Kolossense 3:1–17

Datum: 9 November 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Daar is iets besonders aan nuwe klere, nè? ’n Mens voel sommer anders – vars, selfversekerd, nuut. Maar daar is ook ’n tyd wanneer ou klere nie meer pas nie. Dalk het jy ’n T-hemp wat nie meer heeltemal oor die skouers pas nie, omdat jy nou ouer is.  Paulus gebruik presies daardie beeld in Kolossense 3. Hy sê: as julle saam met Christus opgewek is, dan hoort julle lewe nou by Hom. Dis tyd om die ou klere van die ou mens uit te trek, en die nuwe klere van die nuwe mens aan te trek.

 

  1. Soek die dinge daarbo – leef vanuit Christus se perspektief

Paulus begin met die woorde: “1Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.”

 

Om “die dinge daarbo” te soek, beteken om jou lewe hier op aarde te leef met die hemel se bril op – om jou gesin, jou werk, jou konflik, selfs jou woede, te sien deur die lens van wie Christus is.

 

  1. Af met die ou klere – los wat nie meer pas nie

Paulus sê dit baie duidelik: “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.”

 

Om gewortel in Christus te wees, beteken om doelbewus afstand te doen van dit wat sy beeld verduister.  Dis soos om ou klere uit te trek wat vol gate en vuil is – dit lyk dalk nog bekend, maar dit pas nie meer nie. Jy is ‘n nuwe mens, het ’n nuwe identiteit, en dit vra nuwe klere.

 

  1. Aan met die nuwe – leef wat jy reeds is

“leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God”

 

Dis ’n pragtige belofte: Ons kan nou as nuwe mense leef. Dit is ook nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, ons word voortdurend nuut gemaak. Elke dag is daar iets van Christus wat meer vorm kry in jou. God het vir jou ’n splinternuwe uitrusting gee – maar jy moet dit aantrek! Jy kan nie net in die kas kyk en sê: “Dis mooi klere” nie. Jy moet dit aantrek, leef, uitdra.

 

  1. ’n Nuwe styl van lewe – vol vrede en dankbaarheid

Wanneer ons die nuwe lewe aantrek, verander nie net ons gedrag nie, maar ook die atmosfeer waarin ons leef: “Laat die vrede van Christus in julle harte regeer... en wees dankbaar.” Paulus sluit af met hierdie kragtige riglyn: “Wat julle ook al sê of doen, doen alles in die Naam van die Here Jesus.” Dit is hoe ’n voluit lewe lyk: nie vol dinge nie, maar vol Christus.

 

Om voluit te leef, beteken nie om vinniger te leef nie – dit beteken om dieper te leef. Om in Christus gewortel te wees, beteken dat alles – jou denke, jou dade, jou groei – uit Hom vloei. Elke dag trek ons die ou af, en die nuwe aan. En só, dag vir dag, word die beeld van Christus sigbaar in ons.