Markus 10:2-16
Datum: 3 Oktober 2021 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
In Markus 10 lees ons weer hoe die Jode een dag na Jesus toe gekom het met ‘n strikvraag. Jy kan sommer dadelik hoor hoe in hulle skik hulle is met hierdie een, hulle het lank beplan daaraan en is seker hulle gaan hiermee vir Jesus vang. Want Hy kan nie eintlik anders as verkeerd antwoord op hierdie een nie! Want jy sien, sê nou maar Jesus sê: Nee, jy mag nie skei nie, kan hulle sê: O, so jy dink jy is beter as Moses, wat dit wel toegelaat het in Deuteronomium 24. En onthou, vir die Jode daar om Jesus was Moses die Messias van die Ou Testament. As Jesus van Moses gaan verskil, gaan nie een van hulle Hom weer ernstig opneem nie. Dan is dit verby met sy bediening. Maar aan die ander kant as Jesus sou sê: Ja, julle kan maar skei, weerspreek Hy eintlik die woord van God self, en dan is Hy daaroor in die sop. So wat Jesus ook al op hierdie goed beplande strikvraag antwoord, gaan net verkeerd wees. Hy kan nie wen nie!
Mens kry hulle amper jammer. Want hulle is so uit hulle diepte. Hulle hou op geen manier rekening met wie Jesus is nie. Jesus trap nie in hulle strik nie. Hy laat Hom nie vang nie. Hy laat Hom glad nie intrek by hulle argumente van wat reg en wat verkeerd is nie, want dit gaan vir Hom glad nie daaroor nie. Nee, in plaas daarvan vat Jesus hulle na die kern, na God se bedoeling met ons en met ons huwelike.
- Jesus herbevestig die heiligheid van die huwelik.
Jesus vat ons terug na waar alles begin het. Want wat ook al intussen in huwelike gebeur het, en wat ook al op die oomblik in jou eie huwelik aangaan, dit is die kern waar alles begin, en ons kan nie oor die huwelik gesels sonder om daar te begin nie. Die kernwaarheid oor die huwelik is: Die Here het self die huwelik ingestel. Natuurlik het Eva nie ‘n wit rok aangehad nie, en Adam het ook nie ‘n rooi angelier in sy lapel gehad nie. Daar was geen dominee en geen spyseniers byderhand nie.
Maar God het Eva spesiaal vir Adam gemaak, en haar vir hom gegee. Sy was anders as enigiets of enigiemand anders in die skepping, want sy is spesiaal vir Adam gemaak. Sy was die hulp wat gemaak is om by hom te pas, sodat hulle mekaar sou aanvul en mekaar heel sou maak. Dit was inderdaad die eerste troue. En van toe af, deur al die eeue tot vandag toe, was God by elke huweliksbevestiging betrokke.
Selfs by dié waarin Hy nooit geken of erken is nie! Waar die bruid en die bruidegom nie eens bewus was daarvan dat daar nog iemand betrokke is by hulle verbintenis nie. Elke troue wat plaasvind, is deel van die voortgang van God se skeppingswerk, en vandag nog steeds maak Hy vir ons ‘n maat wat ons kan help en by ons kan pas, en lei ons dan na mekaar toe.
Daarom kan dit nooit ‘n verskoning wees om te sê: Die Here was nie destyds deel van my troue nie – ons het Hom toe nog nie geken nie. Dis onsin. God is by elke troue betrokke. Jy moet verstaan dat God ook by júlle troue betrokke was. En dis wat julle huwelik so spesiaal maak! Wat God tot stand gebring het, het geen mens die reg om mee te mors nie. Elke huwelik is heilig en spesiaal. Dit beteken inderdaad ook jóú huwelik is heilig en spesiaal.
- Beteken dit dat daar geen vergiffenis vir egskeiding is nie?
Maar dit bring vir baie mense ‘n wit olifant in die kamer. Die ongemaklike vraag wat die Jode ook hier vra: Wat dan nou van egskeiding? Beteken dit dat dit die een sonde is waarvoor daar nie vergiffenis is nie? Beteken dit dat ‘n mens dit nooit agter jou mag sit en ‘n nuwe lewe kan begin nie?
Nou moet ons oppas om nie dieselfde fout te maak as die Fariseërs in Markus 10 nie. Jy kan sommer sien hulle dink dis vir hulle baie veilige terrein dié. Dis mos maklik om sonde uit te wys as jy oortuig is jy staan nie skuldig daaraan nie. Dis lekker om die vinger na ander te kan wys, en besluit wie is reg en wie is verkeerd, as jy seker is jy is reg. Maar dis presies wat ons nie mag doen nie. Markus 10 is nie ‘n oordeel oor sommige mense nie. Nee, Markus 10 maak ons eerder pynlik bewus daarvan dat daar vier vingers na onsself terugwys...
Ja, egskeiding is vir seker nie God se wil nie. Dit was nooit sy plan dat ons ligtelik hierdie spesiale band maar net weer kan losmaak en aangaan nie. Maar ongelukkig lewe ek en jy in ‘n gebroke wêreld. En daar is baie goed wat kan skeefloop. Daarom het God Moses toegelaat om reëlings te tref vir egskeiding, en dit selfs in die Bybel op te neem in Deuteronomium 24. Ongelukkig is egskeiding in ons gebroke wêreld ‘n realiteit. Dit gebeur wel.
Maar dit verander niks aan God se reëls vir die verhouding waarin ons staan, en hoe ons teenoor mekaar moet optree en hoe ons saam moet lewe nie. En as jy dit verstaan, begin jou oë oopgaan vir die verhaal in Markus 10. Dan sien jy raak dat Jesus nie net hulle strikvraag systap nie, maar ook verder nooit ‘n punt maak oor egskeiding nie. Dat dit glad nie is waaroor dit vir Hom gaan nie. Dat Jesus hier eindeloos wyer kyk.
Dis vandag nog so maklik om die vinger na geskeides te wys, soos die Fariseërs hier. Maar jy moet mooi verstaan dat nie net egskeiding teen God se reëls vir die huwelik is nie. Kom ek verduidelik: Wanneer die Here in Genesis 2 vir Eva aan Adam gee, hoor ons Hom nie vir Adam sê: Hier is jou nuwe vroutjie, en jy mag haar nooit los nie... Nee, wat God vir die eerste paartjie sê, is: Julle sal een word. En dít is God se wil van die begin af vir ons huwelik. En DIS die toets vir ons huwelike...
God praat nie eens in Genesis 2 van egskeiding nie. Hy praat van huwelike waarin man en vrou so gewoond aan mekaar geraak het, dat daar eintlik niks spesiaals meer tussen hulle is nie. Dalk sal ons mekaar nooit los nie, maar ons doen ook geen moeite meer met mekaar nie, dikwels nie eens die moeite om net ordentlik met mekaar te praat nie. En dink jy regtig dit is reg? Dit is wat God wou hê? Dink jy dit is tot God se eer? Dink jy dit is gehoorsaamheid aan sy plan vir huwelikspare?
- Dis nie sonder rede dat die seën van die kindertjies net hierna volg nie...
Dis nie verniet dat ons net na die storie oor die Christelike huwelik in Markus lees hoe Jesus die kindertjies seën nie. Want dit is die sleutel – die één enkele ding wat hierdie radikaal anderse verhouding van die Christelike huwelik moontlik maak. En daarvoor gee Jesus vir ons ‘n rolmodel, en daarmee die mees basiese grondreël vir verhoudinge in die koninkryk. Jesus sê in vers 15 vir sy volgelinge (nou nie meer vir die Fariseërs, die buitestaanders nie): “As jy nie soos ‘n kindjie word nie...”
Baie later, in Efesiërs 5:21, skrywe Paulus oor die Christelike huwelik. En weer sê hy niks oor egskeiding nie. Nee, hy sê vir gelowige paartjie, vir jou as Christen-man en Christen-vrou: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig”. Daar is net een manier wat ons huweliksverhouding tot God se eer sal wees, en dis as dit die verhouding tussen nederige dienaars is, tussen kindertjies. Aan hulle behoort die koninkryk, en aan hulle behoort die wonder van ‘n gelukkige huwelik. En dis Jesus se indirekte vraag van Markus 10. Leef jy tot God se eer in die huwelik?
En moet asseblief tog nie vir my vertel dat jy daarmee sal begin die oomblik wat hy of sy dit eerste doen nie – ek kry nêrens so iets in my Bybel nie. Jou lewe as kind van God word tog nooit nie deur enigiemand anders bepaal nie. Nie eers deur jou lewensmaat nie. Dit word deur jouself bepaal. Dit begin by jou...
Vier vingers wys vanoggend terug na jou toe...
AMEN