Matteus 7:13-29: Die twee paaie

Datum: 9 Junie 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

Dalk dink jy baie dae ons kweekskooldosente het darem maar swak werk gedoen toe hulle ons klomp leer preek het. Dalk wonder jy selfs by tye of dit nie dalk juis die preekklasse is wat ons benut het om bietjie koffie te gaan drink nie. Want dit klink dalk vir jou asof ons daardie spesifieke periodes ‘n bietjie minder gereeld bygewoon het. Maar weet jy, dis nie waar nie - ek was nogal party keer daar. En selfs vandag nog is daar ‘n dingetjie of twee wat hulle my so goed ingedril het, dat ek tot vandag toe onthou. So is dit byvoorbeeld by ons ingeskerp hoe belangrik ‘n preek se inleiding is – Dis verskriklik belangrik dat jy jou gemeente se aandag sommer dadelik kry. Maar dan is die afsluiting ook presies net so belangrik.

En dis baie waar. ‘n Preek se laaste paragraaf is waarskynlik naas die inleiding, die heel belangrikste van die hele preek. Want dis die woorde waarmee jy in jou ore huis toe gaan. Jou slotparagraaf moet as’t ware die spyker finaal inkap, mense moet dit heeldag onthou, en nog weer daaroor dink. Dis met hierdie slotparagraaf wat jy hulle huis toe stuur. Let wel: dis wat ons probeer. Ek sê nie ons kry dit altyd reg nie. Dis wat ons gehoor het en dis wat ons probeer.

Nou wat dan nou van daardie allergrootste preek van alle tye, die Bergrede? Ons kon vir ses geleenthede in verwondering luister na die grootste prediker van alle tye, Jesus self. Hoe dink jy, gaan Hy hierdie wonderlike preek afsluit? Wat gaan die slotpunt wees wat Hy wil maak, om sy luisteraars daarmee huis toe te stuur?

  1. Hy laat sy dissipels eers vir oulaas toets skryf...

Eintlik het ons Donderdagaand en Vrydagoggend al opgemerk dat Jesus as Rabbi ‘n baie goeie onderwyser-ding doen. Hy eindig sy lering deur sy luisteraars toets te laat aflê. Nou dat ek daaraan dink, dalk moet ons dit oorweeg om julle elke week eers laat toets skrywe voordat julle huis toe mag gaan, net om seker te maak julle was wakker. Of miskien ook nie. Maar in elk geval: dis wat Jesus hier doen. Hier aan die einde van die Bergrede kom daag Hy ons uit met ‘n toets. En wat is die groot toets na alles wat Hy gesê het? Wat gaan evalueer en wys of jy Hom regtig gehoor het en verstaan het wat die implikasies van die koms van die Koninkryk is? En nou kom gebruik Jesus ‘n wonderlik eenvoudige beeld wat enige kind sal kan verstaan. Hy sê vir hulle: ‘n Boom word aan sy vrugte geken...

Laat ons dit mou maar reguit vir mekaar sê: Die Here laat Hom nie deur die uiterlike beïndruk nie. Jesus verwys daarna as “skaapsklere”. Dit help nie jy probeer die ware jy vir God wegsteek agter ‘n fraaie uiterlike, wat lyk asof jy ‘n wonderlike gelowige mens is nie. Dis ook opvallend dat Jesus ook nie evalueer hoe jy voel oor die koninkryk, asof godsdiens ‘n saak van die hart is, los van jou daaglikse lewe, iets heel apart, nie.

Nee, wat God toets, is jou lewe. Wys jou optrede elke dag regtig dat jy nou sy kind is. Die bewys van die egtheid van jou dissipelskap is hoe jy lewe. Jy kan al die regte geluide maak, en mense dalk in die proses vreeslik beïndruk met jou mooi belydenis, maar op die ou end is dit sy vrugte waaraan ‘n boom geken word. ‘n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en ‘n slegte boom dra nie goeie vrugte nie.

Dis nie vir ons nuus nie. Ons ken bome. En ons is al lank genoeg deel van die kerk dat ons darem een of ander tyd al hierdie uitspraak van Jesus gehoor het. Jy weet ‘n boom word aan sy vrugte geken. Maar nou sit ons vanoggend hier. Nadat ons ‘n wonderlike week agter die rug het, ‘n wonderlike reis saam met die Gees deur die Bergrede. Jy kon ‘n week lank aan die voete van Jesus sit, en saamluister na die bergrede. En nou kom die toets vir jóú ook vanoggend. Watter soort boom is jy? Watter vrugte dra jy?

Maar nou kan dit natuurlik baie goed beteken. Maar wat sou jy sê, na hierdie wonderlike week saam met Jesus, wat is die implikasies van God se koninkryk vir ons lewe? Watter vrugte dink jy, is dit wat Hy in hierdie toets aan die bome van ons lewe kom soek? In eenvoudige Afrikaans: wat wys of jy regtig Jesus se dissipel is? Twee goed: dis ‘n lewe wat gekenmerk word deur verdraagsaamheid en liefde.

  1. Vandaar die ernstige waarskuwing hier aan die einde van die Bergrede

En hier kom som Jesus vir ons die hele Bergrede in een enkele sinnetjie op. En dis wel aan die einde van die Bergrede, maar dis ook reg aan die begin van sy openbare bediening. Want jy sien, dis die eerste ding wat elke voornemende dissipel van dag een af moet weet. Geloof is nie ‘n praat-saak nie, dis ‘n doen-saak. Om te sê “Here, Here!” is nie genoeg nie. Selfs al doen jy groot geloofsdade in die Here se Naam, is dit nie vir God deurslaggewend nie. Selfs nie al dryf jy duiwels uit en bid siekes gesond in sy Naam nie. Dis nog altyd nie waaragter God is in jou lewe nie.

Die vraag is of Jesus jou regtig geken het... Dis of jy regtig in ‘n verhouding met die Here geleef het. Ons visie noem dit: “Leef in die voetspore van Jesus”.

  1. Wat is dan die konklusie van die Bergrede?

Dit kom neer op twee dinge, sê Jesus. Jy moet hoor en wandel, staan daar in vers 24. En as jy dit doen, gee dit jou lewe ‘n fondasie wat teen enige storm bestand sal wees. Want storms sal daar wel kom, want ons lewe in ‘n stukkende, deurmekaar wêreld, maar as jy jou lewe op die Rots gebou het sal jy staande kan bly. Dan sal die storms in jou lewe kom en gaan. Ek kyk elke keer ‘n vuurtoring soos die een by Agulhas so en wonder ek: hoeveel vreesaanjaende storms het jy al gesien? En steeds staan jy. Steeds skyn jou lig, om matrose te waarsku en hulle lewens te red. As jou lewe op die rots Jesus Christus bou, hoef jy nie vir die storms bang te wees nie. Jy sal tot in ewigheid vas staan.

En so kom ons dan eindelik aan die einde van die Bergrede. En daar lees ons dat die mense wat die dag na Jesus geluister het, almal verdwaas gestaan het. Só iets het hulle nog nooit gehoor nie! En dis presies die effek wat die Bergrede vandag, in 2019, nog altyd op mens het. As jy regtig luister na Jesus se woorde in die die Bergrede, laat dit jou nuut dink, anders dink oor Godsdiens! Dit bring jou op jou knieë. Dit lei jou tot ‘n radikale oorgawe. Alles vir die Here – want Hy gee alles vir ons...

Die slegste ding wat nou kan gebeur, is dat jy hier uitstap en maar net aangaan met jou lewe asof niks gebeur het nie. Asof Jesus nie met jou gepraat het nie, en asof Hy nooit die koninkryk van God tot by ons gebring het nie. Asof die Heilige Gees jou nooit aangespreek het nie, en dit alles net ‘n futiele oefening was. As dit in jou lewe gebeur, sal dit voorwaar ‘n ramp wees...

AMEN