kan inslaan. Dis heelwat meer subtiel. En dis as jy jouself morsdood bekommer oor môre en oor geld. Want dis ook ‘n manier Waarop die marteriële jou lewe kan oorheers en so jou afgod raak. Want dit wys maar net jy vertrou nog nie regtig die Here nie.

En dit is presies net so verlammend as afgodery. Want dis kleingeloof - niks anders nie. Die tyd wat jy spandeer om jouself te kwel oor aardse goed, is ‘n simptoom daarvan dat jy God nog nie regtig vertrou nie. Want jy weet mos dat God selfs vir die mossies sorg. Jy weet dat Hy die lelies hier langs die pad in Bottelary, wat niemand eers daar geplant het en versorg nie, mooier klee was wat jy met die duurste, spoggerigste aandrok kan doen.

In die koninkryk van God, vertrou ons ons Vader. Hy sorg vir sy kinders. Vir ewig.

  1. Jy het dan geleer bid om die koms van die Koninkryk...

Maar daar is ook ‘n ander manier waarop ‘n mens hierdie gedeelte van die bergrede verkeerd kan verstaan. Jy kan dalk besluit dis eintlik net die hemel wat belangrik is. Alles hier op aarde, en geld in die besonder, is dan eintlik boos. En dis regtig nie wat die Evangelie ons leer nie. Inteendeel.

Die Jesus leer ons dat God ons in beheer gestel het van dit wat Hy op aarde aan ons toevertrou het. Dis regtig nie verkeerd dat jy geld het nie. Selfs dat jy baie geld het nie. Hy gee juis ruim aan ons, sodat ons in die eerste plek vir onsself kan sorg en nie vir ander ‘n las moet wees nie, maar ook verder, sodat ons hande oop kan gaan om ook ander te dien en te versorg.

Op die ou end is die vraag nie of die sonde is om geld te hê of nie. Die eintlike vraag wat Jesus hier vra, is: wat staan in die middel van jóú lewe? Waaroor gaan dit vir jou? En dan kom roep Jesus ons op: dis tyd om God te begin vertrou. Dis tyd om eerste van alles die koninkryk te soek. In eenvoudige Afrikaans beteken dit: Maak eers seker dat God Koning is van elke faset van jou lewe... en vertrou Hom dan volkome. Vertrou Hom dat Hy vir jou en jou mense sal sorg. “Soek allereers die koninkryk van God, en sy geregtigheid. Wat julle nodig het, sal die Vader dan vir julle gee uit sy oorvloed...”

AMEN