1 Petrus 3:18-22
Datum: 18 Februarie 2018
Prediker: Hannes Burger
Die einde van ‘n era en begin van ‘n nuwe
Verlede Woensdagaand het ons laataand almal vasgenael voor ons televisiestelle gesit. Jy sou dink die Springbokke gaan enige oomblik teen die All Blacks opdraf, so het ons lank na ons slaaptyd met gespanne aandag gesit en wag vir die staatspresident. Uiteindelik was hy daar, en het hy op sy kenmerkende manier darem op die ou end by die punt uitgekom en dit gesê waarvoor die hele land sit en wag het. Ek dink hy was nog aan die praat, toe begin my selfoon al gons. Almal was baie opgewonde, en dadelik het allerhande grappies die rondte begin doen. Want dis mos maar wat ons Suid-Afrikaners maak. As ons bekommerd is, maak ons grappies, en as ons bly is maak ons grappies. Selfs as ons hartseer is, sal iemand ‘n grappie maak en dan voel ons sommer klaar beter.
Maar Woensdagaand het ons toe effe later as gewoonlik gaan slaap met die opgewondenheid in ons, die gevoel dat ons getuies was toe ‘n nuwe era vir Suid-Afrika aangebreek het. En Donderdagoggend was almal in ‘n baie goeie bui. Ek dink almal was laas so opgewonde toe ons die World Cup gewen het. Almal het gevoel dit kan nou net begin beter gaan. Ek moet eerlik sê ek is nogal vir een ou baie jammer, en dis vir ons nuwe staatspresident. Want almal verwag nou van hom ‘n wonderwerk. Ek dink ons moet ernstiger as ooit tevore vir ons regering bid...
Iewers deur hierdie selfde Donderdagoggend het ek 1 Petrus 3 begin lees, ek daar kry ek toe so al die selfde gevoel. Want dis presies waarvan Petrus ook hier praat. Ook hy praat van die einde van ‘n ou era en die begin van ‘n nuwe een – natuurlik net op ‘n totaal ander skaal...
- Die afsluiting van ‘n era:
Daar het vir ons ‘n era geeïndig, sê Petrus. Petrus noem hierdie vorige era in die Grieks die era van die vlees – kyk maar hoe dit in die ou vertaling staan. Hierdie era van die vlees het geeïndig toe Jesus Christus mens geword het en dit kom beeïndig het. Toe Hy aan die kruis vir ons sonde kom betaal het. Daardie oomblik toe die Onskuldige sy bloed gegee het vir die skuldiges, het God ‘n streep getrek deur die ou bedeling, deur ons geskiedenis van opstand en ongehoorsaamheid en sonde. Dit was alles verby. Hy het die skuldbrief teen ons aan die kruis vasgespyker, sê Paulus. In God se oë was daardie era onherroeplik verby.
Petrus illustreer dit deur terug te gryp na die Lied van die lydende Kneg van die Here in Jesaja 53: “Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.”
Jesus het in die vlees, as mens, vir ons kom ly, en dit net om één rede: om ons weer met God te versoen. Om die mense wat God gemaak het, en vir wie Hy eindeloos lief was, weer by Hom uit te bring. Die era van die vlees was verby. Jy dink Woensdagaand se aankondiging was ingrypend. Die nuus van hierdie oorwinning was so aardskuddend dat dit selfs weerklink het in wat Petrus die gevangenis noem, die plek waar die die opstandige geeste wat van God afvallig geraak het, gevange gehou is. In een oomblik, het alles verander...
- Die doop: ‘n verbintenis tot ‘n nuwe lewensstyl.
En terwyl Petrus nou so verwys na die oordeel wat die goddeloses tydens die sonvloed getref het, kan hy nie help om eers net ‘n oomblik daarby stil te staan nie. Onthou julle nog die slag, sê hy, toe God vir Noag en sy familie gered het?
Die hele wêreld het vergaan, omdat hulle gekies het om hulle rug op God te draai en goddeloos te lewe, maar dit het nie gemaak dat God die baba saam met die badwater weggegooi het nie. Hy het nooit vergeet van die agt mense wat vir Hom gekies het, en Hom gedien het nie. Hy het ook nooit vergeet van sy skepping, van die diere wat nooit gekies het vir die sonde om ons wêreld so te verwoes nie.
Daardie dag toe God die hemele oopgemaak het om alles te verdelg, het God dieselfde vloedwater wat die goddeloses verwoes het, gebruik om sy kinders te red, want hulle het bo-op dit gedryf en so behoue gebly. Want God red sy kinders selfs deur vloedwater heen! Die gemeente vir wie Petrus se brief die eerste keer voorgelees is, het waarskynlik hier na hul asem gesnak. Want hulle het geken van lewensgevaar. Die vloedwaters van vervolging het al oor die vroeë kerk begin spoel, en Petrus herinner hulle daaraan dat God nie sy kinders laat vaar as die vloed kom nie. Of die droogte nie. Of die vervolging nie. Of siekte of dood nie.
God is aan ons verbind, sê Petrus. Want ons is gedoopte mense. Hy het die teken van die doop vir ons gegee, soos ‘n trouring, sodat ons nooit sal vergeet van die bloed van die Onskuldige, wat gevloei het om die skuldiges na God terug te lei nie. Petrus gebruik hier ‘n baie interessante woord. Ons vertaling vertaal dit met “‘n bede tot ‘n skoon gewete”, maar dis eintlik kontraktaal hierdie. Dit kan ook verwys na ‘n kontraktuele verbintenis.
Want dis wat ons as gedooptes aangegaan het. Nie soos ons gewoond is met kontrakte, as gelykes wat beding om ‘n kontrak te sluit nie, maar ontvang as begenadigdes, as mense na wie God toe sy hand uitgereik het, mense wat daarna nooit weer dieselfde kan wees nie.
Dis die wonder vir ons wat glo: dit begin ‘n totaal nuwe era. Ek en jy is daardeur verbind tot ‘n nuwe lewe.
- Die begin van ‘n nuwe era.
Maar nou is dit interessant dat ons dikwels lewe asof die storie hier eindig: asof dit in die kerk gaan om verlossing en ‘n skoon gewete, en niks anders nie. Maar dis nie al nie. Petrus gaan voort: Want hy vertel ons nie net van ‘n afsluiting van die ou era van die vlees nie. In Jesus Christus het daar ook die nuwe era van die Gees aangebreek.
Die onuitspreeklike wonder van die plaasvervangende lyding van Jesus is maar net die begin! Dit het die era van die Gees ingelui, waarin Hy triomfantelik in die Gees verheerlik opgeneem is in die hemel: Daarna kan daar nooit weer enige twyfel bestaan nie. God het Hom verhef tot die absolute ereplek bo alle geskape dinge, selfs bo die magte in die wêreld en bo die engele. Hy is Here van alles en almal!
Die stryd teen die bose magte, sê Petrus, is verby. Jesus het alle bose magte se mag finaal gebreek en hulle tande getrek. Hulle het verloor. Hulle het geen sê verder oor God se kinders nie. By God is ons veilig, en kan hulle niks maak nie. Daarom hoef ek en jy nie in vrees te lewe vir hulle, of vir enigiets of enigiemand anders nie. Ons is volgelinge van Hom aan wie al die mag en eer behoort.
Die afgelope week was die hele Suid-Afrika op hol oor ‘n nuwe begin. Ons hoop almal op ‘n nuwe era vir hierdie land waarvoor ons so lief is. Maar vanoggend kom herinner ek jou aan ‘n nuwe era op ‘n totaal ander skaal. ‘n Nuwe era wat die wolke van die duisternis oor ons verdryf het en ons weer vry kom maak het. Miskien is dit tyd dat ek en jy as gelowiges weer opgewonde begin raak oor ‘n nuwe era wat eindeloos meer ingrypend is as enigiets wat jy hierdie week op TV gesien het. Die era van die Gees het aangebreek, en tog lewe ek en jy dikwels asof ons dit nie weet nie. Asof Jesus ons net verlos het om hemel toe te gaan, en dit is dit.
Gaan lewe met oorgawe en vreugde in God se nuwe era, in Jesus se koninkryk waar jy God leer ken het as jou Vader, wat vir jou lief is en jou nooit uit sy hand sal laat gaan nie. Gaan vier dit vandag. Daar het ook vir jóú ‘n nuwe era aangebreek.
Amen