Psalm 73
Datum: 29 September 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
Ek maak ‘n stelling: Verdienste(likheid) speel van jongsaf ‘n groot rol in ons lewens. As jy iets reg of goed gedoen het, is jy beloon. As jy iets verkeerd of sleg gedoen het, is jy nie beloon nie(gestraf). Kom ons dink aan voorbeelde: As jy jou kos opgeeët het toe jy klein was, het jy poeding gekry. As jy dit nie opgeëet het nie, het jy nie poeding gekry nie! Goeie gedrag word beloon, slegte gedrag word nie beloon. As jy op skool hard gewerk en presteer het, is daar ‘n sterretjie op jou voorkop geplak, het jou naam op die merietelys gekom. As jy nie hard gewerk het nie, het juffrou met jou ouers kom praat, het jy gedruip. Goeie gedrag word beloon, slegte gedrag word nie beloon. Dieselfde het op sportgebied gebeur, as jy fiks was en hard geoefen het, het jy in die A-span gespeel, het jy erekleure in sport gekry. Maar as jy onfiks gebly en lyf weggesteek het, het jy in een van die laer spanne gespeel en het niemand van jou notisie geneem nie. Goeie gedrag word beloon, slegte gedrag word nie beloon.
Luister nou hoe Asaf aan die begin gedink het oor geloof en oor God, oor hoe God werk. Hy sê in v.1, “God is vir Israel baie goed, vir die wat rein van hart is”. Asaf dink God werk ook noodwendig so, Hy beloon jou as jy goed lewe en getrou is, en God straf jou as jy goddeloos lewe en ontrou is. Asaf dra hierdie skema wat ons sê in die alledaagse lewe werk, oor op die geloofslewe. Doen ons nie ook maar dieselfde nie, vriende? Ons verwag die Here moet ook op hierdie manier oor ons dink en met ons werk. Die Here moet goeie gedrag beloon en slegte gedrag straf! Hoekom sê ek so? Ons sê maklik ek kan nie glo dat hy/sy wat so gelowig is, so toegewyd is, dit of dat oorgekom het nie of deur so ‘n ramp getref is nie. Wat ons eintlik sê is, hy/sy lewe so goed, die Here behoort ‘n sterretjie op hul voorkop te plak. Hy/sy dien die Here so getrou, die Here behoort vir hulle voorkeurbehandeling te gee. Hy/sy is so ‘n goeie gelowige, die Here behoort te sorg dat daar nie so ‘n slegte ding met hulle gebeur nie. So ons dink ook in die geloofsfeer: God behoort goeie gedrag te beloon! Dalk is dit ten diepste ook ons verwagting van God! God behoort my toewyding te beloon, God behoort dit goed te laat gaan met my, God behoort my met aardse, materiële dinge te seën. Ek bring dan so mooi my kant!
Die teenoorgestelde gebeur ook. Ons weet miskien van iemand wat niks met God en sy gebod te make het nie, maar dan gaan dit voorspoedig met hom/haar. Ons weet van iemand wat nooit sy voet in die kerk sit nie, maar dan gaan dit so suksesvol met hom in die lewe. Ons weet van iemand wat onverskillig lewe, maar dan gebeur al wat goed is met hom en sy familie. En dan dink ons: hoe kan die Here dit toelaat? Die Here behoort dié mense te straf! So ons dink ook in die geloofsfeer: God behoort slegte gedrag te straf.
Maar nou ervaar Asaf die teenoorgestelde in die lewe. Hyself as gelowige ervaar aan die eenkant in v.13, “Dat ek die kwaad vermy het en onskuld lewe, het my niks gehelp nie, elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe more straf”! Asaf sê dus alhoewel hy goed gelewe het, is hy nie beloon nie! En van die goddelose ervaar Asaf aan die anderkant weer: “die hooghartige goddeloses het voorspoed(v.3), hulle het nie kwellings nie, hulle is sterk en gesond(v.4), hulle gaan ongehinderd voort om rykdom op te hoop(v.12)”! Asaf sê alhoewel mense goddeloos lewe, gaan dit voorspoedig met hulle!
Wat doen dit aan Asof as hy sien hoedat dit goed gaan met die goddelose en sleg gaan met die gelowige? Asaf sê in v.2: “Ek het daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor”! Dit het waarskynlik dieselfde invloed op ons as op Asaf. As ons hierdie dinge sien gebeur, self ervaar, begin ons ook twyfel, begin ons moedeloos word, plaas ons vraagtekens agter die geloof, begin ons dink, is dit dan nou die moeite werd om te glo?
Ek wil nou ‘n sprong maak. Ek wil weer vir julle die laaste vers van Psalm 73 lees, v.28, “Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my Toevlug! Ek sal van u werke bly vertel”. Hier vra Asaf nie vrae nie, Asaf bely sy geloof in die Here. Asaf sê dit is vir my goed om naby God te wees! Asaf getuig van die Here: ek sal van u werke vertel, ek sal U naam grootmaak!
Nou is die vraag: Wat het Asaf se insig verander? Wat het gemaak dat Asaf nou anders oor God praat? Ek dink die antwoord lê in v.16 en 17: “Ek het diep nagedink om dit te verstaan, ek het in die heiligdom van God ingegaan”. Asaf het tyd met God deurgebring. Asaf het God se teenwoordigheid opgesoek. Kom ons vra onsself: Maak ek tyd vir nadenke oor die Here? Sonder ek myself soms af om alleen met die Here en sy Woord te wees? Maak ek moeite om alleen met die Here te vertoef soos Asaf? Doen ek moeite om deur die teenwoordigheid van die Here aangeraak te word, vernuwe te word, tot nuwe insigte gebring te word, te verdiep in my kennis van Hom en insig in my lewe. Soek ek die Here in sy heiligdom op? In die erediens, ja, maar laat ek soms die gejaagde lewe agterlaat en spandeer tyd met die Here? Ek wil julle vertel van Biskop Desmond Tutu. Dr. Magiel van der Merwe het ‘n plek om ‘n retraite aan te bied, gesoek. Hy het gehoor die Anglikaanse kerk het so ‘n fasiliteit in die suidelike voorstede en het op ‘n Saterdagoggend daarheen gegaan. Hy het vir die persoon wat in die tuin werk, gevra of hy in die kapel kan ingaan om te sien hoe dit binne lyk,. Toe antwoord hy biskop Tutu is binne, hy is besig om te bid en met die Here te wees. Toe Magiel vra hoe lank dit sal neem, hy is bereid om te wag, antwoord die man hom, “so twee tot twee en ‘n halfuur”!
Die volgende wat ons van Asaf lees, is v.25: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie”. En hierdie woorde sê Asaf terwyl hy nog afgetakel is na liggaam en gees(v.26). U sien vriende, Asaf het tot die ontdekking gekom(waarskynlik deur in die teenwoordigheid van die Here te wees) dat God vir hom die belangrikste in die hemel en op aarde is. Al is hy steeds afgetakel na liggaam en gees(v.25), al is hy steeds siek, al is hy steeds ontsteld, dit maak nie meer vir hom soveel saak nie. God is vir hom belangriker is alles! Asaf het ontdek dat die aardse dinge ondergeskik is aan die voorreg om die Here lief te hê. Om die Here te ken oorskadu al hierdie ander dinge. Dit is wat my die diepste geraak het van hierdie Psalm. Ons dink dikwels as ek gesond is, as alles honderd present reg is, as dit weer goedgaan met my, as hierdie probleem tot einde kom, as dit voorspoedig met my gaan, dan sal ek die Here dien, dan sal ek die Here die tyd en plek gee wat hom toekom, dan sal ek sy naam bely en verkondig, Hom gee wat Hom toekom. Die teoloog Van Ruler sê: “Wat verander nou eintlik wanneer ek God vind? Is ons omstandighede gunstiger? Nee. Word my liggaam dan nie afgetakel nie? Nee. Word ek dan nie moedeloos nie? Nee. Wat verander dan eintlik, vra van Ruler. Ek verander, sê hy! “
Mag die Here deur Psalm 73 en deur sy Gees my en jou verander soos Hy Asaf verander het. Mag Hy ons daartoe bring om te bely: Daar is niks vir my so belangrik in die hemel en op aarde as U nie, Mag ons saam met Asaf bely, al is my lewe steeds onvolmaak, gebroke, al gaan ek steeds op ‘n manier gebuk onder die gebrokenheid van die lewe, al gebeur daar elke dag dinge wat ek nie kan verklaar of verstaan nie, ek het U bo alles lief, dit is vir my genoeg. U en U alleen is vir my genoeg, U is my enigste troos in lewe en sterwe(sê die H.K.).
Julle sal sê ek het iets uitgelaat as ek nie die laaste perspektief van die Psalm deel nie. Dit is asof Psalm 73 in die Nuwe Testament staan. Asaf praat ook van die toekoms, die einde, die vooruitsig van die goddelose sowel as die gelowige. Hy sê in v.19 van die goddelose “hulle lewe eindig in afgryse, hulle gaan te gronde, hulle is oppad na ‘n verskriklike einde”! En van die gelowige, van himself, sê hy in v.24, “aan die einde sal U my in ere by U opneem” en “aan Hom behoort ek vir altyd”(v.26). Dit is dan die vooruitsig wat daar op elke kind van God wag wat in die Nuwe Testament vir ons verder uitgespel word. Deur die kruisdood en opstanding van Jesus Christus sal ons hierna in ere by die Here opgeneem word. Ons is oppad na die ewige lewe met God, in die woorde van Op.21:4: “Hy sal al hulle trane van hul oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan”.
AMEN