EFESIERS 4: 1-16
Datum: 1 Augustus 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
In ’n afgeleë Switserse dorpie staan daar ’n onbeskryflike mooi kerkgebou. Die indrukwekkende BAROK boustyl van die kerkgebou is asembenemend, terwyl die gekleurde loodglasvensters die son se strale op die mees manjifieke manier na die binnekant van die gebou reflekteer. Wanneer jy voor die kerkgebou staan en kyk, snak mens na jou asem, so mooi is dit. Aangrypend.
Maar dit is nie al nie. Binne hierdie kerkgebou staan daar die mooiste pyporrel wat mense van oral in die wêreld soontoe laat stroom. Mense kom van vêraf om na die lieflike klanke van hierdie orrel te luister.
Tog was daar ’n probleem. Die Barok-kerk oftewel die onreëlmatig gevormde pêrel, met al sy swier en verhewenheid, was steeds daar - die gekleurde loodglasvensters het steeds saam met die son se strale gespeel – maar daar was ’n stilte. Die vallei het nie meer die onbeskryflike fyn gestemde musiek van die pyporrel laat eggo nie. Iets het met die pyporrel verkeerd gegaan.
Tydens Kommissievergaderings en op vele kerkraadsvergaderings is planne beraam en gehoop dat die orrel herstel kan word. Daar was selfs gekyk na alternatiewe maniere om musiek in die kerk te maak. Kwotasies was oor die wêreld heen ingewing vir die herstel daarvan. Pyporrel spesialiste het een vir een probeer om die orrel te te laat herleef, sonder enige sukses. Elke keer wanneer ’n pyporrel spesialis probeer het om dit te herstel was die gemeenskap blootgestel aan die aakligste klanke wat die hele omgewing se lug besoedel het. Almal se oorwoë mening was dat die pyporrel onherstelbaar is. Die kerkraad het angstig begin word want lidmate het begin wegbly van die eredienste af. Die stroom van buitelandse en binnelandse besoekers aan die kerkgebou het begin taan en dankoffers het ’n ernstige knou gekry.. Die gemeente het ’n krisis beleef.
Op ’n dag het daar ’n ou omie by die kerkkantoor ingestap en vir die koster gevra of hy nie dalk kan kyk wat fout is met die orrel nie. Die koster was nie gretig om hierdie ou omie toe te laat om aan die binnewerke van die pyporrel te krap nie. Daarom het die koster die voorsitters van die eiendom- en die erediens en aaanbiddingskommisies toestemming gevra, wat op hulle beurt ’n Uitvoerende Kommissievergadering belê het. Toestemming was teensinnig gegee, maar omrede die gemeente in ’n krisis was, het hulle gehoop vir die beste en moes alle moontlikhede aangegryp word.
Vir twee dae het die omie in absolute stilte gewerk. Die koster was gespanne en het gereeld ’n draai op die galery gaan maak om te kyk of die omie nog aan die gang is. Op die derde dag teen twaalfuur die middag, was die vallei weer gevul met glorieryke klanke. Plaasboere het ophou ploeg, winkeleienaars het hulle deure gesluit, almal het in hul spore tot stilstand gekom.... en net.....geluister. Die hele dorp was op pad kerkgebou toe. Dit het selfs gelyk asof die bosse en die bome op die bergpieke reageer terwyl die orrel-klanke van kloof tot kloof weergalm.
Nadat die omie klaar gespeel het en sy gereedskap bymekaargemaak het, het ’n brawe siel gevra hoe hy dit reggekry het? Hoe het jy hierdie manjifieke orrel herstel selfs nadat die wêreld se kundiges dit nie kon regkry nie. Met ’n skewe glimlag en ’n sagte stem het die omie die volgende gesê: “Dit was eintlik ’n “inside job”. Ek het vyftig jaar gelede hierdie orrel gebou. Daarna het ek dit monteer en nou het ek die orrel herstel. Julle het eintlik net bietjie vergeet van my.
Kan dit gebeur dat ’n gemeente stil word, kwyn, omdat hulle bietjie vergeet het? En dit laat my by die vraag. Waarheen is ons gemeente op pad? Kom ons dink vir ’n oomblik aan ’n tyd waar die kerkklokke nie meer op Sondae lui nie. Waar die orrel nie meer gehoor word nie. Waar die gemeente nie meer saam in ’n kerkgebou vergader om te aanbid nie. Waar ons as geloofsgemeenskap voel ons dryf al verder uitmekaar en elkeen leef op sy eie eilandjie met tanende liefde tussen ons. Waar mense in ’n oorlewingstryd verkeer en waar almal probeer om so goed as moontlik net vir hulleself te sorg – elkeen in sy of haar klein hoekie.
Is dit die roete wat De Eike besig is om te stap? Is dit wat COVID besig is om aan De Eike se lidmate doen? Kan ons toelaat dat dit die verloop van De Eike se storie gaan wees? Dat ons, as gevolg van die omstandighede waarin ons verkeer bietjie vergeet van die kerk. Dat daar na COVID ’n stilte in hierdie kerkgebou gaan wees.
Hoe kan vanoggend se Skrifgedeelte ons bemoedig te midde van sulke onsekerheid? Vanoggend hoor ons ’n besorgde dominee Paulus wat navolgers van Jesus aanspoor en bemoedig. Hy vra mooi dat die gemeente hulle roeping moet uitleef en nie na binne gerig moet wees nie. Hy smeek dat mense uit hul loopgrawe moet klim en mense moet aanraak met Hom wat bietjie vergeet word. Hy spoor mense aan om hul roeping uit te leef! Wees altyd beskeie, haal die “chip” van jou skouer af. Wees vriendelik teenoor almal. Wees geduldig met mekaar. Selfs hulle wat jou eindeloos irriteer. Verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
Wanneer jou lewe hierdie onbeskryflike mooi klanke van beskeidenheid, vriendelikheid, geduld, verdraagsaamheid en vrede deur die strate van De Eike laat weergalm sal mense ook ophou werk, hulle sal ook in hul spore stop om daarna te luister. Hulle sal weet dat iemand wie se lewe van hierdie hemelse klanke getuig HOOP reg verstaan. Hoop wat een van die sewe gronde van gelowiges is waarna Paulus in vers 4 en 5 verwys.
WAT BETEKEN HOOP?
Vriende, ek spoor julle aan, ek vra mooi, om julle hoop op Christus Jesus te vestig. Want die woordjie HOOP kan soms baie maklik verkeerd gebruik word. Ons hoor so baie dat mense sê:
Ons hoop maar vir die beste!
Kom ons hoop dinge werk uit.
Kom ons hoop en loop voort!
Ek het hoop verloor.
Ek kan nie my hoop daarop plaas nie.
Wanneer ons hoop op hierdie wyse verstaan, beteken hoop NIKS. Dan is dit ’n woord sonder betekenis.
Ons moet eerder ’n nuwe taal aanleer. Want hoop in Nuwe-Testamentiese taal is Jesus. Jesus is ons hoop. Christus-navolgers leef met ’n hoop wat stewig in Christus se opstanding gevestig is, naamlik sy oorwinning oor die mees hooplose werklikheid, naamlik die dood self. Vir gelowiges is hoop méér as om in moeilike uitdagende omstandighede positief te bly. Hoop is ’n Goddelike gawe én ’n lewensroeping wat iets van Christus se verlossingswerk en -krag ten toon stel.
Wanneer hoop net gebruik word om positief te bly, gaan ons geloof in “ICU” beland. Dan vergeet ons ’n bietjie. Kom ons onthou.... wanneer jul vanoggend die broodjie en die wyn in jou hande vashou word jy herinner om te onthou, onthou vir Jesus, Jesus ons HOOP, dan....dan laat jy toe dat die Heilige Gees daardie onbeskryflike mooi klanke van beskeidenheid, vriendelikheid, geduld, verdraagsaamheid en vrede uit jou voortvloei.
AMEN