2 Korintiërs 8:9-16; 9:6-15
Datum: 20 Oktober 2019
Prediker: Hannes Burger
Daar is tekste wat elke dominee vermy.
Daar is nogal goed waaroor dominees twee keer dink voordat hulle daaroor preek. Ek onthou hoe iemand my as baie jong dominee’tjie gewaarsku het om tog net nooit huweliksake op die kansel aan te roer nie. Blykbaar mag jy nie daaroor preek nie, al praat die Bybel nogal op baie plekke duidelik daaroor. Toevallig was dit destyds dieselfde tyd van die referendum (onthou jy dit nog?) en toe het ek nog iets bygeleer: ‘n dominee mag nooit politiek praat nie. Ek onthou hoe ek in die moeilikheid was toe ek een Sondag oor versoening gepreek het en ek het nie eens geweet dis politiek en jy mag ook nie daaroor preek nie. Maar daar is nog ‘n derde ding waaroor geen dominee ooit mag preek nie, en wee jou as jy sou probeer.
En dis oor geld. ‘n Dominee mag nooit praat oor geld nie. Elkeen wat ‘n stok soek om ons kerk mee by te kom, sal klaar baie vinnig vir jou sê dat die NG Kerk net in geld geïnteresseerd is. Wat nogal ‘n baie interessante opmerking is, want ons kerk is omtrent die enigste een wat nie van mense ‘n tiende van hulle inkomste eis nie – doodeenvoudig omdat die Here dit nie in die Nuwe Testament vra nie. Maar nog altyd hang hierdie albatros om ons skouer: die NG Kerk stel net in geld belang.
Maar hoe meer ek dink oor hierdie taboe-onderwerp hoe groter raak my probleem. Want jy sien, dis nie asof die Bybel nie oor jou geld praat nie. Inteendeel! Dit praat so gereeld oor dankoffers, dat ek as dominee dit tog nie durf ignoreer nie. Dankoffer is integraal deel van Christen-wees, of ons dit nou wil weet of nie. Dis nie opsioneel nie. Dis nie iets waaroor ek en jy regtig ‘n keuse het, en maar self kan besluit of ons lus is daarvoor of nie.
Dit maak my verskriklik bekommerd. Want teen die tyd weet julle al dat meer as helfde van ons besoekpunte geen dankoffers gee nie. En dis nie ‘n probleem omdat die gemeente so swaar kry, of omdat ek bang is ek verloor dalk my werk nie. Wat my baie meer pla, is dat die Bybel sê dat dit ‘n baie gevaarlike simptoom is. Want dankoffers is nie opsioneel nie. As ek en jy die Here ernstig neem, móét ons hoor wat 2 Korintiërs 8 en 9 vir ons sê. Dis nie ou testamentiese wette hierdie, wat jy kan dink al verval het of dalk vervul is of iets nie. Dis die Woord van God.
Kom ons vergeet dus daarvan dat mense sê die NG Kerk net geïnteresseerd in geld is. Dis in elk geval doodeenvoudig nie waar nie: Ons is nie ‘n besigheid wat wins moet najaag en vet reserwes moet ophou nie. Ons stel nie in lidmate belang oor wat ons uit hulle sakke kan kry nie. In meer as dertig jaar in die bediening het ek sellf nog nooit in die kerk se boeke gaan kyk hoe lyk enigeen van julle se bydrae nie. Dis ‘n saak tussen jou en God. Dis nie my besigheid nie. En as ek vanoggend Korintiërs 9 preek, is dit omdat hier oneindig meer op die spel is as geld.
- Het God regtig ons geld nodig?
Maar wag, nou het ek myself bietjie vooruit geloop. Kom ons begin eerder by die begin. Die belangrikste vraag. Hoekom vra die Here van ons geld? Ons bely tog dat alles maar alles klaar aan die Here behoort. Nou hoekom vra Hy dan ons geld? Het God dalk ons geld nodig? Vra God van ons ‘n bydrae omdat sy kerk net kan voortbestaan as ons ons ledegeld gereeld betaal nie? Nie regtig nie. Wie so redeneer, verstaan baie min van kerk-wees, en selfs nog minder van God se hart.
Onthou die dag toe die dissipels by Jesus gekom het ewe bekommerd oor hulle belasting-aanslag wat betaal moes word? Wat doen Jesus toe? Hy stuur hulle om te gaan visvang. En daar in die vis se bek, kry Petrus toe die geld wat nodig was. Ons God kan geld in visse se bekke kry as Hy dit nodig sou hê. Hy is nie afhanklik van jou beursie, en van wat jy ook al kans sien om vir Hom af te knyp soos vir die ou wat jou kar oppas by die supermark nie.
Verstaan jy regtig al dat alles behoort aan die Here? Psalm 24 sê: “Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” en 1 Korintërs 10:26 herhaal dit. Alles behoort aan die Here – alles! Ons hoef nie vir Hom te sorg nie. Inteendeel, Hy sorg vir ons! Hy vra nie van jou ‘n dankoffer omdat Hy verleë is oor ons hulp nie. Nee, Hy doen dit om ‘n heel ander rede. Dis nie ter wille van Homself wat Hy van ons dankoffers vra nie. Dis ter wille van onsself...
- God is die Gewer van alles.
Maar wag net ‘n oomblik. Wat beteken dit wat ons so pas gesê het? Wat beteken dit dat alles aan God behoort? Dit beteken dan dat niks regtig aan jou behoort nie. Hoor jy? Alles wat jy besit, is net aan jou geleen. Soos jou gesondheid, byvoorbeeld, en elke lewensoomblik. Maar ook jou gesin behoort aan God. En jou huis, en jou kar en jou werk, en elke bloue duit in jou beursie. Alles is syne. Die ongelowige ontken dit; hy eien dit vir homself toe. So probeer hy vir God beroof. Maar ek en jy weet niks daarvan is myne nie. Alles behoort aan God.
En nou kom vertrou Hy dit aan jou toe. In oorvloed. Ek gee julle méér as genoeg, sê die Here. En dis waar. Soos ons hier sit, is ons van die rykste mense op hierdie vasteland. Maar dit wat God vir ons gee, is ter selfder tyd ook ‘n toets. Dis die grootste toets van almal, want dit wys waar jou hart regtig lê. En dis die toets: Hoe jy oor jou geld dink, wys of jy die leuens van die duiwel glo. Want hy probeer ons oortuig om krampagtig aan elke sent vas te klou. En so behaal hy sy grootste oorwinning in jou lewe. Want solank jou hande krampagtige vuisies vasklou aan jou geld en jou wêreldse goed, kan jy nie aan God vashou nie. Dis onmoontlik. Want net ‘n oop hand kan aan God vashou.
Nou wat wil God dan nou eintlik hê moet ons daarmee maak? God vertrou dit aan ons toe, sodat ons dit kan saai, sê vers 6. Dít is ons roeping. Jy is God se kanaal waardeur Hy ander wil seën. God gee vir jou, sodat jy kan gee! En die logika daarvan is eenvoudig: As jy dit nie eens self besit nie, hoekom sal jy dit toelaat om jou te besit? Moenie dan nie daaraan vasklou nie. Kom vry. En begin saai... Mildelik en ruim, soos die Saaier mos doen.
- Maar geld is maar ‘n klein deeltjie van jou dankoffer.
Maar ek wil nie vandag net preek oor dankoffers, asof ek jou probeer motiveer vir volgende Sondag nie. Nee, dit gaan hier oor oneindig meer. Want onthou: God gee nie vir ons net fisiese goed nie. Hy gee bowenal Homself. Dis tog waaroor die tekens hier op die tafel gaan. En dis op die ou end waaroor Christenskap gaan: voor jy nie leer om op te hou om vir jouself te leef, en leer weggee nie, sal jy nooit vry kom en nooit lewe nie.
Eintlik het vers 8 my hierdie week tussen my oë geslaan toe ek dit lees. Ek het al so baie hierdie woorde gelees: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk” en daarna sê vers 11: “Hy maak julle altyd in alles ryk genoeg om by elke geleentheid vrygewig te kan wees.” Weet jy wat is interessant hieraan? Hierdie mense aan wie Paulus skrywe, die vroeë Christene, was van die heel armste mense in die stad – en tog noem Paulus hulle “ryk genoeg”. God gee altyd vir ons genoeg dat ons kan deel – maar geld is maar ‘n klein deeltjie van wat jy moet deel. Die vroeë Christene was alles behalwe skatryk, maar hulle het baie gehad om te gee. En jy hoef ook nie skatryk te wees om jouself weg te gee vir God nie, en vir ander om jou nie. Jy kan ook jou tyd te begin gee, jou aandag en jou liefde begin uitdeel, om so ‘n seën te begin word vir ander nie.
Volgelinge van Jesus is vrygewig. Hulle het ‘n oop hand as hulle vir die saak van die Here gee, maar ook as hulle vir ander gee. Want in daardie opsig is hulle net soos Jesus. En dis wat dit beteken om Jesus te volg: dis om te gee...
NAGMAALSFORMULIER
Die laaste aand wat Jesus voor sy kruisiging by sy dissipels was, het Hy die Nagmaal ingestel. Hulle was besig om die Pasga te vier, wat hulle moes herinner hoe wonderlik God sy kinders uit Egipte verlos het. Maar Jesus toe al geweet dat Hy die volgende dag gekruisig sou word. Daarom het Hy die Nagmaal ingestel. Toe Hy die brood neem en uitdeel, het Hy afgewyk van die Jode se gebruik, en gesê: “Dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy die beker wyn geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaraan dink, tot my gedagtenis.”
Dis ook hoekom ons vanoggend die Nagmaal vier. Dis omdat óns van geboorte af slawe van die sonde was. Ons sou almal hel toe gaan, maar God was te lief vir ons om dit toe te laat. Daarom het Hy Iemand anders vir ons sonde laat betaal. Daardie Iemand was sy eie Seun, Jesus Christus.
As ons die Nagmaal geniet, onthou ons dan dat Jesus aan die kruis vir ons gesterf het, sodat ons vry kan wees en kan lewe, en eendag hemel toe kan gaan. Dis waaraan hierdie tekens ons herinner. Dit herhinner ons daaraan, hoe lief God ons het, en hoe wonderlik Hy ons verlos het, sodat ons sy kinders kan wees. Hierdie broodjies herhinner ons aan sy liggaam wat vir ons gebreek is, en die wyn aan sy bloed wat vir ons gestort is.
Maar dis nie al wat gebeur as ons die Nagmaal vier nie. Daar gebeur ook iets anders, as ons dit so saam geniet. Daar gebeur ‘n wonderwerk. Omdat ons almal dieselfde broodjies eet en van dieselfde sap drink, bind die Nagmaal ons saam. Hier aan die tafel van die Here word ons broers en susters, deel van God se groot gesin. Die Nagmaal maak van ons een groot familie.
Maar die Nagmaal bind ons nie net aan mekaar nie; dit bind ons ook weer aan die Here. Dit help ons om vir Hom te lewe, sodat Hy ons Koning kan wees. Verder maak dit ook ons geloof sterk, sodat ons meer tot sy eer sal lewe.
Daarby herinner dit ons daaraan dat Hy weer kom. Eendag gaan ons in die hemel weer so aansit, as Jesus weer gekom het, en almal saam fees vier. Natuurlik weet ons nie wanneer dit gaan wees nie, maar ons weet dit kan enige oomblik wees, en daarom moet ons reg wees as Hy weer kom.
Die Nagmaal is bedoel vir hulle wat glo in die Here. Wat weet dat hulle nie volmaak is nie, maar juis die Here nodig het. Net mense wie se Koning Jesus regtig is, mag aan die tafel aansit.
In die Nagmaal vier ons dat God ons só lief het, dat Hy vir ons sy eie Seun gegee het, sodat Jesus aan die kruis vir al ons sonde betaal het. Dit help ons om nou met nuwe ywer vir Hom te gaan lewe.
Lied terwyl die tafel gereed gemaak word
Aan die tafel:
Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees en ‘n ewige lewe.
Gebed
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
Gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;
en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid
AMEN.
Uitdeel van die tekens
Instelling van die tekens
“Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
“Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo dat sy bloed gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”
Danksegging
“Ek wil die Here loof, met alles wat in my is wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103)
Kollekte, slotsang & seën: “Die Here sal julle seën en julle beskerm;
die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees;
die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”
AMEN.