Openbaring 3:7-13

Datum: 17 September 2023 (Oggenddiens)

Prediker: Ds Geo de Kock

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Filadelfia is een van twee (uit sewe) gemeentes in Klein-Asië (Turkye vandag) wat ‘n positiewe en goedkeurende Openbaring-brief ontvang het.

 

Die kernboodskap aan hulle was dat hulle ráákgesien word - dat hulle in Jesus bly glo het, te midde van uiterste teenkanting van die kant van ongelowige mede-stadsgenote.  Baie spesiaal word dan vir hulle gesê dat God ‘n deur voor hulle oopgesluit het wat niemand weer kan toesluit nie.  Met hul volhardende geloof is die deur na die hemel vir hulle oopgesluit en hulle kan seker wees dat die Here hulle nie alleen sal laat nie en altyd aan hulle kant sal wees.  So het hulle dan as Sy ligdraers ook ‘n oop deur na die Ooste, om die Blye Boodskap aangaande Jesus Christus wêreldwyd te gaan verkondig.

 

Ook vandag kan ek en jy as gelowiges in Christus met volle geloofsekerheid wéét, ten spyte van moontlike swaarkry, dat ons beslis lede is van God se ewige Koninkryk.  En in gemeenteverband het ons ‘n oop getuienisdeur om almal wat nog nie glo nie, met die Evangelie te bereik, selfs dié wat agter allerlei grense weggesteek is/word, in baie gevalle juis sodat hulle nié kan hoor nie!

 

FEBA Radio maak dit soveel makliker vir sulke oopdeur-gemeentes om die onbereiktes te bereik.  Radiogolwe, veral kortgolf, maar ook ‘n verskeidenheid ander moderne mediamiddele, kan nie deur grense gekeer word nie.  Namens ons vennoot-gemeentes (soos Kuilsrivier De Eike) saai ons Christelike boodskappe in meer as 160 verskillende tale na meer as 50 lande uit.  Ons maak van moedertaalsprekers wat reeds Christene is, in ons ateljees gebruik, om ‘n verskeidenheid programme in hul eie mense se tale te maak.  Dié ateljees is oor ‘n groot deel van die wêreld versprei in Afrika, die Midde-Ooste, Sentraal- en Suid-Asië en die Verre-Ooste (vanaf die Filippyne in die suide tot in Rusland in die noorde.  Ons is jubelend oor meer as 10 miljoen mense wat elke jaar vir ons laat weet dat hulle gehóór het – verreweg die meeste van hulle is gelei tot geloof!

 

Baie dankie aan De Eike, vir rugsteun met voorbidding en finansiële bydraes.

Julle help om te voorsien – FEBA Radio saai namens julle uit en bring die oes in!

Ons eer die Here vir sy groot werk!