Ef. 3:1-13
Datum: 2 Januarie 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Dis die eerste Sondag van 2022. Net eergister was dit nog 2021 en kon ons dit groet, meeste van ons maar met gemengde gevoelens. Met goeie en slegte herinneringe. Ek moet erken, vir my is daar iets daarin om die oggend op te staan en jou ou almanak te gaan weggooi. Ek hou nogal regtig van die nuwe jaar. Dis eintlik opwindend. Dit lê voor ons soos ‘n oop pad waarop ons nog nooit gery het nie, propvol potensiaal en uitdagings.
En ek dink dis ook reg so. Want as gelowiges mag ons maar opgewonde wees oor die nuwe jaar, want ons gaan hom mos nie alleen in nie. Uitdaging gaan daar vir seker wees, maar ons hoef dit nie alleen aan te pak nie. Op die oomblik is 2022 nog ‘n reuse verrassingspakkie. Wie weet wat alles daarin wag? Dit kan dalk net die wonderlikste jaar van jou lewe wees! Dis soos ‘n groot nuwe spierwit doek wat wag om beskilder te word. Behalwe dat nie een van ons weet hoe die prentjie op die ou end oor 12 maande gaan lyk nie...
Wat maak dan vandag die groot verskil? Wat maak dat ons nie 2022 met vrees en bewing inwag nie? Ek dink wat die groot verskil maak, is dat ons mense met ‘n geskiedenis is. Hierdie is nie ons eerste Nuwejaar nie. Ek gaan liewers nie eens sê die hoeveelste een dit is nie. Maar die waarheid is, ons kom al ‘n ent pad tot hiertoe. En daardie pad was vol opdraendes en afdraende, maar een ding het ons wel in die proses geleer: jy kan God vertrou. Hy laat nooit sy kind se hand los nie. En hoe onbekend 2022 ook al gaan wees, dit gaan niks verander nie. Hy bly vir ewig die Getroue, en ek weet saam met Paulus dat niks in 2022 my sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie.
- Daar het iets in Paulus se lewe gebeur:
Dis waarom Paulus hier in Efesiërs 3 so opgewonde kan klink, al sit hy op hierdie stadium in die tronk, en weet hy nie of hy ooit weer as ‘n vry man daar sal uitstap nie. Paulus is hier opgewonde byna soos ‘n kind, iemand wat nie kan wag om ‘n baie goeie brokkie nuus oor te dra nie. Hy weet iets, en jy kan byna nie kan wag om daarby uit te kom nie. Paulus kan met die beste wil ter wêreld dit nie vir homself hou, dat daar iets in sy lewe gebeur het nie – En daardie iets is dat God besluit het om sy groot geheimenis met hom te deel.
Maar miskien net eers ‘n woordjie oor hierdie “geheimenis”. Dis nie ‘n woord wat ons aldag gebruik nie, maar as jy sou, so jy waarskynlik daarmee bedoel jy ‘n absolute raaisel, waarvan niemand die antwoord weet nie. Dis vir my ‘n geheimenis hoe hierdie virus ontstaan het, sal ek dalk sê. Ek het nie die vaagste benul nie. Maar Paulus bedoel daarmee iets heel anders. ‘n Geheimenis is vir Paulus iets wat niemand tot onlangs geweet het nie, maar wat nou nie meer ‘n geheim is nie. Dis nou geopenbaar, en ons mag weet wat dit is.
En wat is God se geheimenis wat Paulus se asem wegslaan? Dis die goeie nuus dat God se verlossing nou nie meer uitsluitlik vir Jode is nie, maar dat ons almal daarin mag deel. Van nou af is dit nie meer net Jode wat deel van God se volk mag wees nie, maar enigiemand wat glo, is nou welkom. God se nuwe volk bestaan nou uit almal wat glo, wie of wat hulle ook al is. Al vereiste is “hulle verbondenheid met Jesus Christus”, sê vers 6.
Natuurlik is dit nie ‘n splinternuwe plan nie. Dit was deel van God se plan van die begin af. Maar die punt is, niemand het dit geweet nie. Dit was verborge tot op daardie nag wat die engele op Betlehem se velde dit uitbasuin het, en daarna was dit geen geheim meer nie. God se vrede op aarde is vir alle mense in wie Hy ‘n welbehae het! En daarvan het die Gees ook vir Paulus oortuig, en hom die voorreg gegee om hierdie geheimenis so wyd moontlik bekend te maak!
- Hoe raak dit ons?
Wat seker alles wonderlik is. Jy kan selfs bly wees vir ou Paulus se part, want dit klink nogal regtig asof hy erg opgewonde is daaroor. Maar dalk begin jy nou al wonder waar hierdie preek heen op pad is. Wat het dit nou eintlik met ons te doen?
Kom dink ‘n oomblik na oor hierdie afgelope week of twee. En dan besef jy skielik dat dit presies dieselfde is as dit waarvan Paulus hier praat! Want dis presies wat met jou ook gebeur het, toe jy in die gees ook die engele hoor sing het. “Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Daar is vandag in die stad van Dawid vir julle die Verlosser gebore, Christus die Here!” In Kersfees is God se geheimenis opnuut weer aan jou openbaar.
Ons het Kersfees gevier. En ek glo dit was vir jou meer as ‘n lekker kuier met die familie, meer as net die blink ogies van vrolike kindertjies om ‘n kersboom, met mooi liggies en geskenke. Ek vertrou iewers oor hierdie Kerstyd het jy in die gees langs die krip gestaan. En dat jy opnuut hierdie Kersfees weer oorweldig is deur die ervaring daarvan, totaal oorweldig is deur die wonder van God se plan vir die mensdom, wat vir eeue geheim gehou is en nou vir ons almal blootgelê is...
Wat ek eintlik vir jou wil sê, is dat ek en jy in presies dieselfde bevoorregte posisie is as Paulus in Efesiërs 3!
- Die vraag is net: wat nou?
Maar nou moet ons vra soos Chris ons geleer het: So what? Wat nou? Onthou jy nog wat met Paulus gebeur het? Die geheimenis wat die Here aan Paulus openbaar het, het sy lewe totaal verander. Skielik het sy lewe nie meer om homself gedraai nie: hy was nie meer vol van homself, die selfvoldane kerkvervolger, wat status by die Joodse leiers probeer verwerf het en God se guns probeer wen het nie. Nee, Paulus het ‘n dienaar geword... Hierdie geheimenis het Paulus met splinternuwe oë na homself begin kyk. Die selfvoldane Saulus het die geringste van die apostels geword. Vir my is die lewe Christus, het hy self agterna gesê... Wat eers vir my vreeslik belangrik was, beskou ek nou as verwerplik. Ek het deel van die voortgang van die koninkryk geword.
En jy? Watter verskil maak dit dat jy die openbaring van God se groot geheim opnuut weer die Kerstyd gesien het? Wat het die afgelope Kerstyd in jou lewe daardeur verander?
Het jy daar langs die krip ook geleer dat dit nie om jou gaan nie? Dat jou status en posisie, jou stywe bankrekening niks werd is nie? Het jy geleer dat jy nie hier is om gedien te word nie, maar om te dien? Kan jy ook nou sê: Nou lewe ek nie meer nie, maar Chistus lewe in my? Het jy hierdie geheimenis toegelaat om jou lewe te verander, sodat jy in 2022 uiteindelik regtig die Evangelie gaan begin lééf?
Dis die begin van ‘n nuwe jaar. Mag die Here aan jou gee om nie moedeloos te word nie, maar voluit jou roeping te leef in 2022...
Amen
Seën: Mag die Here jou seën met ongemak
oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede
oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane
om te stort vir mense in pyn, wat verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag die Here jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil in hierdie wêreld kan maak
sodat jy die dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
– Ou Franciskaanse seënbede