Lukas 17:11-19

Datum: 13 Oktober 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

INLEIDING

Het julle geweet dat Robbeneiland vanaf 1845 af, ‘n Melaatse Kolonie gehuisves het. In 1892 het daar 338 Melaatses op die eiland gebly. Weggeneem uit die samelewing, op n boot gesit en eiland toe gestuur. Ge-isoleer. Ek wonder altyd oor die psige van sulke mense. Hoe het hulle oor hulself gedink? Het hulle hoop gehad op herstel.

In die Bybelse tyd was hierdie mense baie sleg behandel.

Die lewe van ‘n Melaatse in die Bybelse tyd was verskriklik gewees. Hulle was verwerp en uitgeskuif uit die samelewing, die randfigure. Onmenslike hantering het gelei tot bittere eensaamheid en verlatenheid in hulle lyding. Hulle siektetoestand was volgens die samelewing hoog aansteeklik gewees.

Maar daar was iets dieper liggend wat ook gebeur het. Volgens die die kerkleiers van daardie tyd was Melaatsheid die gevolg van sonde. Hul siektetoestand was die bewys dat God hul straf.

Melaatses het in in Kolonies, in afsondering gaan bly. Eenkant, weg van familie, verwerp, uitgeskuif. Kan jy jouself indink in hierdie aakligheid wat hulle moes beleef. Jou lyf wat verwronge raak en ’n samelewing wat jou verwerp. Hoe “cope” mens daarmee?

En wanneer ’n melaatse in kontak met ander mense sou kom was daardie persoon verplig om homself of haarself nog verder te verneder en te verkleineer deur sy of haar onreinheid te verklaar. Wanneer melaatses gesonde mense sou raakloop moes hulle uitskreeu: Onrein, onrein!

Vanoggend se verhaal is vol lewenslesse vir ons as “skoon” mense. Een van die grootste lesse handel oor dankbaarheid. Maar voordat ons daar uitkom moet ons twee ander lesse ook aanspreek.

  1. LYDING BIND MENSE AANMEKAAR

Ek sien dit gereeld. In die besonder sien ek dit in die sitkamertjies van die Intensiewe Sorgeenhede. Ek sien dit by Familielede van pasiënte, wat met die dood gekonfronteer word en wat soos familie vir mekaar word. Hulle word aanmekaar gebind deur die lyding waardeur hulle gaan. Hulle bid en huil saam.

Almal in daardie sitkamertjies is kleurblind. Hulle deel met mekaar hierdie diepe en pynlike lydingsproses. Mense wat andersins geen verhouding met mekaar het nie word saamgebind en alle grense word afgebreek, want hulle geliefdes kry swaar.

Dalk kan ons iets hierdeur leer. Ons is eenders in ons hartseer en pyn. Ons harte klop eenders met die dieselfde liefde en begeerte na lewe.
Verseker kan ons  hieruit leer dat lyding ons saambind.

  1. GELOOF BETEKEN OM SEKER TE WEES VAN DIE DINGE WAT ONS HOOP

Hierdie tien melaatse manne roep na Jesus, “Wees ons genadig.” En dan doen Jesus iets baie interessant. Jesus sê nie vir die manne dat Hy hulle gaan gesond maak nie. Hy stuur hulle na die priester toe. Onthou, melaatsheid was as ’n mediese sowel as ’n religieuse probleem gesien. Dus, wanneer jy gesond word, moes jy na die priester gaan om sy bevestiging te kry dat jy kan teruggaan huis toe. Jesus sê nie vir hulle dat hulle gesond is nie. Jesus raak nie aan hulle of maak hulle gesond nie. Al wat Jesus sê is: Gaan wys julleself vir die priester. Lukas noem iets interessant:  Terwyl hulle na die priester loop het hulle agtergekom dat hulle gesond word.

Sien julle dit? Terwyl hulle na die priester loop het hulle agtergekom dat hulle gesond word. So baie keer, moet ons in geloof handel voordat geloof waar word. Jy sien, geloof beteken om in beweging te kom. Om aan te gaan, al het ons geen fisiese bewys nie.

Om te aanvaar dat dit wat God belowe, Hy vir ons sal gee. Maar ons kan nooit ’n tydlyn daaraan koppel nie. God se tyd is nie ons tyd nie. Derhalwe moet ons handel asof dit gaan gebeur.

Ons kan nie God se handelinge beheer nie. Maar ons kan ons eie handelinge beheer.  Ons kies om in geloof in die voetspore van Jesus te loop. Ons handel in geloof, en hoop in geloof, en ons wag in geloof.

Geloof stel ons in staat om in beweging te bly, om aan te gaan en te weier om handdoek in te gooi. Terwyl die melaatses op pad was na die priester het hulle agtergekom dat hulle gesond word.

Die Hebreërs – teks vat dit so mooi saam.

HEBREËRS 11 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is.

  1. Teen die agtergrond van hierdie twee lesse kan ons nou fokus op dankbaarheid.

DANKBAARHEID MOET INGEOEFEN WORD
15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?”

Kom ek onderstreep twee lewenslesse wat ek oor dankbaarheid geleer het. Of redes waarom ons versuim om dankbaarheid te betuig.

Eerstens ons vergeet te vinnig. Ons is heeltyd op ’n drafstap en ons vergeet al die seëninge wat ons ontvang. Ons vergeet al die wonderlike geskenke uit ons Vader se hand. En dan wanneer dit te laat is besef ons wat ons alles op uitgemis het. Dinge word so alledaags dat ons nie meer dit raaksien vir wat dit werklik is nie.

Tweedens. Ons aanvaar alles as vanselfsprekend en mis uit op die rykdom van gawes wat ons daagliks ontvang.

Lewe, liefde, vriende, die mooi in alles, werk en aanbidding, De Eike. Ons sien ’n sonsondergang en ’n sonsopkoms, skoenlappers, ’n vriend se glimlag, ’n kind se gesiggie en ’n brood as vanselfsprekend.

Ons kan so besig word dat ons hierdie geskenke vergeet. En ons aanvaar te maklik. Ek aanvaar te maklik dat my pasmaat nog lank saam met my sal wees. My kind gaan voor my grootword. Ons aanvaar dat die vlinders almal netjies in formasie sal vlieg.

Hulle wat in dankbaarheid leef vergeet nie hoe eindeloos hulle geseën word nie nie. Dankbaarheid moet ’n leefwyse word.

Dus kom dit daarop neer. Dankbaarheid moet ingeoefen word.

Wees dankbaar teenoor die Here maar betoon ook dankbaarheid teenoor mense.

Ons het vanoggend drie dinge vir mekaar gesê:

LYDING BIND MENSE AANMEKAAR
GELOOF BETEKEN OM SEKER TE WEES VAN DIE DINGE WAT ONS HOOP
DANKBAARHEID MOET INGEOEFEN WORD

Ons vergeet so vinnig en,

Ons aanvaar dinge as vanselfsprekend.

Ek lees die volgende wat ’n boer se vrou vanuit die Sutherland Distrik skryf. Dalk help dit julle met hierdie dankbaarheid-ding.

Ek loer in my kombuiskas na bestanddele wat ek nodig sal hê om ’n vlakoek te bak. Dierbare familie en vriende het laas naweek ’n ietsie van alles gebring. Ek onthou ewe skielik ook nog van die gevriesde snoek in die vrieskas – hul het sekerlik geweet dat ons Karoo lammers nou te maer is vir ’n tjoppie op die kole! Langs die snoek lê ook die skoongemaakte werfhoender wat buurvrou vir my gebring het, want die ooie met die lammertjies het die mielies meer nodig as die hoender! Die plaaswerker wat gedros het, sê  henne het agtergebly, so eiers kry ek dan by hulle! Buurman het melkbokke en kry ons gereeld bokmelk present. So, ek besef ek het omtrent alles wat ek nodig het vir die koek en nog baie vir die tafel ook. Die droogte het baie doringbome laat vrek, dus is hier oorgenoeg droë hout om my koolstoof elke wintermôre brand te maak. Hoe bevoorreg en dankbaar kan ’n mens nie wees nie.....Vlakoek word gebak!

Ons vergeet te vinnig?

EN ons aanvaar dinge as vanselfsprekend?

SLOT
Ek sluit af met die volgende ware verhaal. Net voor opstyging sê die lugwaardin vir Mohammed Alli dat hy sy veiligheidsgordel moet vasmaak. Superman het nie ’n veiligheidsgordel nodig nie: Blaf hy terug. Ja, maar onthou sê die lugwaardin vir Alli: Superman het nie ’n vliegtuig nodig nie. Alli het onmiddellik sonder enige teëstribbeling sy veiligheidsgordel vasgemaak.

Dit het my laat dink. Niemand van ons is ten volle selfonderhoudend nie. Ons kan dit nie op ons eie maak nie. Vanoggend is daar nie een Superman in hierdie kerkgebou teenwoordig nie.  Ons moet ons veiligheidsgordels vasmaak. En om dit te doen, is te weet:

In Jesus is ons aan mekaar verbind,

Doen daardie geloofsprong (BLY IN BEWEGING) en,

Betoon dankbaarheid.

AMEN