Sagaria 4:10

Datum: 6 Januarie 2019

Prediker: Hannes Burger

Dis weer daardie tyd van die jaar. Die tyd van Nuwejaarsvoornemens. Eintlik moet ek sê: dit was weer die tyd van nuwejaarsvoornemens. Want die afgelope week luister ek na ‘n ou wat baie interessant praat oor Nuwejaarsvoornemens, en hy het my oortuig dat meeste sulke voornemens dit nie verder as 4 Januarie maak nie. Dan byt jou edel plan in die stof. Jy steek maar weer daardie dampie aan, en gaan draai maar weer tussen etes by die yskas. Teen die vierde dag van die jaar het jy klaar vergeet van al jou groot en wonderlike voornemes van 1 Januarie. Dan gaan ons meer aan soos gewoonlik - tot volgende Nuwejaarsdag.

 

Die rede daarvoor, sê die sielkundige, is eintlik voor die hand liggend. Want eintlik is 1 Januarie mos maar net ‘n datum op die kalender. Daar is geen magiese krag aan die Nuwejaar, wat gaan maak dat jy nou ewe skielik die onmoontlike regkry nie. Dis eintlik maar net soos 31 Desember - of enige ander datum.

 

Dit raak toe nogal vir my ‘n effe terneerdrukkende gesprek. Maar, gaan hy toe aan, en toe voel ek klaar bietjie beter. Maar dit sê nie mense kan glad nie verander nie. Jy kan verander, sê hy. Die geheim is net om realisties te bly. Moet nou nie sulke groot en wonderlike drome droom dat jy lank voor 4 Januarie al moed verloor nie. Moenie besluit jy gaan die hele wêreld in 2019 verander nie. Moenie dink jy gaan nou alles regmaak nie. Die geheim is om dit treetjie vir treetjie te vat. Begin klein. Maak ‘n klein aanpassingtjie, iets waarin jy dalk kan slaag. Onthou net, jy moet darem iets oorlos waaroor jy in 2020 ook kan besluit...

 

Dit maak nogal vir my sin, het ek so by myself sit en dink. Want dit is mos so, dat die wêreld selde verander deur groot wonderwerke. Ons wil dit eintlik so graag hê, en dan bid ons daarvoor dat die Here tog oornag ons land sal verander en almal se gesindhede wonderlik sal maak. Dat die Here tog herlewing sal gee wat ons kerk weer aan die brand sal steek, sodat ons regtig die kerk sal wees wat Hy wil hê. Ons bid vir ‘n wonder wat net God kan doen. En dan gebeur dit meestal nie. Nie omdat God dit nie kan doen nie, maar omdat dit nie die manier is waarop Hy kies om te werk nie.

 

1. Kersfees is ‘n fees van eenvoud

As jy ‘n illustrasie daarvoor soek, dink bietjie na oor Kersfees, wat ons pas gevier het. Kersfees is sekerlik saam met Paasnaweek loshande die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van ons wêreld. Maar kyk net hoe doen God dit! Enige “events manager” sal jare se nagmerries kry oor hoe God Kersnag gereël het. Na soveel eeue se beplanning. God het al van baie ver af geweet dat Hy sy Seun na die wêreld sou stuur om mense van hulle sonde te kom verlos. En wat maak God, as die gebeurtenis van die eeu – nee, van die millennium – aanbreek? As die Messias kom waarna mense letterlik al eeue lank uitsien?

 

Hy gaan steek dit weg iewers in ‘n agterlike klein dorpie met die naam Betlehem, wat omtrent net so prominent is soos ons dorpie in die Vrystaat met dieselfde naam. En daar gee die Seun van God sy eerste skree – en niemand weet eers daarvan nie. Nie eens die ander gaste in die herberg, in hulle luukse akkomodasie bokant die stal nie. Vandag sou hulle dit ‘n non-event noem.Regtig iets waaroor net skaapwagters opgewonde sou raak...

 

Vandag weet ek en jy van beter. Ons weet dat daardie nag so belangrik was dat ons daarna ons jaartelling daarvandaan af begin tel het. Alles wat daarna gebeur het, was “Na Christus”. Maar daardie nag sou niemand dit eers kon begin raai nie...

En tog is dit hoe God kies om sy koninkryk te laat kom. Soms wel deur aardskuddende groot goed, maar meestal net soos die skree van ‘n pasgebore babatjie iewers in ‘n stal...

 

2. Serubbabel en die dag van klein dingetjies

Maar eintlik moet dit jou nie verbaas nie. Gaan kyk maar in Sagaria 4 doen God presies dieselfde. Dis toe Serubbabel leier van die Jode was, en hy moet nou die onmoontlike regkry: hy moet hierdie verwoeste stad herbou. Stel jou in sy plek. Jy staan voor daardie rommelhope, met ‘n handjievol mense wat gister nog slawe was, en net mooi niks van bouwerk weet nie. Waar begin jy, terwyl vyande julle nog heeltyd bedreig ook?

 

Hoe doen mens die onmoontlike? Baie eenvoudig, sê die Here deur sy profeet: Begin net. Doen net in vertroue op die Here daardie eerste klein babatreetjies. Dalk gaan dit niemand beïndruk nie. Mense gaan dalk hul kop skud en sê: wat help dít tog nou? Maar jy moet weet dat die Gees enigiets kan doen deur iemand wat net bereid is om ‘n begin te maak. In elk geval, sê die Here vir Serubbabel: Dit gaan nie jou eie krag wees, wat hier sal slaag nie. Dit sal God wees. Raak jy net besig met die werk waarvoor God jou roep. Hy sal Hy vir die res sorg... Moenie die klein goedjies minag nie. Begin net.

 

3. 2019

Maar nou is dit 2019. Dis lankal nie meer Kersnag nie. En nog minder is dit 520 VC toe Serubbabel met sy hande in sy hare daar voor Jerusalem se puinhope gestaan het. Dis sowaar 2019. En nou is ek self nie baie lief vir die term “Nuwejaarsvoorneme” nie. Maar ek moet tog versigtig vra: Hoe sien jy die jaar wat voorlê? Want ek dink tog as mens nêrens heen mik nie, is die kanse ook baie goed dat jy op die ou end nêrens sal uitkom nie.

 

Wat sou jy hierdie jaar anders wou hê? Iemand het een keer gesê die grootste gawe wat die Here vir ons gee, is die lewe. Sy groot geskenk aan jou is 2019. Maar dit wat ons van ons lewe maak, is weer ons geskenk aan God. Dit wat jy gaan maak van hierdie jaar van die 365 dae wat die Here vir jou gee, is jou offer aan Hom. Wat gaan jy uit dankbaarheid as ‘n offer vir Hom gee?

 

En onthou nou ons beginsel. Moenie oorboord gaan en dink jy gaan vanjaar jou hele lewe verander, en die mees toegewyde ou ooit wees nie. Die vraag is eerder: Watter klein stappie gaan jy neem, om regtig ‘n verskil te maak? Wat van ‘n halfuur elke dag? Wanneer laas het jy regtig vir Hom tyd gegee? Dink net: so gaan jy omtrent 180 ure in 2019 saam met Hom deurbring. Dink watter verskil dit aan jou verhouding met die Here gaan maak. Of wag: dalk is daar een ding in jou lewe wat jy lankal weet regtig nie tot sy eer is nie. Net één dingetjie. Begin net iewers!

 

Wat van die verhoudinge waarin jy staan? Watter klein dingetjie gaan jy doen wat jou huis ‘n beter plek gaan maak? En onthou, ons wag nie nou vir iemand anders om die eerste tree te gee nie – dit staan nêrens in die Bybel nie. Wat gaan jy doen, wat die stukke van julle verhouding weer net ‘n klein bietjie meer bymekaar sal bring? Dit kan selfs net wees om weer te sê: Ek is lief vir jou, soos in die ou dae...

 

Wat gaan jy in De Eike doen? Jy hoef nie leierouderling te word nie – ons het al een. Maar al neem jy net kollekte op, of begin ook doppies bymekaarmaak, of maak ‘n slag jou klerekaste leeg. Wat gaan jy doen? Watter klein dingetjie wat regtig ‘n verskil sal maak?

 

Sagaria leer my twee goed, aan die begin van 2019. Een: Moenie klein dingetjies onderskat nie. En Twee: begin net!! Of nee wag, daar’s ‘n derde een ook: Waag dit maar. Want deur die krag van die Heilige Gees, sal jy slaag, in 2019. Want as iemand in die krag van die Gees net ‘n begin maak, kan jy wéét, sál hierdie jaar anders wees...

AMEN