Psalm 139:7–12

Datum: 14 September 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Daar is ’n Latynse uitdrukking wat deur die eeue heen ’n groot rol in die Christelike geloof gespeel het: Coram Deo. Letterlik beteken dit: “voor die aangesig van God.” Dit is ’n manier van leef – om elke oomblik, in elke situasie, met die bewussyn te leef dat God hier is, dat Hy sien, dat Hy naby is, en dat ons hele bestaan aan Hom behoort.

 

Die wêreld leer ons sonder dat ons dit agterkom om op ‘n sekere manier te leef, maar die Bybel nooi ons om anders te leef. Dit is ’n lewe wat nie gefragmenteer is nie, nie ’n “kerk-lewe” en ’n “week-lewe” apart nie, maar ’n geïntegreerde lewe in God se teenwoordigheid.

 

Psalm 139 herinner ons dat ons eintlik op geen ander manier kan leef nie. Ons dink so maklik dat ons dele van ons lewe en menswees kan skei. Dat ons geloof uit sommige dele van ons lewe kan uithaal of weglaat. Dit is hier waar die uitnodiging om in God se teenwoordigheid te leef begin.

 

God se teenwoordigheid is onafwendbaar (Psalm 139:7–12)

Dawid vra: “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen vlug ek om aan u teenwoordigheid te ontkom?” Die antwoord is: nêrens. God is orals. Ons leef altyd Coram Deo – of ons dit erken of nie. Die groot verskil lê daarin of ons dit bewustelik doen.

Dit is nie ’n dreigement nie – dit is ’n troos.

 

Coram Deo vra ’n nuwe identiteit

Die wêreld bou identiteit op wat jy het, wat jy bereik, of hoe ander jou sien. Maar Coram Deo beteken: ek bou my identiteit in die wete dat ek deur God geken en geliefd is.

 

As jy weet jy leef voor God, verander jou houding: Jy hoef nie vir mense te speel, of jou te bewys nie. Jy hoef nie mag en status na te jaag nie. Jy leef vanuit die sekerheid: Ek is God s’n.

 

Dit gee ’n alternatiewe manier van lewe – wat nie gedryf word deur selfhandhawing of vergelyking nie, maar deur liefde en diensbaarheid.

 

Coram Deo verander hoe ons dinge doen

Paulus vat dit saam: “En wat julle ook al sê of doen, doen alles in die Naam van die Here Jesus, en dank God die Vader deur Hom.” (Kolossense 3:17)

 

Die wêreld leef gefragmenteer: een manier by die werk, ’n ander manier by die huis, en weer ’n ander manier in die kerk. Maar Coram Deo beteken jou hele lewe word een groot loflied – geïntegreerd en op God gefokus.

 

Om Coram Deo te leef bevry jou om jouself te wees – maar die beste weergawe van jouself, soos God jou geskep het. Dit gee sin aan jou werk, jou gesin, jou drome, jou lyding, jou vreugdes.

 

 

Coram Deo is nie net ’n leuse vir teoloë nie – dit is die alternatiewe manier van lewe vir elke gelowige. Dit is om te sê:

My lewe is nie my eie nie, dit behoort aan God. Ek is nie alleen nie, ek leef in sy teenwoordigheid. Alles wat ek doen, elke woord, elke keuse, elke verhouding – dit word ’n daad van aanbidding.