Jeremia 17

Datum: 10 Julie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

 

So begin een van die heel bekendste gedeeltes van die Bybel, Psalm 1. Of so het hy altyd begin, moet ek eintlik sê. Want dis natuurlik die woorde van die 1933/53 vertaling wat ek en jy destyds in die Sondagskool uit ons koppe geleer het. Welgeluksalig... Ek onthou hoe die woord my as kind gefassineer het. Dis net so duidelik anders as enigiets wat ons hier op aarde ervaar, soveel méér as om net tevrede of gelukkig te wees. Welgeluksalig was nou regtig soos my kinders deesdae sê: Next level. Dis ‘n staat van geluk wat ek en jy ons amper nie kan voorstel nie.

 

Maar nou is dit natuurlik een van daardie woorde wat jy net in die kerk gehoor het, en heel verstaanbaar, want niemand sou tog ooit welgeluksaligheid buite-om die Here kon ervaar of bereik nie. Maar so het die woord toe in die slag gebly, en ons huidige Bybelvertaling gebruik die woord “gelukkig” om die lewe te beskryf van die man wat naby aan die Here lewe. Nie heeltemal dieselfde nie, sou jy dalk tereg kon sê. Daar was tog iets aan daardie “welgeluksalig”...

 

  1. Psalm 1 en Jeremia 17

Na Chris se Pinksterreeks vanjaar sal dit seker nooit weer vreemd wees as iemand Psalm 1 in De Eike aanhaal nie. Want ons weet almal dit die teksgedeelte is wat die Here op ons kerkraad se hart gedruk het in ons soeke na sy wil vir die toekoms van ons gemeente. En so het ons almal daardie Psalm opnuut baie beter leer ken, en dis maar net die begin. Maar nou wonder ek of jy geweet het dat daar ‘n ander gedeelte van die Bybel is wat basies woordeliks presies dieselfde sê?

 

Dis Jeremia 17, wat ons pas gelees het. Wat weer nuwe lig werp op die woorde van Psalm 1. Nuwe lesse wat die Here vir ons deur Jeremia wil leer. En nou is Jeremia 17 om meer as een rede ‘n baie gepasde gedeelte vir ons om vanoggend te lees. Want hierdie afgelope week of twee was vir ons almal ‘n slegte ervaring. Ons het nou al die een vlak na die ander van inperking oorleef, maar Fase 6 Beurtkrag was nogal regtig ‘n skok op ons sisteem. Hoeveel keer het ek nie ingedagte in die verbygaan verniet die skakelaar aangesit nie. En dink net hoe was dit vir Flippie om die noot op die orrel te druk en daar gebeur net niks nie.

 

Dan voel jy so diep teleurgesteld. Asof iets of iemand jou regtig in die steek gelaat het. En dan maak dit nogal sin as Jeremia hier so duidelik sê dat jy nie op mense kan vertrou nie, want hulle sal jou altyd weer in die steek laat....

 

Jeremia skrywe self hierdie woorde in ‘n donker tyd, maar om ‘n ander rede. Donker wolke van bedreiging het oor die land saamgepak. Want in die Noorde het ‘n nuwe monster ontwaak. Nebukadneser was sy naam, en sy Babiloniërs het die vorige verskrikking, Assirië, voor hulle weggevee. Nou was hulle besig om die een stad na die ander plat te loop. En reeds het hulle vir Jerusalem in die visier, en die skatte in sy tempel. Almal was paniekerig. Wat kan hulle doen? Wag, dalk kan ons by Egipte gaan aanklop om hulp. Egipte, van alle mense! maan Jeremia hulle. Hoe kan die volk van God gaan hulp soek by ‘n vreemde moondheid, en dit nogal die een wat hulle vir eeue onderdruk het? Moes hulle nie eerder net die Here om hulp vra nie?

 

  1. God se oplossing

Nee! sê Jeremia. Die oplossing vir God se mense is om so naby as moontlik aan die Here te lewe. Dáárin lê hulle veiligheid en sekuriteit. Die antwoord vir hulle is hertoewyding en gehoorsaamheid. Dan sal die Here vir hulle sorg soos Hy nog altyd gedoen het.  Moenie op Egipte vertrou nie, sê Jeremia – dit sal tot ellende lei. Maar om op die Here te vertrou, aan die ander kant, is om soos ‘n boom by ‘n standhoudende waterstroom geplant te staan. Vas en seker. Selfs die verskriklike droogtes van daardie wêreld kan daardie boom niks maak nie, want sy wortels is in die water, sodat hy soos klokslag sy vrugte kan dra.

 

Verstaan julle nie? vra Jeremia. Lewe naby aan die Here, en laat Hy julle lei. Soek na sy wil, eerder as om julle hart te volg, want die mens se hart is bedrieglik. Om te maak soos jy op daardie oomblik voel of soos dit vir jou voel die beste is, is ‘n resep vir rampspoed. Hoekom sal jy dit waag, as jy ‘n Vader in die hemel het wat die beste weet en vir jou net die beste gun? Hoekom sal jy jouself so uitlewer, as jy kan wees soos ‘n boom wat by die rivier geplant is, wat dwarsdeur die jaar floreer?

 

  1. Jeremia 17 en De Eike

Nou weet jy teen hierdie tyd dat die Gees vir De Eike se kerkraad in hulle soeke na die wil van die Here gelei het na Psalm 1. Ná Chris se hele Pinksterreeks weet julle dit baie goed. Die Kerkraad het hulle en daardeur vir ons as gemeente, verbind tot die waarheid van Psalm 1, die waarheid dat die toekoms en voorspoed van De Eike daarin lê om naby aan die Here te lewe en sy wil te soek – presies die waarheid wat jy net so hier in vers 7-8 kry. En ons almal het ons heelhartig daarmee vereenselwig.

 

Maar wat is nou die volgende stap? Wat moet die beleërde klomp Jode in Jerusalem nou maak en wat moet die lidmate van Kuilsrivier- De Eike nou maak?

 

Die antwoord lê in Jeremia se gebed in vers 14. Jeremia weet dat ware genesing alleen by die Here lê. Hy is die oplossing vir die kwellinge wat dreig om ons samelewing te vernietig, die bekommernisse wat ons so graag in die nag wakker hou. Jeremia weet dat ware genesing en vrede slegs by God te vinde is. Welgeluksaligheid, soos die ou vertaling gesê het. Bo-natuurlike vrede. Ons heil lê by God, en dis waarom Jeremia se onmiddellike reaksie is om voor God te kniel, en Hom in groot nederigheid te nader. Hy is baie klein en afhanklik voor die Here, as hy bid net soos Jesus ons ook geleer het: Here, laat u wil geskied....

 

Daarmee maak Jeremia homself los van die raad wat sy eie hart hom gee, van sy eie voorkeure en sy eie wil, die oplossings wat hy self vir die situasie sou kon bedink. En hy weet dat God sy toevlug is, by wie hy veilig is. Daarom bid hy: “Maak U my gesond, Here, dan sal ek gesond wees. Bevry U my Here, dan sal ek vry wees. Dit is vir U wat ek moet loof...”

 

Wat is dan die volgende stap vir De Eike? Moenie dat die gedreun en geraas daarbuite, en die eindelose gesukkel met Beurtkrag en goed ons fokus in beslag neem nie. Moenie dat dit die deurslaggewende, die belangrikste ding in jou lewe word nie. Want dis tydelik. Dit sal weer oorwaai. Dis nie waaroor dit gaan nie. Dis veel eerder nou die die tyd in De Eike dat ons Jeremia se voorbeeld sal volg. Dat ons klein sal wees voor die Here en met groter erns as ooit tevore sal bid: Maak U my gesond, Here, dan sal ek gesond wees... Bevry U my Here, dan sal ek vry wees. Dit is vir U wat ek wil loof...

 

AMEN