Datum: 27 Oktober 2019 (Oggenddiens)
Prediker:
Dankdiens van woord en lied.
Al drie De Eike se leraars lewer 'n kort boodskap.
1ste Ds Hannes Burger
2 de Ds Johan Morkel
3de Ds Chris Barnardo
Ds Johan se preek:
Tema: Ons is dankbaar vir die gawes en talente wat die Here vir ons gegee het.
Skriflesing: Efesiërs 4:11-13
My opdrag is om iets te sê oor dat ons die Here dankbaar moet wees vir die gawes en talente wat Hy vir ons gegee het. Dit bly altyd een van die wonders van die kerk vir my dat die Here ons almal verskillend gemaak het, ons verskillende gawes gegee het, ons in sy Alwysheid saamgevoeg het as ‘n liggaam - ’n gemeente! Dit is sy wil dat ons as gelowiges met verskillende gawes sal saamwerk, by mekaar sal inskakel, mekaar sal aanvul, ondersteun, om een liefdevolle gemeenskap te wees wat die Here dien en verheerlik!
Miskien vra iemand nou: Maar wat is ‘n gawe? Definisie: ‘n Gawe is ‘n buitengewone vermoë(ns) wat die Here deur die H.G. vir ‘n gelowige gee waardeur Hy(God) verheerlik moet word. Kom ons noem verskillende gawes in ons gemeente-konteks:
Om musikaal te wees: koorsing, klavierspeel, orrelspeel, ander musiekinstrumente.
Om ‘n dienswerker te wees,
Om op die kerkraad te kan dien en so die Here diensbaar te wees,
Om met kinders te kan werk: kinderkerk, kleuterkerk, kategese
Om goed te wees met finansies: finansiële kommissie, Mariana
Om gasvry te wees: laat ander welkkom voel in die kerk en by eredienste
Om die eiendom van die kerk in stand te hou,
Om te kan beplan en te kan kyk na die pad vorentoe,
Om onderrig te kan gee(die Bybel te kan verduidelik): Bybelstudie lei, kleingroepleier
Daar is nog baie ander gawes wees(vermoëns wat die HG. gee) waarmee gelowiges die Here kan diensbaar wees.
Ek sou op hierdie stadium wou vra: Weet jy wat die gawe is wat jy van die Here ontvang het? Dien jy die Here met jou gawe? Gebruik jy jou gawe in in die kerk, in sy Koninkryk? Maar vanoggend doen ons dit anders. Ons is hier bymekaar om dankie te sê vir die gawes en talente wat die Here ons gegee het om Hom te dien!
Ons sê eerstens vir die Here dankie. Dit is dus in werklikhied ‘n gebed.
Dankie Here dat U so mildelik mense en hul gawes vir De Eike voorsien, dat U vir elkeen ‘n gawe gegee het waarmee ons U kan dien. Dankie dat U ook ons vir mekaar gee sodat ons in ons saamwees en saamwerk, mekaar se geloof kan versterk en uitbou.
Tweedens wil ons ook dankie vir julle sê, die lidmate:
Dankie dat jy jou gawe vir die Here aanbied, dankie vir elkeen wat op watter manier ookal, die Here dien met jou gawe(s). Vir die Here(voor die Here) is al die gawes gelyk!
Ek stel my ‘n gemeente so voor: Ons is ‘n masjien waarin elke onderdeel sy funksie verrig sodat ons as ‘n geheel glad loop. En die olie van die gemeente(De Eike-masjien) is die liefde wat God deur die H.G. vir ons gee.
Ek wil ten slotte ook iets sê oor talente. Mense vra wat die verskil is tussen ‘n gawe en ‘n talent. Talente is iets waarmee jy gebore word, wat jy van jou ouers ontvang. Jou talente is waarskynlik die grootste faktor wat bepaal watter beroepskeuse jy maak, dit waarin jy belangstel. Dikwels lê jou talente en die gawe wat God vir jou gee om Hom mee te dien, naby mekaar. Voorbeeld: Iemand wat op die gemeente se Fondse kommissie dien, se beroep sal waarskynlik ook in die finansiële wêreld wees. Ons sê dan ook vanoggend vir die Here dankie vir die talente wat ons van Hom ontvang het. Dankie Here vir my talente en dat ek dit kon ontwikkel. Dankie dat ek in ‘n rigting kon kwalifiseer, dankie dat ek ‘n werk het, dat ek ‘n inkomste kan verdien, dat ek myself, my gesin kan versorg. Dankie dat ek ook vir U saak kan gee van dit wat ek deur my talente verdien. U wil U ook met en deur my talente verheerlik. Amen