Openbaring 19:5-10
Datum: 7 Junie 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Ek lees die afgelope week so oor die baie goed wat mense sê oor die nuwe reëlings van kerk-wees in die grendeltyd. Veral dit wat ouens op sosiale media kwytgeraak het. Ek moet erken, dit het my end-end nogal ietwat verstom. Mense sê mos alewig goed waaroor jy maar net jou kop kan skud. Ek moet erken, aan meeste van die kommentaar het ek my min gesteur. Maar daar was tog een ou wie se snedige kommentaar in my kop gedraai het. Hy is ‘n besonder uitgesproke ongelowige, en hy sê duidelik hy verstaan nie hoekom enige moderne mens nog enigiets met die Here en met sy kerk te doen wil hê nie. Hy sê reguit: hy verstaan nie hoekom mens vandag nog sou glo nie.
Wat hy sê, is natuurlik nie nuut nie. Ek het al op universiteit gelees wat Nietzsche byvoorbeeld al by die vorige eeuwendig daaroor te sê gehad het. Hy is mos die ou wat destyds voorspel het dat die kerk teen 1950 nie meer sou bestaan nie, en dat jy in ‘n museum vir ‘n Bybel sou moes gaan soek. En nou is dit 2020, en die koninkryk van God gaan steeds voort in ons wêreld.
En tog het die ou se storie my tog bygebly. Want dit het vir my ‘n slag vir myself laat vra: Waarom glo ek? Is dit omdat ek hierdie onomstootlike feite bymekaargemaak het, wat my oortuig het? Tog nie, en tog glo ek na 60 jaar nog altyd dat God nie net bestaan nie, maar dat Hy my liefhet, en dat Hy met my lewe ‘n wonderlike plan het. Is dit dalk ek wat so oulik is? Wat hierdie wonderlike kragtoer reggekry het, dat ek teen alles in kan glo – iets wat nie almal duidelik hard genoeg probeer of dn nou regkry nie? Wat maak dat ek glo en ‘n ander ou nie?
Die geskenk van die geloof
Wel, een ding is seker: dis nie my eie prestasie nie. Dis nie omdat ek minder vrae as die volgende ou het nie, of omdat ek dalk al die antwoorde het nie. Nee, hoe meer ek daaroor dink, hoe meer besef ek geloof is hoegenaamd nie iets waaroor ek myself op die skouer kan klop nie. Dit was ‘n geskenk, sê Efesiërs 2. En ‘n geskenk is nie iets wat jy verdien nie. Jy ontvang dit net. En wat hierdie geskenk nog wonderliker maak, is dat die Een wat dit gegee het, ook verantwoordelikheid neem om hierdie geskenk vir altyd te bewaar en vertroetel, en te laat groei. Weet jy, dalk is ‘n geskenk nie iets wat jy moet probeer verstaan nie. Dalk is dit iets wat jy net moet in verwondering en dankbaarheid waardeer en geniet...
Dalk is dit bietjie soos ‘n troukaartjie. Jy verdien nie regtig ‘n uitnodiging na ‘n troue toe nie. Jy kan nie eintlik self sorg dat jy die bruidspaar jou móét nooi nie. Maar as jy daardie troukaartjie die dag in jou posbus kry met jou naam op, dan weet jy hier kom ‘n ding. Dan kan jy gerus maar na die fees begin uitsien. Want jy gaan ook troue hou. Jou plek is daar bespreek!
Openbaring 19
En dis waaroor Openbaring 19 gaan. Natuurlik sluit dit aan by die toer waarop Chris ons in Pinkstertyd geneem het deur die sewe gemeentes van Openbaring 2 en 3. Onthou jy nog hoe ons saam met Chris ook baie bewus geraak het van die gebrokenheid en tekortkominge van die kerk? En die oproep om weer tot bekering te kom, sodat Jesus regtig die Hoof van die gemeente kan wees?
Maar nou laat die Here dit nie net daarby nie. Hier in Openbaring 19 kom Hy ons troos en herinner ons aan waarheen ons op pad is. Hy herinner ons daaraan dat die Heilige Gees ons juis op hierdie pad begelei, en presies dít doen waarvoor God Hom uitgestort het, naamlik om ons elke dag vas te hou en ons toe te rus vir hierdie dikwels uitdagende pad. Hy kom ook vir ons vanoggend herinner aan die dag wat ons die wenstreep gaan bereik, die dag wat die poorte vir ons sal oopgaan, en ons oorweldig gaan staan deur die groot gedruis daarbinne, wat klink soos die Augrabiesvalle as die Gariep in vloed is. Soos die gedreun van donderweer oor die Karroo vlaktes, waar jy die gedreun fisies kan voel resoneer deur jou borskas, sodat dit deel raak van jou. En as jou ore hierdie geweldige geluid gewoond begin raak, gaan jy mettertyd agterkom dis ‘n lied wat hulle sing, en gaan jy die woorde begin hoor: “Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as Koning...”
Dan gaan jy weet, dis tyd vir die bruilof van die Lam, en sy Bruid – die kerk - is daarvoor reggemaak. Met fyn, helder blink klere so beeldskoon soos net ‘n bruid kan wees. En net so stralend. Want die swaarkry het sy alles agtergelaat. Die woord Covid sal nooit eers weer in haar gedagtes opkom nie. Lyding, siekte en dood gaan nie meer ‘n faktor in haar lewe wees nie, want “Geseënd is hulle wat na die Bruilofmaaltyd van die Lam uitgenooi is”.
Hoe moet ek dit verduidelik, aan daardie siniese ongelowige wat die kommentaar geskrywe het? Hy verstaan nie, want dit is nie vir hom gegee om dit te verstaan nie. Daarom moet hy sy hulp en sy god elders gaan soek. Eintlik is hy maar sommer self sy god – en hoe tragies is dit nie om so ‘n patetiese godjie te dien nie. Dis verskriklik, vir hom en vir miljoene ander soos hy.
Maar vir my en jou herinner Openbaring 19 om ons kop op te tel, en verder te kyk. Om bo-oor die Grendeltyd met sy eindelose tragiek en hartseer te kyk. Want voor in die wapad brand daar ‘n lig, het die ou mense altyd gesê. Voor in ons lewenspad lok die oorweldigende lig van troonsaal, waar die bruilofsfees van die Lam op die punt is om te begin.
En wat maak jy, as jy dit onthou? Johannes het nie eens geweet nie. Hy is só oorweldig deur wat hy daar sien, so totaal verbysterd, dat hy voor die engel neerval om hom te aanbid. Dis so byna ‘n humoristiese prentjie. Ek kan my voorstel moet hoeveel deernis die engel hom aankyk. Nee. Moenie, Johannes. Ek is een van julle. Wat jy moet doen, is om God te aanbid. Doen wat Jesus in sy getuienis ons geleer het, Gaan kniel voor God, en lê jou lewe voor Hom neer. Vertrou Hom. Want die Gees wat binne-in jou woon, het self hierdie profesie gegee en Hy gaan dit ook self waar maak.
Ek en jy is op pad na die bruilofsmaal van die Lam. Moenie dat al die geraas rondom Covid-19 jou dit vir een oomblik laat vergeet nie. Aanbid God, en vertrou Hom...
AMEN