Johannes 12:20-37
Datum: 18 Maart 2018
Prediker: Hannes Burger
- Die groot kontras
Soos alle goeie skrywers, het elkeen van die Evangelieskrywers ook sy eie inslag, ‘n styl wat eie aan homself is. As jy fyn kyk sal jy gou agterkom dat Lukas, die dokter, besonder geïnteresseerd is in mediese simptome - soos jy seker sou verwag. Matteus is heeltyd besig met die Ou Testament en hoe dit vervul is in Jesus. En van Johannes sou jy ook ‘n hele paar goed kon sê. Maar veral dat Johannes baie lief is vir kontraste. Hy dink baie filosofies, en daarom stel hy baie graag goed teenoor mekaar, soos lig en duister, waarheid en leuen. En soos enige skrywer, hou hy daarvan om skielik uit te kom met ‘n ding wat jy regtig nie verwag nie. Hy verras jou, soos hier in Johannes 12.
Ek wonder of jy dit raakgesien het. Johannes is besig om ons te vertel hoe ‘n paar Grieke van Jesus gehoor het en Hom graag wou ontmoet, en die geskarrel wat dit onder die dissipels veroorsaak het. Onthou, die Jode het nie gehou van Grieke ontmoet - of van enige ande Nie-Jood nie. Vir die Jode was hulle heidene – en jy het hulle vermy. Eintlik moes Andréas hulle sommer summier weggewys het. Maar aan die ander kant kon jy mos met Jesus nooit weet nie. Hy het dan selfs met Samaritaanse vroue geselsies aangeknoop, en by Fariseërs geëet. En nes jy verwag dat Johannes ons nou van ‘n baie interessante ontmoeting tussen die Griekse besoekers en Jesus gaan vertel, kom hy eintlik nooit daarby uit nie. Hy vertel ons eerder van ‘n baie belangrike aankonding wat Jesus gemaak het.
“Die tyd het gekom”... sê Jesus ewe skielik uit die bloute. Onthou, die dissipels het geen idee waarvan Hy praat nie. Maar Jesus verras selfs vir ons wat wel weet waaroor dit gegaan het. Maar sê nou maar jy moes vanoggend die dissipels bietjie in die prentjie bring en vir hulle verduidelik waarvan Hy praat, wat sou jy sê? Waarvan praat Jesus? “Die tyd het gekom” - vir wat? Jy wag half dat Jesus sal sê: Die tyd het gekom dat Ek verneder sal word. Die tyd van die groot vernedering is hier!
Maar dis nie wat Jesus sê nie. Hy verras ons, en sê die laaste ding wat jy sou verwag. Hy sal sê. “Die tyd het gekom”, sê Hy, “dat die Seun van mens verheerlik moet word.” Jesus sê die tyd het gekom vir sy verheerliking! En skielik besef jy dat ons miskien nog al die tyd verkeerd gedink het oor Pase.
Ons sien dit as die uiterste vernedering, dat hulle die Seun van God soos ‘n krimineel aan ‘n houtkruis gespyker ophang, vir almal wat daar verbyloop om uit te lag en te bespot. Ons sien dit as die laagtepunt van Jesus se mens-wees. Maar dis hoegenaamd nie hoe Jesus daaroor dink nie. Jesus noem dit sy verheerliking!
- Waarom “verheerliking”?
Maar ek dink Jesus het geweet ons gaan ons koppe skud as ons dit lees, en nie verstaan waar Hy daaraan kom nie. Daarom vertel Jesus toe die gelykenis van die koringkorrel. En dis soos al Jesus se beelde, ‘n wonderlike beeld. Want selfs ek en jy wat stadsmense is, weet iets van die ongelooflike potensiaal van die koringkorrel. ‘n Koringkorrel het die vermoë om baie mense kos te gee.
Maar dan moet jy hom nie iewers in jou kluis gaan toesluit sodat niemand hom kan steel nie. Want daar in die kluis op op jou rak in jou koringkorrel-botteltjie gaan hy niks werd wees nie. Hy gaan hoegenaamd nie beantwoord aan die potensiaal waarmee die Here hom gemaak het nie. Nee, ‘n koringkorrel moet weggegooi word, in die grond begrawe word, waar hy kan verdwyn sodat hy nie verder bestaan nie. En dan gebeur die wonder: daardie koringkorrel word ‘n plantjie, wat deur die grondoppervlak breek en ontwikkel en groei, en op die ou end duisende ander koringkorrels dra. Die koringkorrel moet sterf om ‘n oes te kan lewer, want dis al hoe hy aan sy lewensdoel sal kan beantwoord.
Dis waarvoor Ek gekom het, sê Jesus. Ek het juis gekom vir hierdie uur. Wat in hierdie komende Paasnaweek gaan gebeur, is eindeloos meer as ‘n ernstige menseregte-vergryp wanneer ‘n onskuldige mens veroordeel word om die massas tevrede te stel. Dis baie meer as die tragiese lyding en dood van Iemand wat dit op geen manier verdien nie. Die oomblik het gekom, sê Jesus, vir die groot konfontasie tussen lig en donker waarop die hele geskiedenis nog tot dusver afgestuur het. Die tyd het gekom om die triomftog van die dood en sy trawante in ons wêreld te stuit, om die lig weer te laat deurbreek sodat God se skepping en sy kinders weer in hoop kan lewe. Dit was al die pad God se plan, en dis waarvoor Ek mens geword het, waarvoor Ek hier is.
Maar waarvoor, Jesus? Sou jy Hom tereg kon vra. Wat gaan U daaruit kry, om hierdie patetiese klomp rebelle te red van die ondergang wat hulle dubbeld en dwars verdien het? Dis nie asof hulle ooit wafferse volgelinge sal maak nie – U gaan altyd met hulle sukkel! Waarom sou Jesus dit dan doen? Waarom sou Hy alles so prysgee? Jesus se antwoord is eenvoudig...
Dit gaan om die eer en die wil van God... Dit is sy wil, dat die mense wat Hy gemaak het, nie almal verlore moet gaan nie, maar dat die wonderlike verhouding wat daar aan die begin tussen Skepper en skepsels was herstel moes word. Dis die wil van God dat ons moet LEWE. En God se wil is ononderhandelbaar. Niks is so belangrik soos God se wil nie. Ook nie ons gerief of ons veiligheid nie. Dit gaan alles net om die wil van God... Daarby is sy eer op die spel. God sal nie toelaat dat sy teëstaander triomfeer nie. Hy is God, en die vyand sal uitgegooi word buitentoe. Jesus se verheerliking, se triomf, is Satan se doodsteek. Sy einde is in sig.
- Die Koringkorrel en jy
Tot nou toe het Jesus oor Homself gepraat. Hy is die koringkorrel wat moet sterf om reuse vrug te dra. Maar dan, skielik, begin praat Jesus oor ons. Jy kry twee soorte mense in die kerk, sê Hy. Twee soorte wat Hom probeer volg. Jy kry aan die een kant dié wat die koringkorrel krampagtig beskerm. Hulle sal enigiets doen om tog net nie die koringkorrel prys te gee nie. Maar dis omdat hulle nooit die wil van God verstaan nie. Want die lewe wat God gee, werk heel andersom as wat ons dalk sou verwag. Ons reken as iets regtig vir jou belangriker is, moet jy dit so veilig moontlik met jou lewe bewaak. Maar in God se koninkryk werk dit andersom. In God se koninkryk moet jy prysgee om te kan wen. In God se koninkryk is dit juis die koringkorrel wat in die grond val en sterwe, wat lewe.
En dis presies wat die tweede soort volgeling doen. Hy het geleer om te laat gaan... en juis daarin lê vir ons die geheim van ware lewe. Want dis juis wanneer ons onsself weggee in God hand, en sy wil vir ons belangriker raak as ons eie, wat die lewe vir ons begin blom, en wat ons kan begin om waarlik vrug te dra. Dis mos presies wat Jesus oor en oor vir ons gesê het. En hier baie letterlik vir ons uitspel: “Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.”
Jy sien, God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur sodat Hy vir jou moet volg nie. God se wil is dat jy alles moet los en Hom volg. En die woordjie is alles. En dis hoekom ons in die kerk vir amper ses weke lank die lydenstyd vier. Om my en jou te herinner aan die koringkorrel. Sodat ons dit met eindelose dankbaarheid sal onthou. Maar sodat ons dit self ook kan begin lewe. Want dis eers as jy aan jouself sterwe, wat jy regtig begin LEWE. Soos die koringkorrel...
AMEN