1 Korintiërs 12:4-7(2020 Vertaling)
Datum: 17 Mei 2026 (Oggenddiens)
Prediker: Adriaan Vogel
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
“Wag eers!” Dit was die opdrag wat Jesus vir Sy dissipels gegee
het. Om die presiese woorde van Jesus in Handelinge 1:4-5 aan te haal:
…“Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. [5] Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.””
Elke Christen moet weet dat hulle deur God geroep is om deel te neem aan Sy werke hier op aarde. Dit gesê, is dit belangrik om te onthou dat dit nie 'n taak is wat ons op ons eie aanpak nie. Dit word deur die krag, leiding, groei en ondersteuning van die Heilige Gees gedoen. Daarom is dit so belangrik dat ons moet weet hoe ons in die Gees groei en leef.
Die vergete fees?: Die viering van Christelike feesdae word soms met sekere probleme geassosieer. Paasfees is vakansietyd, Kersfees gaan vir sommige net oor geskenke en Pinksterfees… Ek dink Pinkster as geheel het soms die probleem dat dit “net kerklik” is. Hemelvaart is nie meer 'n vakansiedag nie en sommige mense skrik eers op die dag wakker om dit te onthou.
Vandag se tema: So vandag gaan ons dink oor, “As daar geen Pinkster was nie, was daar ook geen…”. Met ander woorde, ons dink oor wat beteken Pinkster vir ons?
Teks: 1 Korintiërs 12:4-7
Dit het verander: Israel het oorspronklik in die tabernakel en tempel vir God gaan ontmoet. Dit was 'n spesifieke plek, onder spesifieke omstandighede. Met die Gees wat nou in ons woon is dit vir ons duidelik dat ons in 'n nuwe era van bediening leef.
Net so belangrik soos die kruis?: Verstaan ons hoe belangrik die verhaal van Pinkster is? Glo jy my as ek sê dis net so belangrik soos die kruis? Dit is 'n oomblik in die geskiedenis wat God se verhouding met die mens totaal verander het. Voel jy dit in jou lewe?
Gebruik ons dit?: Net omdat jy iets ontvang het, beteken nie jy maak daarvan gebruik nie. Vra maar net vir al die instrumente wat in die kas lê, of elke oefenmasjien wat net 'n klererak geword het.
Pinksterweek: In die week wat voorlê gaan ons kyk na die verskillende maniere hoe die Gees in ons lewe werk. Die gedagte is dat dit soos ’n spieël is wat voor ons gehou word, sodat ons kan onthou wat dit beteken om saam met God te leef.

