Jeremia 1, 4, 10, 14, 15, 17

Datum: 8 November 2017

Prediker: Hannes Burger

  1. Jeremia 1:4-9: Die roeping van Jeremia
  2. Jeremia 4:1-4: bekering terug na God toe
  3. Jeremia 10:1-7; 10: Uniekheid van God
  4. Jeremia 14:1-6: Droogte
  5. Jeremia 15:19-21: Jeremia moet ‘n leier wees
  6. Jeremia 17:5-8: Oordeel en belofte

Dis omtrent 600 jaar voor Christus. En op die oog af lyk dit nogal nie of dit te droewig gaan met God se mense nie. Ten minste is daar uiteindelik weer ‘n koning op die troon wat die Here dien, en nie net agter afgode aanhardloop nie. Josia se regeringstyd was soos ‘n vars briesie in ‘n donker tyd. Hy het die Bybel herontdek, en sy godsdienstige en ekonomiese hervormings het nuwe lewe geblaas in ‘n land wat basies in verval was, en vir een kortstondige oomblik lyk dinge weer rooskleuriger. Kan God se mense ‘n slag bietjie asemhaal...

Juis in hierdie tyd verskyn God aan ‘n jong priestertjie uit die klein dorpie Anatot, boonop uit die heel kleinste stammetjie van Israel. Op daardie stadium het waarskynlik nog net sy ma hom geweet. Maar vandag ken almal sy naam. Hy was Jeremia.

Maar al het dit nie eintlik op daardie stadium so vreeslik sleg gegaan met Juda nie, was almal bewus van die donker wolke wat saampak in die Noorde. ‘n Verwoestende storm was aan die broei, en daardie storm se naam was Assirië. Jeremia 4:7 sê Assirië is soos ‘n leeu wat besig is om wakker te word in sy lêplek – hy voorspel niks goeds vir enigiemand in die omtrek nie. “Die vernietiger van nasies” soos Jeremia hom noem, was besig om alles in sy pad weg te vee - en hy was op pad Jerusalem toe...­

Miskien het Jeremia soggens wakker geword met groot dankbaarheid in sy hart dat hierdie krisis tog nie regtig sy probleem is, waaraan hy iets hoef te doen nie. Dit was gelukkig koning Josia se verantwoordelikheid. Hy sou maar ‘n plan moes maak. Jeremia kon maar net rustig aangaan met sy priesterlike pligte, soos altyd... Tot hierdie dag toe. Die mooi dag toe die Woord van die Here tot Jeremia kom: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. En toe Jeremia sy oë uitvee, is hy ‘n profeet in Juda...

 Die land kry in alle opsigte swaar.

Maar dag vir dag raak die prentjie net al donkerder. Die land is in die greep van ‘n ongekende droogte, wat alle oeste vernietig en al die vee laat vrek. Van die vrugbare land waarheen die Here hulle gelei het, is niks oor nie. “Die woord van die Here het tot Jeremia gekom oor die groot droogte: Juda verdor, sy stede versmag, sy mense sit in rouklere op die grond, die hulpgeroep van Jerusalem weerklink. Die vername mense stuur hulle slawe om water te gaan haal. Dié kom by die putte, maar kry geen water nie; hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang. In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang...” Klink dit vir jou bekend?

Maar dis nie al nie. Geweld vier hoogty in die land. Sodat niemand dit later saans buite kan waag nie, want jy is nêrens meer veilig nie. In Jer 6 lees ons: Moenie in die veld ingaan nie, moet ook nie met die pad langs loop nie, want die wapens van die vyand jaag oral skrik aan. My volk, trek rouklere aan, rol in die as, treur soos oor die dood van ’n enigste kind, huil bittere trane, want die verwoester is op ons.”

En in hierdie krisis, laat die volk se leiers hulle in die steek. Hulle sorg net vir hulleself. Korrupsie slaan oral kop uit, en magteloses word genadeloos uitgebuit.

En steeds probeer almal maar net aangaan asof niks verkeerd is nie. Hulle gaan steeds kerk toe, en vertel hulleself hulle is veilig daar, asof die kerkgebou jou kan beskerm. Maar die waarheid is dat hulle ongelukkig alle kontak met God verloor het. Sy wil speel nie meer ‘n rol in hulle lewe nie. Hulle steur hulle lankal nie meer daar nie. Hulle maak nes hulle wil, en dink dan Hy moet maar net sorg. In Jeremia 7 lees ons: Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge! Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle ’n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.” Die land is geestelik dood, en tyd is vinnig aan die uitloop.

Wat is die oplossing?

Wat dink jy, gaan die Here nou van Jeremia vra? Wat dink jy is die oplossing waarna hy moet werk? Dink jy hy moet ‘n taakspan laat aanstel wat kan onderhandel en ‘n nuwe bedeling fasiliteer? Dink jy hy moet ‘n tienpunt-ekonomiese plan op die tafel sit om die land weer reg te ruk? Of dink jy dalk dis nou tyd vir ‘n nuwe regering, en om van die staatspresident ontslae te raak? Waar begin God se oplossing vir sy mense?

Die antwoord mag jou dalk verbaas. Gaan lees maar weer. Wanneer die Here in Jeremia 1 na Jeremia toe kom, sê Hy vir hom reguit: God se oplossing begin by jóú! Jy is God se oplossing vir hierdie krisis. God steur Hom nie aan al sy verskonings nie, want waar God werk is my en jou beperkinge irrelevant. Al wat Hy van Jeremia vra, is een enkele woordjie. Al wat Jeremia moet doen, is om “Ja!” te sê vir God.

Moenie dink dit kom vir Jeremia sommer maklik nie. Die hele res van die boek vertel van sy stryd teen hierdie roeping. Maar dit vertel ook hoe God hom kon gebruik, van God se trou wat nooit Jeremia aan sy lot oorlaat nie. Ons lees hoe God sy dienaar bemagtig en toerus, sodat Hy hom kan gebruik. Jy het lank genoeg net soos ‘n skaap agter ander aangeloop, Jeremia, sê die Here. Jy het lank genoeg net soos hulle geklink, net soos hulle gedink, net soos hulle opgetree. Dis tyd dat jy begin uitstaan. Dat jy radikaal anders raak. God roep jou om voor te loop. Dis tyd dat jy ‘n ligbaken in hierdie donker land raak. Miskien gaan jy nie oornag alles verander nie, maar jy sal doen waarvoor Ek jou geroep het. In hoofstuk 15 sê die Here vir hom: “Die mense moet jóú volg, nie jy vir hulle nie.”

Dis tyd...

En so gaan Jeremia toe uit met die boodskap wat God vir hom gegee het. Jy kan daardie boodskap in een enkele sin saamvat. Oor en oor dieselfde ding, soos ‘n refrein deur hierdie boek: Kom terug na My toe. Dit is wat God deur hierdie verskriklike droogte vir hulle wou sê. Dis die boodskap wat weerklink in die swart donderwolke wat vanuit die noorde saampak. Dis die boodskap wat Jeremia in die tempel moes gaan oordra. Kom weer terug na God toe. Hierdie nagmerrie sou aanhou totdat hulle luister - maar weet jy, dit het toe nie gehelp nie. Want ongelukkig het God se mense toe nooit geluister en nooit regtig teruggekeer na Hom nie.

Maar natuurlik is Jeremia nou al baie jare dood. En die mense vir wie hy vergeefs gepreek het. En baie dinge het sedertdien verander. Behalwe God. Hy het nog nooit verander nie. En niemand kan miskyk dat God besig is om baie hard met ons te praat nie. Hy praat deur ‘n droogte soos niemand van ons nog ooit geken het nie, deur die bloed van onskuldige mense wat ons land se grond bevlek, deur vrouens wat verkrag en kinders wat misbruik word. Hy praat deur korrupsie wat stelselmatig ons land leeg suig. God praat ontsaglik hard met ons. En hoe gouer ons begin luister, hoe gouer sal God ‘n oplossing vir ons land gee. En as dinge vir jou hopeloos lyk, dan moet jy hoor wat die Here vir Jeremia gesê het toe dinge vir hom totaal hopeloos gelyk het. Toe het die Here vir hom gesê, en Jeremia 32:27 kom sê vanaand vir jou in Kuilsrivier: Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Die situasie in Suid-Afrika is nie buite God se beheer nie. Hy gebruik dit vandag om met ons te praat; om ons terug te roep. Want die oplossing vir Suid-Afrika begin nie by ‘n nuwe regering of ‘n ander president of selfs ‘n nuwe Springbokafrigter nie. Die oplossing begin by jóú. Daarom wil ek hê jy moet vanaand mooi luister na Jeremia se gebed in Jeremia 17:14, sodat jy dit jou eie kan maak, en sodat jy dit kan bid met al die erns en passie waaroor jy beskik: “Maak Ú my gesond, Here, dan sal ek gesond wees! Bevry Ú my, dan sal ek vry wees! Dit is vir U wat ek wil loof.”  God roep jou. Baie hard. Want jy is die oplossing vir Suid-Afrika... as jy net werklik wil terugkom na God toe.

AMEN