1 Korintiërs 15:1-11

Datum: 6 Februarie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Paulus het destyds op een van sy sendingreise die gemeente van Korinte gestig. In Korinte, natuurlik. Dit was ‘n belangrike hoofstad van een van die Romeinse provinsies, ‘n vooruitstrewende plek. Maar kort voor lank moes Paulus vlug vir sy lewe, en moes die gemeentetjie maar eers op sy eie aangaan. Nie dat Paulus alle kontak verloor het met hulle nie. Hy het darem nog van hulle gehoor. En toe kom daar een dag ‘n dik brief van Korinte se gemeenteleiers by hom aan. ‘n Dik brief vol vrae. Die gemeentelede was onseker oor baie goed, en party mense het boonop die geleentheid misbruik om hulle eie stories te begin verkondig eerder as dit wat Paulus hulle geleer het. Nou moes Paulus help met al die kwessies wat verdeeltheid in Korinte veroorsaak het.

 

Soos oor die huwelik, byvoorbeeld. Hoe maak ‘n Christen met ‘n ongelowige maat? En die hele kwessie oor vleis. Alle vleis in die slaghuis is destyds eers aan ‘n god gewy. Maar mag ‘n Christen dit dan nog eet? Dis dan tegnies afgodsoffers! En verder was daar ook vrae oor onderlinge verhoudinge. Hoe gedra ‘n Christen hom teenoor ander? Sodat Paulus toe vir hulle daardie wonderlike 1 Korintiërs 13 geskrywe het, wat ek al by so baie troues moes voorlees.

 

Voor my geestesoog sien ek vir Paulus met ‘n effense glimlaggie om sy mond, terwyl hy ewe geduldig al hierdie vrae antwoord, en mooi verduidelik. Want al was hierdie vrae seker vir die gemeente belangrik, staan of val ons geloof regtig nie by een van hulle nie. Maar dan kom Paulus by 1 Korintiërs 15. En hier verander sy trant totaal. Want hier gaan dit nie oor bysake nie. Hier gaan dit oor die kern van die Evangelie.

 

In Korinte het mense aangekom wat verkondig het dat Jesus nooit regtig opgestaan het uit die dood nie. Dat dit maar stories is wat die dissipels versprei het. En dis nie meer ‘n bysaak nie. Want wanneer Jesus se opstanding in die gedrang kom, val die bodem so min of meer uit ons geloof uit, want dis ons waarborg dat Hy lewe, en dat ons ook uit die dood sal opstaan en lewe! En tog klink hierdie geluide dalk vir jou baie bekend. Want is dit nie presies wat ons ook deesdae al te dikwels hoor nie, en heel dikwels boonop by mense van wie ons dit regtig nie sou verwag nie?

  1. Paulus herinner hulle dat dit ‘n basiese leerstuk van die kerk is.

Dis waarom Paulus so sterk oorkom. Hierdie is ‘n ononderhandelbare kernleerstuk, die hoeksteen van die hele Evangelie. “As Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes” skrywe hy later in hoofstuk 15. Verloën die opstanding van Jesus, en daar bly eintlik niks oor nie. Sy opstanding is ons waarborg dat God sy soenoffer volkome aanvaar het, dat ons met God versoen is en dat daar inderdaad vergiffenis vir al ons sonde is.

 

Dis tog wat ek aan julle verkondig het, skrywe Paulus, en dit is wat julle destyds so aanvaar het. En dis ook nie toevallig nie, want daar is net een rede hoekom julle dit geglo het, en dis omdat die Heilige Gees self julle oortuig het, en julle het julle lewe vir die Here gegee. Dan kan julle nie nou maar net op die ingewing van die oomblik die evangelie aanpas soos dit julle beter pas nie. Dis nie hoe Jesus ons leer glo het nie - Hy het ons geleer om soos kindertjies te glo en te vertrou.

 

Maar dis presies wat die dwaaleraars weier om te doen. Ons kan nie glo wat vir ons onlogies voel nie, het hulle gesê. Ons weier om te glo wat ons nie kan verstaan nie. Dis die toppunt van arrogansie! Jy weet mos daar is baie goed wat ons nooit sal kan verstaan nie. En dit maak dit nie minder waar nie. “There are more things in heaven and earth than are dreamt of in you philosophy” het Hamlet gesê, en dis baie waar. Daar is in elk geval soveel goed wat ons nooit sal kan verstaan nie...

 

  1. Wat is dan nou die kern van wat ons glo?

Dis waarom Paulus die gemeente terugvat na die basiese toe. Byna soos ‘n rekenaar, “reset” hy weer die gemeente. Waaroor gaan dit regtig? Wat is dit wat ons glo en bely? Gaan dit oor wat jy by die slaghuis koop? Gaan dit oor mense se ego’s wat eerder vir hulleself dissipels wil maak eerder as om Jesus te volg? Gaan dit oor myself, en wat vir my aanvaarbaar is en logies klink en wat nie?

 

Nee! Dit gaan daaroor dat God sy Seun na ons wêreld toe gestuur het om ons vry te maak. Dis nie afhanklik van jou verstaan of nie verstaan nie. Dis die onverstaanbare, verbysterende wonder van God se genade en liefde vir mense wat dit nie verdien nie. Dit gaan daaroor dat alle getuies bevestig het dat Jesus regtig dood was toe hulle hom van die kruis afgehaal en in die rotsgraf gebêre het. Daar was geen twyfel daaroor nie. ‘n Romeinse offisier wat daar in bevel was, het self 100% seker gemaak voordat hy Hom laat verwyder het. En na drie dae was die graf leeg, want God het nie toegelaat dat die dood sy Seun gevange hou nie. En as jy glo wat mense sê dat dit blote stories is, misken jy die getuienis van meer as vyf honderd mense wat Hom lewendig gesien het, en belangriker nog, misken jy die krag van God wat groter is as die dood.

Beteken dit dat ek en jy kan verstaan wat op die Paasmôre gebeur het? Natuurlik nie. Watter hoop het ek om te verstaan wat God doen? Ek verstaan nie eens ‘n kar se enjin nie, of hoe ‘n selfoon deesdae eindeloos slimmer as ek is nie. Ek verstaan nie wat daar gebeur het nie, maar ek glo dit. Want niks anders verklaar hoe dat die leer aangaande Jesus soos ‘n veldbrand versprei het, en teen alle teenstand in, mense se lewens omgekeer het nie. Ek verstaan nie hoe ‘n vervolger van Christene in ‘n oogwink ‘n sendeling kan word, tensy daar iets baie spesifiek gebeur het op die Damaskuspad, en Iemand hom daar gekonfronteer het nie.

 

As jy nog nie Lee Strobel se boek “The case for Christ” gelees het nie, kan ek dit vir jou aanbeveel. Hy was ‘n regsgeleerde, wat begin feite versamel het om vir eens en altyd te bewys dat die Evangelie net storietjies is. En op die ou end het die Gees hom teen alle verwagting oortuig, en sy lewe omgekeer. En getuig hy dat geen historiese gebeurtenis naastenby so bo alle twyfel presies gedokumenteer en geboekstaaf is soos die opstanding van Jesus nie. Op die ou end is sy boek ‘n magtige getuienis vir die waarheid van die Evangelie.

 

Vergeet dus van al die bysake wat dikwels vir mense tog so belangrik raak, dat hulle vir jou kan sê hulle kan nie glo nie, want hulle verstaan nie hoe die vis vir Jona kon insluk, of die wreedheid van die Ou Testament nie. Dit gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor Jesus wat vir jou gesterf het en begrawe is, en wat opgestaan het en lewe, sodat Hy nou hier by ons is...!

 

  1. Maar wat van ons, in 2022?

Maar kom ons keer vir oulaas terug na 1 Korintiërs 15 toe. En na ‘n vraag wat ek myself dikwels al afgevra het, as ek die aanvegtings hoor van mense wat tog só oortuigend en só slim is. Die lewensbelangrike vraag: Hoekom glo ek dat Jesus opgestaan het? Dit het my nogal lank by tye gepla. Is dit omdat ek nou maar eenmaal ‘n klein bietjie naïef en liggelowig is? Is dit omdat ek eintlik maar enigiets sal glo wat iemand my probeer wysmaak? As jy my ken, sal jy weet dis nie regtig waar nie. Ek is eerder hopeloos te sinies oor goed, as liggelowig. Nou hoekom glo ek dan nou al vir 45 jaar onwrikbaar dat Jesus uit die dood opgestaan het en lewe?

 

Die antwoord is eenvoudig. Omdat ek iets ervaar het waarvan Paulus hier praat. Dit het met my ook gebeur... Hy vertel hoedat die opgestane Jesus verskyn het eers aan die vroue, toe aan die twaalf, toe aan by die 500 mense. En nou glo hy ook, omdat die Here ook op die ou end aan Hom verskyn het. En ek glo, omdat die lewende Here Homself ook aan my openbaar het. Ek het Hom leer ken omdat Hy sy genade vir my gegee het om Hom te leer ken, en te ervaar hoedat Hy die pad deur sy Gees saam met my stap.

Ek glo dat Hy lewe, omdat ek Hom as lewende Here leer ken het. Daarom is by my geen twyfel nie.

 

Toe Thomas vol vrae was, het Jesus gesê, kom na My toe. Kom raak aan My. En hou op met jou vrae en jou twyfels. Glo net...

 

AMEN