PSALM 124
Datum: 23 Augustus 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Gister het ons eerste Roadhouse Basaar plaasgevind. Ons wil vir Mariana, Elmarie en Tim en elke konvenor bedank vir julle harde werk en toewyding. Dankbaarheid is met hoofletters in BOLD oor hierdie briljante fondsinsamelingspoging geskryf. Elkeen wat gister hier was om kos te kom afhaal wil ek ook voor dankie sê. Hierdie is ‘n bewys van De Eike se veerkragtigheid en spanwerk.
Tim Burrows, De Eike se koster en kommunikasiebeampte verjaar in die komende week. Tim, ons wens jou ‘n gelukkige verjaarsdag toe en mag jy die teenwoordigheid van Here in jou lewe beleef.
Iemand vra vir my in die week die volgende vraag: Hoe kan jy in hierdie tyd oor hoop preek? Watter hoop gee jy aan families en naasbestaandes van die Kalahari Tragedie? Dit wat gebeur het is verskriklik! Ek is nie ‘n geestelike swaargewig nie. Ek wil myself nie uitgee as iemand wat vir alles en oor alles antwoorde het nie. Ek het geleer dat mens in sulke tye net ‘n hoop woorde het in plaas van woorde van hoop. Die beste om in so situasie te sê, is om niks te sê nie. Tog glo ek dat hoop vir my ‘n wenstreep-hoop is. Hoop is ‘n toekoms-ding.
Soos wat God vir Habakuk hoop gegee het en Habakuk daardie bekende nogtans gebed bid. Net so het ek hoop met my oë gerig op die wenstreep. Ons is nie hoop-lose mense nie.
Kom ons bid saam.
SKRIFLESING
PSALM 124
PSALMS 122, 123 EN 124 MOET EINTLIK SAAMGELEES WORD. VOOR, TYDENS EN ‘N TERUGBLIK OP DIT WAT WAS
TEMA: AS DIE HERE ONS NIE GEHELP HET NIE
Vlak 2 is aangekondig. Wat het met ons gebeur vanaf daardie dag in Maart hierdie jaar? Om presies te wees, 26 Maart 2020? Dit is ongeveer vyf maande later en ons kyk terug terwyl Netwerk24 ons die afgelope naweek sagkens daaraan herinner het dat ons nog vêr van die eindstreep is.Ons almal moes opoffer. Sommige meer. ‘n Oud Lugmagkollega en vriend, Willem Marais, werk in Rabigh, so 120 kilometer van Jeddah in Saudie Arabië. Hierdie hele tyd is Willem geïsoleer terwyl sy gesin in Suid- Afrika is. En hy verlang....en hy is alleen.. Dit kan nie maklik wees nie. Ek vermoed dat daar vele verhale van seer is wat ons vanoggend met mekaar kan deel.
Tog is daar iets wat ek opgemerk het in die maande wat verby is. Ek het agtergekom dat baie van ons land se mense op sleeptou geneem is met negatiewe en onwelvoeglike uitlatings oor die swak en irrasionele besluite wat deur die regering van die dag gemaak word.
Grappies en baie kru en negatiewe opmerkings word deur die land heen versprei op sosiale media. Wanneer mense met mekaar hieroor praat gly die kras-woorde gemaklik uit hul monde sonder om te skroom, te blik of te bloos.
Gelowiges is mos veronderstel om dieper na dinge te kyk. Met geloofsbrille behoort ander dieper dinge raakgesien te word. Ek merk ook op dat sommige mense se geloofs grammatika ingeperk is. Het ons toegewasemde geloofsbrille in hierdie tyd ? Is ons teologiese grammatika ook in kwarantyn in hierdie grendeltyd?
Hoeveel maal het jy in hierdie grendeltyd die volgende woorde gehoor?: As die Here ons nie gehelp het nie. Hoeveel maal het jy al met hierdie woorde oor jou eie lewe ‘n belydenis gemaak? As die Here my nie gehelp het nie. Of het ons persoonlike omstandighede en ons eie planne en vermoëns in hierdie grendeltyd ons geestelik doof gemaak? Mag dit tog nie wees nie, want ’n mens wat hierdie woorde hoor en wat dit regtig met ’n gelowige hart kan agternasê, is ’n mens wat nie vir die afgronde van die lewe bang is nie.
Kom ons luister vanoggend na hierdie bekende woorde, wat hier as opskrif gebruik word: As die Here ons nie gehelp het nie en vers 8 Ons hulp kom van die Here af. Dis die kernsin van hierdie boodskap. Dis die stukkie geestelike pitkos wat vanoggend aan jou gegee word vir die lewenspad vorentoe: As die Here ons nie gehelp het nie. Kom ons hoor drie dinge by die Psalmis vanoggend.
- Hoe die nood van kinders van God beskryf word;
- Hoe die Here van ondergang red;
- Hoe ons opgeroep word om dit te erken en te bely.
- DIE NOOD.
Kinders van die Here ervaar en beleef ook nood. Daar kom in hulle lewens ook vrees, angs, moeilikhede en probleme.
Hierdie nood kom in baie vorms:
- in allerhande vorms van fisiese bedreigings en liggaamlike swaarkry;
- ook in verskillende vorms van emosionele pyn en traumas;
- en ook in geestelike aanvalle, worstelings en swakhede.
In Ps 124 word die nood waarin God se kinders soms kan kom, digterlik met drie sprekende beelde uit die natuur en dierelewe beskryf:
- die beeld van ’n mens wat voor aanstormende vloedwater staan;
- die beeld van iemand wat op die punt is om deur ’n wilde dier verskeur te word;
- en die beeld van ’n voëltjie wat in ’n wip gevang is.
Hierdie beelde sê: - ’n Mens se nood kan soms oorweldigend groot word, onhanteerbaar groot – soos kolkende massa water wat oor jou breek en jou verswelg.
- Die dinge waaronder ons ly, kan soms wreed met ons werk – soos wat ’n roofdier met sy prooi werk.
- Die probleme kan jou soms so onverwags tref, uit die bloute uit – soos ’n voëltjie wat onverhoeds in ’n wip gevang word.
Al hierdie beelde verduidelik ook iets van die magtelose gevoel wat ons baie kere kry as ons na ons nood en probleme kyk. Geleerdes vermoed dat hierdie Psalm heenwys na die Israeliete wat in Egipte verskriklik swaar gekry het en Moses wat hulle uitlei na die Beloofde Land.
Kan u u indink hoe die Israeliete daar by die Rietsee moes gevoel het?
- voor hulle is die see
- en agter hulle die magtige Egiptiese leër.
Wat ‘n vreesbevange, magtelose gevoel moes dit nie gewees het nie?
Baie van julle wat vanoggend inluister en kyk, het al op een of ander manier in jou lewe die vloedwater en die roofdier en die wip van die voëlvanger in die oë gekyk…
Ook kinders van God beland in nood. Maar die Here help, nie waar nie?
- DIE HERE RED VAN ONDERGANG
Hierdie hele Psalm roep dit uit: - ons is gered uit die nood! - daar het uitkoms gekom!
En toe die Heilige Gees hierdie gelowige digter Dawid oor die uitkoms laat dink het, het Hy hom laat besef:
- dis die Here wat die uitkoms gegee het;
- dis Hy wat ons van ondergang gered het;
- Hy het ons gehelp toe mense ons aangeval het;
- Hy was vir ons; Ons hulp kom van Hom af.
Hy wat die Almagtige is, Hy wat ons besit, Hy wat die Een is op Wie ons kan reken – Hy help Sy kinders. Hy sorg dat die nood hulle nie oorweldig nie; Hy staan tussen hulle en ondergang. Net Hy!
Ons sê so maklik: - as dit of dat nie gebeur het nie, of as hierdie of daardie mens my nie gehelp het nie, was ek onderdeur!
Maar wie dieper kyk, sê soos hierdie Psalm: - as dit nie vir die Here was nie…! Hy het miskien ander faktore of mense as hulpmiddels gebruik, maar dit was Hy wat gehelp het. - Hy’t die wind laat opkom en daardeur vir die Israeliete ’n pad gemaak toe die Egiptenare agter hulle en die see voor hulle was.
Dis wat hierdie Psalm sing: - net die Here se hulp het van ondergang gered;
- Hy was die laaste loopgraaf waarin ons veilig kon wegkruip;
- Hy was die onsigbare muur wat gekeer het dat ons oor die afgrond stort. Hy, net Hy, red! As die Here ons nie help nie…! Net Hy – Sy Naam – staan tussen ons en ondergang. So jubel hierdie Psalm dit uit. So moet ons dit ook erken en bely.
- ERKEN EN BELY DIT! … laat Israel dit sê… Die hulp van die Here, die uitkoms wat Hy gee, moet ons laat praat. Dis wat die Heilige Gees, wat ’n mens laat insien dat die Here jou Helper is, met jou doen:
Hy laat jou praat. Woorde waarmee ons kan bely dat net die Here tussen ons en ondergang gestaan het, word hier in ons teksvers vir ons gegee: Ons hulp is in die Naam van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Wie hierdie woorde sê, sê daarmee:
- ek ken die HERE as my Helper;
- ek het dit al beleef hoe net Hy tussen my en ondergang gestaan het;
- ek bou nie meer op mense nie – nie op ander mense nie, maar ook nie op myself nie;
- ek bou net op Hom, die Almagtige, my Eienaar, die getroue Verbondsgod;
- ek weet dit uit my eie lewe: as dit nie vir hom was nie…
Hierdie moenie net Sondagwoorde wees nie. Dis die soort taal wat kinders van die Here elke dag van die week behoort te praat. Natuurlik sal ons dit net sê as dit regtig in ons hart leef, as ons dit regtig glo. Glo u dit regtig?
- SLOT
Ons kyk terug oor die afgelope vyf maande. Toe veldhospitale verrys het in ons land, en ekstra grond beskikbaar gestel is vir grafte, was ek bang gewees. Toe ek my kinders en kleinkinders nie kon sien nie het my hart gebreek. Toe Carina en haar verpleegpersoneel met hand en tand baklei het dat die virus nie haar Sorgeenheid besmet nie, het ek die moegheid in haar lyftaal waargeneem. Die moegheid in haar en haar personeel se oë is nou nog waarneembaar. Tot op hede het die virus nie in haar Sorgeenheid sy tande ingeslaan nie.
En nou? Nou, vyf maande later word veldhospitale in die Wes Kaap afgebreek. Daar was nie soveel grafte nodig nie. Die infeksie syfers is besig om te daal. Sterfgevalle word minder. Carina kan weer onder beheerde omstandighede toelaat dat kinders hulle ouers besoek in die Sorgeenheid. Natuurlik beteken dit nie dat ons nou oorgerus kan wees nie.
Maar aan wie kom die eer toe? Kom dit mense, instellings, politieke partye toe? Wie moet regtig die eer kry? Ek kyk terug en sê: As dit nie vir die Here was nie...
As jy dit saam met my dan regtig glo, sê dit dan:
- sê dit in jou dankgebede teenoor Hom;
- sê dit voor jou kinders en kleinkinders;
- sê dit voor mede-Christene wanneer hulle dit begin miskyk;
- sê dit ook voor mense wat dit nog nooit besef het nie, veral wanneer hulle begin agterkom dat al die ander faktore en middele en mense waarop hulle probeer bou het, uiteindelik niks beteken nie…
As hulle dit ook verstaan dat die Here, en net Hy tussen jou en ondergang staan, sal hulle ook kans sien vir alles wat die lewe oplewer, sal hulle ook nie meer bang wees vir die afgronde van hierdie lewe nie…
Kom ons vul die sosiale platvorms met die volgende woorde:” As dit nie vir die Here was nie. Dit is ons belydenis en ook ons getuienis. AMEN
SEËNGROET
Ontvang die seën van die Here en gaan leef dit ten volle uit in sy vrede.
Die genade van ons Here Jesus Christus.
Die liefde van God.
En die teenwoordigheid van die Heilige Gees sal met jou wees en bly.
AMEN
Vriende, kom ons dien die Here uit dankbaarheid met ons offergawes. Die werk van die Here moet voortgaan en daarvoor het Hy jou offer nodig.
Jy kan gebruik maak van SNAPSCAN, die QR kode verskyn nou op die skerm. Jy kan n internetoorplasing ook doen.
De Eike se bankbesonderhede verskyn ook hier op die skerm. Jy kan ook jou dankoffer na die kerkkantoor bring weeksdae 080:00 tot 12:00.
Wees gereed, wees getrou en wees gesond.