Eksodus 14:15-31
Datum: 17 September 2017
Prediker: Johan Morkel
Die woord gemaksone is baie beskrywend. Dit is die plek waar jy veilig voel, jy gerieflik en gemaklik is, waar alles dieselfde bly, dinge min verander. Ons weet Israel moes onder moeilike omstandighede in Egipte baie hard werk. Tog was dit nie net sleg vir Israel in Egipte nie. Die volk sê in vanoggend se Skriflesing vir Moses “Hoekom het jy ons nie laat staan om vir die Egiptenare te werk nie?” En later in Eksodus lees ons by meer as een maal hoedat hulle terugverlang na die vleispotte van Egipte. Die Israeliete het dus tog ook nes geskop in Egipte, Egipte hul tuiste gemaak. Kom ons sê hulle het in ‘n gemaksone in Egipte gekom.
Die 10 plae het uiteindelik gemaak dat Farao die volk Israel laat trek het. Israel is uit hul gemaksone geskud, is die sekuriteit en geborgenheid van hul verblyf in Egipte ontneem, is oppad deur die woestyn. Hierdie veranderde situasie sou nuwe eise stel aan Israel se geloof, hul vertroue op die Here en hul verstaan van God. In hierdie verse wat ons gelees het, vererger dinge verder vir Israel. Hulle is nie alleen in vreemde omgewing – oppad in die woestyn – nie, maar voor hulle duik die ondeurdringbare Rooi(Riet)see op. Agter hulle is die leërmag van die Farao met sy 600 uitsoek-strydwaens. Israel is letterlik tussen die duiwel en die diep blou see. Menslik gesproke is daar vir hulle geen uitkomkans nie.
Ons word ook soms uit ons gemaksone geneem, ons lewensbootjie word geskud, ons kom onverwags in ‘n krisis-situasies, ons weet soos Israel hier, nie hoe ons gaan oorleef nie. Mens sou di situasies by die naam kon noem. jy verloor jou werk, jy word siek of kry slegte nuus oor jou gesondheid, iemand naby jou kom te sterwe, jou werk verplaas jou na ‘n vreemde plek, jou lewensmaat verlaat jou, die toekoms hou meteens niks goeds vir jou in nie, jy beland in ‘n finansiële krisis. In ‘n groter konteks: die korrupsie en geweld in die land dryf jou landuit, mens dink ook aan die mense wat getref is deur die orkaan Irma, die knellende droogte in die land.
Mense reageer verskillend in 'n noodsituasie. Israel, lees ons hier, het baie bang geword, en benoud na die Here geroep. Dieselfde woord word gebruik as wat gebruik is om die Egiptenare se reaksie op die dood van hul eersgeborenes te beskryf. Hulle het geskreeu tot die Here. Hulle het paniek, hulle het vir Moses, en indirek die Here verkwalik vir die posisie waarin hulle was. Hoe reageer ek en jy? Dalk verlang ons na die gemaksone waarin ons was, gryp ons ook terug na die bekende, wil in die verlede bly leef, verkwalik ons die Here, bal die vuis vir God, “kyk wat het U my aangedoen?”, raak paniekerig, desperaat, neem radikale stappe?
Moses is in hierdie situasie ‘n toonbeeld van geloof en vertroue op die Here1. V.3: Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red. V.14: Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg. Moses vestig Israel se hoop op die Here. Moses is onverskrokke in sy geloofsuitspraak. Moses staan voor God vir die volk. Wat hierop volg, is die gebeure wat ons sopas gelees het. Kom ek maak ‘n paar opmerkings. Hier staan die Here het die Egiptenare koppig gemaak, sy mag laat geld oor die farao en sy hele leer en verwarring onder die Egiptenaars gesaai. Eerste opmerking: Die Here het beheer oor die Egiptenaars. Die Here het die wolkkolom tussen die Egiptenaars en die Israeliete laat inskuif. Aan die Egiptenaars se kant was dit donker en aan Israel se kant lig. Tweede opmerking: Die Here het mag/beheer oor die natuur elemente. Die Here het, toe Moses sy hand uitstrek, die oostewind die see laat wegdryf en die see drooggelê. Derde opmerking: Die Here het ook mag oor die wind en die see. Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, die Here het Israel gered van Egipte. Laaste opmerking: Die Here is aan die kant van sy volk, sy kinders. Die Here is life vir sy kinders.
Kom ons dink vir ‘n oomblik na. Ons aanbid die Almagtige God, die God wat magtiger is as enige ander mag of krag wat bestaan, die God wat in beheer is, die God wat vir ons lief is, aan ons kant is, ons beswil soek! Luister hoe verwoord die Heidelbergse Kategismus dit: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer, ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as 'n almagtige God kan en ook as 'n getroue Vader wil doen. (Vraag/antw 26). Kom ons hou vas aan hierdie feit in ons krisisoomblikke, kom ons laat hierdie wete ons weerhou van paniek, ongeloof, desperaatheid en kom ons sê saam met Moses in krisisoomblikke: bly maar kalm, die Here is daar vir my!
Die wyse waarop die Here Israel uitgered het deur die Rooisee heen, het by uitstek die reddingsverhaal van Israel in die O.T. geword. Familiehoofde het hierdie verhaal aan hul kinders en kleinkinders vertel. Ons verhaal gaan egter verder, vriende. Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges weet dat God in die volheid van die tyd sy Seun Jesus Christus na die aarde gestuur het. Jesus het deur sy kruisdood en opstanding ‘n oorwinning vir ons behaal wat veel groter is as die uitredding waarvan ons hier lees. Jesus het deur sy dood en opstanding die sonde vir ons oorwin, daarom is daar vir ons verlossing van sonde. Jesus het deur sy dood en opstanding vir ons die dood oorwin, daarom is daar vir ons lewe na die dood - die ewige lewe. Jesus het deur sy dood en opstanding vir ons alle ander magte wat bestaan, oorwin, daarom het ons geen ander mag te vrees nie. Rom.8:38 sê: Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus, ons Here. Ten laaste het Jesus met sy hemelvaart vir ons die belofte gegee dat Hy weerkom en die finale oorwinning sal voltrek op satan en sy bose magte, daarom kan ek en jy weet, ons is oppad na ‘n gelukkige einde waar daar geen vyand, geen pyn, geen trane en geen dood meer gaan wees nie.
Hoe moet ons die getuienis van die almag en die uitredding en die sorg van God in hierdie gedeelte in die lig van die N.T. verstaan? Sal die Here ook elke Rooisee in my lewe vir my oopkloof? Sal die Here altyd/elke keer vir my uitkoms gee? Sal ek ook droogvoets deur elke krisis anderkant uitkom? Sal God my siekte genees, my gebed verhoor presies soos ek dit vra, my huwelik red, elke werk gee waarvoor ek aansoek doen, reën gee vir my droë plaas? Dit werk ongelukkig nie altyd so nie. Dit kan ons van eie ervaring getuig. Ons kan wel ons verhaal altyd sien teen die agtergrond/konteks van die groter verhaal van God wat met sy kinders oppad is na die ewige bestemming wat vas en seker staan. Ons kan terwyl ons die Rooisee voor ons sien en die farao se leermagte agter ons, bly vashou aan die God van die Bybel. Hy bly in beheer, Hy is magtiger as enige ander mag wat my benoud en bangmaak, Hy is aan my, sy kind, se kant, Hy bly my vashou, met my oppad wees, Hy sal by my wees tot die einde.
Luister weer na v.31: Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar. Die wyse waarop die Here Israel uitgered het, het Israel met ontsag vir die Here gevul, hul geloof versterk. In die 1ste vers van hfst. 15 sing Moses en Israel ‘n oorwinningslied vir die Here! So behoort dit ook onder ons te werk. Ons moet ons verhale van uitredding, ons verhale wat getuig van die Here se sorg en voorsiening, van gebedsverhoring, met mekaar deel. So versterk ons mekaar se geloof, so bou ons aan die geloofsgemeenskap, so bemoedig ons ‘n ander een wie se geloof op daardie stadium laag is op. So gee ons aan God die eer! Maar dit gaan ook verder. Ons lees v.25: Toe sê die Egiptenaars: Ons moet wegkom van die Here af, want die Here veg vir hulle teen Egipte. En v.4: Ek sal my mag laat geld teen die farao en sy leer. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is. God het nie net ons, sy kinders, in die oog nie, maar die wêreld! Ons getuienis as geloofsgemeenskap het ‘n invloed op die nie-gelowiges tussen wie ons elke dag leef, se siening van God. Die wêreld hou ons as gelowiges dop. Ons is die vertoonvenster van God in die wêreld - soos “window shopping”. Hulle kyk deur die vensters van die kerk na binne om te sien hoe ons lewe, hoe ons ons geloof uitleef, hoe ons in krisissituasies optree, hoe ons die Here in moeilike tye vertrou en hoe God vir ons sorg. En besluit dan of dit die moeite werd is om die Here te dien of nie!