Jesaja 2: 1-22

Datum: 22 November 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

“Vir ‘n video opname van die Kersvideo kliek hier om dit te kyk”

Inleiding:

Nog steeds werk dinge vanjaar darem net anders as wat ons ander jare gewoond was. Onthou jy nog dat ons hierdie tyd van die jaar normaalweg sou begin regmaak vir die vakansie wat voorlê? Ons sou baie bewus wees daarvan dat Kersfees nader kom, en die kinders sou al uitsien na die einde van die eksamens. En die skoolsluiting. Maar nie vanjaar nie. Heel waarskynlik het jy nog nie eens gedink aan die kersboom wat normaalweg teen die tyd al amper opgetooi gestaan het nie. Soos als vanjaar lyk my gaan 2020 maar end-uit vreemd en deurmekaar wees.

 

Maar moet nou nie jou kleinkinders vergeet nie, en loop grawe tog maar daardie kersboompie uit. Net sodat iets darem normaal kan lyk in ons huis. Of dalk ook nie regtig net vir die kleinkinders nie – want en moet erken ekself is dalk die een wat in my huis loshande die meeste opgewonde raak oor die liggies en die kersboom. En as daar dalk nog iewers iemand is wat gehoor het dis ‘n heidense gebruik wat ons nie behoort te doen nie, moet jy jou ook nie daaraan te veel steur nie. Want ‘n Kersboom vertel ons immers van die lig wat na ons wêreld toe gekom het, en dis tog die groot boodskap van Kersfees!

 

  1. Die hele Kersverhaal gaan oor lig

Eintlik gaan die hele Kersverhaal oor lig. Alles in die Kersverhaal draai om lig. Kyk maar wat sê Jesaja al oor Kersfees: Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.”  Wat ‘n pragtige prentjie! Jesaja beskrywe vir ons eeue voor daardie eerste kersnag al hoe die lig van Jesus op Kersdag sou deurbreek in ons donker wêreld van sonde en die dood! En wanneer Johannes vir ons die verhaal van Jesus begin vertel begin hy self deur vir ons te sê: “Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.”

 

Dis waaroor Kersfees gaan. Dis die wonder van Kersfees. God het nooit van ons verwag om ons donker wêreld te verlig nie, want ons sou dit nooit regkry nie. Nee, God stuur self die Lig na die wêreld toe in Jesus Christus. Daardie oomblik wat Jesus in Betlehem gebore word, breek die lig deur so seker soos die lig die nag die velde rondom Betlehem helder verlig het. Vir ons, ons wat in die donkerte van sonde en verlorenheid vasgekeer gesit het, stuur God vir Jesus, en Hy verdryf die donkerte en breek die muur tussen ons en God af, sodat ons elke dag in God se lig kan lewe. Dis hoekom Jesus Homself “die Lig van die wêreld” noem, daardie lig wat op Kersdag deel van ons lewe geword het.

 

En lig bring vreugde. Ons kan jubel, want, sê Jesaja, “vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.”

 

God het die ware lig, wat elke mens sou verlig, na ons wêreld toe gestuur. Ek en jy hoef nie in hierdie Kerstyd die lig te probeer skep, of selfs die lig te probeer wees nie. Nee, al wat God vra, is in vers 5: Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.”  Of om weer Johannes aan te haal: Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.”

 

Ons wêreld was vanjaar donker op ‘n skaal wat ons nog nooit geken het nie. En nou raak dit Kersfees. Kom ons hang die boompies vol liggies en onthou dat Jesus die Lig van die wêreld vir ons in Betlehem gebore is. En kom laat ons lewe in hierdie lig….

 

  1. Daar is baie wat dreig om die lig te verduister

Ongelukkig is daar natuurlik baie dinge in ons wêreld wat dreig om die lig van Kersfees te verduister. Jesaja self haal hier as voorbeelde ‘n hele paar aan. Hy praat begin in vers 7 by die silwer en goud. Vandag noem ons dit materialisme, wat drieg om die eenvoudige boodskap van Kersfees te verswelg in ‘n eindelose stroom van blink kantalogusse en inkopiedae voor Kersfees. ‘n Buitestander sou baie maklik dink alles gaan eintlik net oor geld - selfs party keer in ons eie huise. Hoe het dit gebeur? Hoe het ons die idee laat vastig dat alles rondom Kersfees net om geld draai. Dis nóú die tyd om dit om te keer.

 

Maar dis natuurlik nie net geld en die gees van materialisme wat dreig om die lig van Kersfees uit te doof nie. Jesaja noem naas die goud en silwer ook nog die perde en strydwaens: instrumente van geweld, van roof en moord en doodslag. En ons sien dit sien hier reg om ons. Mense word beroof en vermoor en seergemaak. Die lied van die engele wat vertel van die vrede van God, word doodgeskreeu deur hoofopskrifte wat vertel van oorloë en geweld en verkragting. Al die swaarkry om ons maak dit soms moeilik om nog ongekwalifiseerd bly te wees oor die Lig van God wat mens geword en onder ons kom woon het.

 

En ‘n derde ding wat Jesaja hier in vers 8 noem is afgodery, wat hy oral om hom sien: die duidelike tekens dat mense geen erg meer aan God het nie. En laat ons maar eerlik wees: ons kan ook dít nie miskyk nie. Ons het so baie keer vir mekaar gesê dat God hard met die mensdom praat deur Covid 19, maar hoeveel dink jy het ons regtig daarvan kop toe gevat? Die meeste mense het vandag net nie meer regtig behoefte aan die Here se teenwoordigheid nie. Ons bly maar dink ons kan maar op ons eie regkom, en ons hoor nie as Hy ons terugroep nie.

 

Maar dan bely ek en jy ook elke Sondag dat Jesus nog wéér ‘n keer gaan kom. Kersfees herinner ons daaraan dat Jesus weer terugkom na ons wêreld wat deur materialisme op sleeptou geneem is, wat deur geweld geteister word en wat al verder van Hom af lewe. Maar hierdie tweede keer kom Hy om te oordeel, dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ook daaraan herinner dit ons as ons die liggies van Kersfees sien, dat ons elke dag ook sy tweede koms moet verwag.

 

  1. Hoe gaan ons hierdie Kersfees anders maak as al die ander?

Wat vra God dan van ons in hierdie Kerstyd? Die antwoord staan duidelik, swart op wit, hier in Jesaja 2: Gaan lewe hierdie Kersfees in God se lig. Maar hoe doen mens dit?

 

Miskien bêre Jesaja die héél belangrikste ding oor Kersfees tot die heel laaste. En dis die feit dat Kersfees eintlik vir kinders is. Miskien help die liggies en die tinsel daarmee, om nie van die geskenke te praat nie. Maar Kersfees is bowenal ‘n fees vir kinders. Jy kan by hulle gaan leer hoe om opgewonde te wees oor Kersfees, aangegryp te word deur die wonder van die Kersverhaal, deur God se Seun wat as ‘n babatjie in ‘n krip lê, terwyl die engele buite sing oor die liefde van God.

 

Maar die grootste rede hoekom Kersfees vir kinders is, is omdat daar geen plek vir hoogmoed en selfversekerdheid langs die krip is nie. Daar is net plek vir klein mensies, wat hulle in stille verwondering en oorgawe kan vergaap aan die liefde van God, wat in hierdie babatjie tot by ons gekom het. Aan daardie klein mensie wat later die sondes van die hele wêreld op Hom geneem het, sodat ons kan lewe. Alleen as jy dít verstaan, gaan jy, soos die herders, ‘n ander mens weg van die stal. Vol vreugde en wonder oor die grootheid van God se genade en liefde. Want Kersfees is vir kinders. En dís wanneer die vrede op aarde, vir “die mense in wie God ‘n welbehae het” ook oor jou en jou huis neerdaal.

 

Mag jy en jou gesin ‘n wonderlik geseënde Kerstyd beleef!

AMEN