Luk.22: 14 – 23

Datum: 18 November 2018 (Aanddiens)

Prediker: Johan Morkel

Ete, kos, is vir ons belangrik.  Ons eet nie net om aan die lewe te bly nie, kos hou ook vir ons ander betekenisse in.  Dink maar aan die saamwees/samesyn, rondom ‘n etenstafel.  Die sosiale aspek, verhoudings wat gesmee en uitgebou word, die gesprekke met tafelgenote, die lag en die traan!  Dink vir ‘n oomblik hoe groot rol kos in ons lewens speel!  Daar is soveel kosprogramme op televisie: mastersjef, kokkedoor, Jan Braai, kom ons braai saam, die baie programme wat resepte deurgee.  Dink maar aan hoedat elkeen van ons ‘n gunsteling restaurant, gunsteling wegneem-ete, gunsteling dis/gereg, gunsteling koffie-shop het!  Dink ook wat ons doen as ons ons kinders wil sien? As ons bietjie wil opvang met vriende wat ons lanklaas gesien het?  As die familie wil bymekaar kry?  As kollegas ‘n jaar wil afsluit?  Ons eet saam!  Ons het dit nou ook weer met die Alpha-kursus beleef.  Ons het elke aand in die kleiner groep om die tafel saam geëet.  Dit is merkwaardig hoe die saam-eet ons saam gesmee het, saam gebind het en verhoudings geskep het.

 

In Jesus se tyd was saam-eet ook belangrik.  Daar is verskeie verwysings in die Evangelies na kos.  Ons lees dat Jesus by Matteus die tollenaar aan huis gaan eet het(en dat die Skrifgeleerdes en Farisieërs ontervrede as).  Jesus het by twee geleenthede die skare met vissies en brood gevoed.  Jesus het beelde uit die kos-wêreld gebruik: sout en suurdeeg.  Jesus het vir die Kanäanitiese vrou gesê: “Dis nie mooi om van die kinders se kos te neem en dit vir die hondjies te gee nie! “ Die Johannes Evangelie sluit af met Jesus wat vir sy dissipels vis/brood op die strand braai.  Ons lees in hierdie gedeelte hoedat Jesus die Nagmaal instel.  Weereens het dit te make met wat die mense geëet en gedrink het: brood en wyn.  Ons moet onthou dat die Jode op daardie aand Pasga gevier het as herdenking van hul uitredding uit Egipte.

 

Kom ons herinner mekaar net gou weer:  Pasga het sy herkoms aan die uittog uit Egipte.  Op die vooraand van hul uittog uit Egipte moes elke Israelitiese gesin ‘n jaaroud lammetjie sonder gebrek slag en die bloed aan die deurkosyne smeer.  Daarna moes hulle die vleis van die lammetjie braai en met ongesuurde brood en bitter kruie eet.  Maar dan sê Eks.12:14 ook “Dit moet ‘n vaste instelling wees.”  Die Israeliete moes Pasga elke jaar vier as herdenking aan hul verlossing uit slawerny.  Pasga was die O.T.-verlossingsmaal.  Maar Pasga was nie die ware Jakob nie – dit was ast’ware ‘n voorgereg.  In Luk.22 stel Jesus die ware Verlossingsmaaltyd, Nagmaal in.  Dit is nie ‘n jaaroud lammetjie sonder gebrek wat geslag word nie, maar Jesus, die Seun van God, die Lam van God, wat aan ‘n houtkruis sterf.  Dit is nie ‘n jaaroud lammetjie wie se bloed aan die deurkosyne gesmeer word nie, maar die bloed van Jesus Christus wat vloei vir ons verlossing!  Nagmaal is die ware Verlossingsmaal!

 

Ek wil graag vanaand drie opmerkings oor Nagmaal maak.  Die eerste opmerking: Dit is nie die dissipels wat vir Jesus ‘n afskeidsmaal aanbied nie.  Ons lees nie dat hulle vir Jesus sê: “Sit Jesus, wees gemaklik, ons bedien U nie”!  Nee vriende, en dit is die eerste opmerking, Jesus is self die Gasheer by die Nagmaal.  Jesus bedien sy dissipels, gee aan elkeen brood en wyn.  Jeus bied hiermee die verlossing wat Hy sou bewerk aan elkeen van hulle aan!  Dit gebeur ook vanaand. Jesus is die Gasheer by die Nagmaalviering.  Jesus is hier by ons teenwoordig, ons hoef nie noodwendig te voel of Jesus hier is nie.  Jesus is waar gelowiges bymekaar is.  Ons moet dit glo!  Maar meer nog, Jesus bedien ook die brood en die wyn aan elkeen van ons soos Hy sy dissipels destyds bedien het, ookal is ons onvolmaak, vol sonde en voel ons dit nie werd om Nagmaal te gebruik nie.  Jesus bied sy verlossing ook vir ons aan soos vir sy onvolmaakte dissipels destyds!  Die Here nooi ook vir jou na sy Verlossingsmaal, netsoos jy is.  Hulle vertel die verhaal van ‘n meisie wat na ‘n nag van gefuif en alles wat daarmee saamgaan, eers die Sondagoggend vroeg teruggekeer het na haar huis.  Oppad huistoe het sy by ‘n kerkie ingestap en gaan sit.  Die priester was besig om Nagmaal te bedien.  Toe die priester die Nagmaaltekens vir haar aanbied, het sy gevoel sy is te sondig om dit te gebruik, gehuil, haar kop geskud en gewys dat sy dit nie kan gebruik nie.  Die priester het vir ‘n oomblik by haar gehuiwer en vir haar gesê “Take it, girlie, it’s for sinners!”  Die Gasheer nooi jou vanaand om die Nagmaal te gebruik.

 

Die tweede opmerking.  Finansies speel dikwels ‘n rol as ons moet besluit waar – by watter restaurant - ons gaan eet, wat ons gaan eet, wat op die spyskaart ons kan bekostig.  Ek wil vir julle ‘n vraag vra.  Wat is die duurste wat jy nog vir ‘n ete betaal het?  Wat is die duurste gereg wat jy nog geëet het?  Dié gereg staan voor jou vanaand op die tafel.  Dit wat jy vanaand gaan eet en drink, is die duurste prys wat ooit betaal is vir wat ek en jy ooit sal eet en drink!  Dit het die lewe van die Seun van God gekos: Jesus sterf aan die kruishout op Golgota!  Jesus het klaar betaal.  Vir my en jou word dit gratis aangebied.  Ek en jy kan aansit en deelkry aan dit wat Jesus met sy lewe vir ons gekoop het!  Kom ons besef ook vanaand die erns hiervan as ons Nagmaal gebruik!

 

Die derde en laaste opmerking.  Wat is op die spyskaart vanaand?  Brood en wyn of druiwesap.  Sulke eenvoudige kos, maar God het in sy Alwysheid beskik dat die brood wat ons eet, die simbool is van Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is.  Jesus sê in v.19: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.  Gebruik dit tot my gedagtenis.  God het in sy Alwysheid beskik dat die wyn of druiwesap wat jy vanaand gaan neem, die simbool is van Jesus se bloed wat vir ons gestort is.  Jesus sê in v. 20: Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed wat vir julle vergiet is.  Dit wat vanaand op die spyskaart is, getuig van, vertel van die Drie-enige God se liefde en genade vir jou en my.  Dit vertel van God die Vader wat sy Seun Jesus gestuur het om as Lam van God aan die kruis geslag te word vir ons sondes.  Dit vertel van Jesus wat sy lewe op Golgota vir ons gegee het.  Dit vertel ons dat die H.G. hier by ons is as ons die Verlossingsmaal gebruik!  Ek wil vra dat ons in stilte, miskien met toe oë as dit jou pas, sal sit terwyl Marieta Loubser vir ons “Houtkruis” sing.