1 Tim.1:12 - 17

Datum: 15 September 2019

Prediker: Johan Morkel

Die tema, “De Eike se mense is DAADwerklik dankbaar”, het my laat vra: Wanneer is mens dankbaar?  Hoekom is mens dankbaar?  Die antwoord is: jy is dankbaar as jy iets ontvang/kry wat jy nie verdien nie; jy is dankbaar as jy iets ontvang wat jou in ‘n beter posisie plaas as waarin jy was voor jy dit ontvang het.  Mens kan aan voorbeelde dink: jy het min of geen geld, iemand gee vir jou geld, en jy is dankbaar!  Jy is siek/slegte gesondheid, jy word gesond(operasie/medikasie) en jy is dankbaar!  Jy kan nie gaan studeer, iemand betaal/gee beurs vir jou studies, en jy is  dankbaar!  Mens vind dieselfde patroon ook in hierdie verse wat Paulus aan Timoteus skryf.

 

Kom ons begin met vie vraag: Wat was Paulus voorheen, voor hy die Here leer ken het?  Paulus verwys twee maal na homself in die verse as “die grootste van alle sondaars” (vv.15,16).  Maar dan sê Paulus ook verder van homself in v.13 in die O.V: “ek was ‘n lasteraar en vervolger en geweldenaar”.  In die 1983-vertaling: “ek het die Here voorheen belaster, vervolg en beledig”.  Hy skryf in Hand.26:11: Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer.  Ek het hulle so gehaat ... So was Paulus voordat hy tot bekering gekom het.  Verlore, ‘n teenstander van die Here en sy kerk.  Kom ons dink vir ‘n oomblik oor onsself voordat ons tot verlossing gekom het.  Dalk dink jy saam met my: ek was darem nie so sleg soos Paulus nie!  Daar is baie ander mense wat slegter as ek was, daar is baie mense wat baie meer verkeerde dinge gedoen het as ek, baie verder van koers af was as ek.  As ek nou eerlik moet wees, val ek nie in dieselfde kategorie as waarin Paulus homself hier plaas nie.  Ek het nie die Here se kinders belaster nie, ek het nie volgelinge van die Here vervolg nie, ek het nie gelowiges gehaat, hul geloof beledig nie!

 

Dit mag so wees, vriende, maar laat ek nou maar betyds waarsku.  Ons durf nie aan onsself dink as dat ons ‘n trappie hoër of beter as Paulus en ander mense nie, ons durf nie onsself meerderwaardig ag bo ander mense nie.  Ons kan nie toelaat dat daar in ons denke oor onsself dinge insluip soos selfregverdiging nie(ek is “okay” voor die Here), selfvoldaanheid nie(ek is darem goed), verdienstelikheid nie(ek verdien ‘n klop op die skouer van die Here nie).  Dan is ons maar presies dieselfde as wat die Farisieërs en Skrifgeleerdes was.  Kom ons spel dit vanoggend weer uit.  Wie of wat ek ookal is, wat ek dalk al in die lewe bereik het, sonder Christus was ek/is ek sonder verlossing; kan ek myself nie kind van God noem nie; is ek ‘n verlore sondaar!  Die eerste punt: Alle mense, ook Paulus, ek en jy, is verlore sonder Jesus Christus.

 

Dit bring ons by die tweede punt waarna ons in die inleiding verwys het.  Die weldaad wat tot dankbaarheid lei.  Hoor weer wat sê Paulus, v.13: God was genadig teenoor my.  V.15: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red.  V.16: Christus Jesus het al sy verdraagsaamheid(groot geduld, NLV) aan my betoon.  Daar was genoeg rede vir God om Paulus te verwerp, verlore te laat gaan(sê een kommentaar).  Dit kan ook van elkeen van ons gesê word.  Maar was God genadig teenoor ons.  Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red.  En hierdie genade van God het op die Damaskuspad deel geword van Paulus se lewe - ons ken die verhaal.  Hierdie genade van God het gemaak dat “die grootste sondaar”, die lasteraar, die vervolger van volgelinge van Jesus, kind van God geword het!

 

Dit is die tweede feit waarvan ek en jy vanoggend moet kennis neem.  Dit is alleen God se ingrype in ons lewens wat ons kinders van God maak.  Dit is alleen omdat Jesus Christus na hierdie wêreld gekom het om sondaars te red(v.15), dat ek en jyvanoggend hier in die erediens kan sit en onsself kinders van God kan noem.  Dit is alleen Christus wat tussen my en jou en ewige verlorenheid staan.  Dit is opmerklik dat Paulus dikwels in sy briewe na sy verlossing verwys.  Dit sal goed wees as ons dit ook van tyd tot tyd doen.  Die Here werk nie dieselfde met elke mens nie.  Daarvoor is Hy te groot en Almagtig en Alwys en Alwetend.  Nie almal van ons het op dieselfde manier tot bekering gekom nie.  Nie almal van ons het sover van God afgedraai soos Paulus nie, ‘n Damaskuspad-ervaring gehad nie.  Sommige van ons ken, soos Timoteus, die Here van kindsbeen af.  Nog ander van ons het die Here ontmoet tydens ‘n krisis in my lewe, in my belydenisjaar, op ‘n CSV-kamp.  Kom ons dink vanoggend, soos Paulus, aan God se ingrype in my lewe, aan my verlossing.  In my geval het dit in my eerste jaar op universitiet op ‘n werkerskamp in die Transkei gebeur.  Kom ons dink aan die dag of dan net die wete(sekerheid) wat die genade van die Here van my as sondaar kind van God gemaak het.  Kom ons dink daaraan terwyl ons bly sit en sing: Lied 510: 1-4

 

Hoor ons toe ooit weer iets van Paulus na sy bekering op die Damaskuspad?  Of was Paulus se persepsie van geloof dieselfde soos wat ons vandag ook vind?  Iets soos, ek is nou verlos, my saak met die Here is reg, my kaartjie na die hemel is bespreek.  Nou kan ek maar die res van my lewe voortgaan soos voorheen, totdat die dag aanbreek wat die Here my kom haal?  Nee vriende, Paulus begin hierdie gedeelte met die woorde: Teenoor Jesus Christus is ek dankbaar.  Na sy verlossing, staan oor die res van Paulus se lewe in hoofletters die woorde geskryf: DANKBAARHEID.  Vir die res van Paulus se lewe gaan sy dankbaarheid teenoor God oor in dade, in ‘n lewe van dankbaarheid.  Paulus sê “Die Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde”.  Wat beteken sy lewe is voortaan gekenmerk deurdat die ongeloof plekmaak vir geloof, die haat plekmaak vir liefde, die vervolging van gelowiges plekmaak vir die uitdra van die Evangelie na verlore mense.  Hy sê hy kon ‘n voorbeeld vir ander wees – ook vir ons vandag!

 

Die grootste sondaar word uit dankbaarheid vir sy verlossing, een van die grootste instrumente in God se hand!  Hy word die grootste sendeling van alle tye, die skrywer van die grootste gedeelte van die Nuwe Testament.  Sy woorde in hierdie gedeelte word ook vanoggend die instrument waardeur die Here met ons praat!  En ek en jy, vriende?  Ons oordink in hierdie tyd dankbaarheid.  Dit gaan spesifiek vanoggend oor DADE van dankbaarheid.  Gebeur dit nie te maklik/dikwels dat daar niks kom van ons dankbaarheid vir ons verlossing?  Dat dit maar in die lug opgaan nie?  In die vergetelheid verdwyn nie?  As ons vanoggend weer besef wat Chistus vir ons gedoen het, behoort ons soos Paulus of saam met Paulus, saam met gelowiges deur die eeue, oor die aardbol heen, saam as lidmate van De Eike, uit dankbaarheid te sê: ek wil my dankbaarheid teenoor die Here in DADE van dankbaarheid uitleef.  Ons behoort te sê: Hier is ek, Here, ek bied myself, my lewe, vir U aan!  Ek is nie ‘n Paulus nie, of ‘n Martin Luther nie, of ‘n Billy Graham nie, maar gebruik my ook, Here!  Gebruik my waar en hoe U wil, of dit by die werk of by die kerk is, (waar mense benodig word, sopkombuis, eredienswerkers, kerkraadslid), of dit by my huis of by die skool is, teenoor my bure of familie.  Ons dankbaarheid vir ons verlossing moet of behoort, soos by Paulus, uit te mond in DADE!

Wil jy dit doen?  Toewydinglied staande: Lied 308:1-5

AMEN.