Openbaring 3:14-22
Datum: 31 Mei 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Verlede jaar het ek en Carina in die Suidwestelike deel van Namibië getoer. Die spookdorp Kolmanskop wat verlate in die woestyn agtergelaat is deur diamantsoekkers, was een van die plekke wat my baie interesseer het. In die vroeë 1900’s was hierdie plek in die woestyn waarskynlik die gevorderdste dorpie in Afrika. Die eerste X-straalmasjien in Afrika was hier te vinde. ’n Dorpie met self opgewekte elektrisiteit, ’n ysfabriek en selfs ’n eie “tenpin bowling baan” het uit die woestyn verrys. Daar was egter een probleem gewees. Maar die inwoners van Kolmanskop het probleme as uitdagings gesien. Die uitdaging was die feit dat daar nie vars water beskikbaar was nie. Water is per skip vanaf Kaapstad na Lüderitz, seewaarts vervoer. Vanaf Luderiz hawe was die water dan met ossewaens Kolmanskop toe karwei.
Terwyl ek daar in die woestyn gestaan en luister het na die gids se vertellings, het ek aan die stad Laodisea gedink. Laodisea was sowat 70 kilometers suid-oos van Filadelfia geleë en was ’n florerende handelstad. Die stad het egter groot probleme met water gehad. Daar was nie goeie waterbronne nie en hulle was afhanklik van ’n bron sowat 10 kilometer buite die stad. Dit was egter ’n warmwaterbron en die probleem was dat teen die tyd dat die water in die stad aangekom het, dit nie meer warm was nie, maar lou.
Die lidmate het goed ingepas in die stad en ’n gemaklike lewe gelei het – wat nie altyd so goed is vir ons geloof en toewyding nie. Van al die gemeentes was hierdie een waarskynlik die vêrste van koers af. En hulle het dit nie besef nie! Met ’n duidelike verwysing na die stad se waterprobleem, sê die Here vir die gemeente dat hulle ook lou geword het. Niemand het daarvan gehou om lou water te drink nie. Dit kon jou naar maak. Een van die kommentare sê dat die “uitspoeg” eintlik vertaal kan word met “Julle maak my siek!”. Dit is ’n kras vergelyking. Maar dit was hoe die Here gevoel het oor waar die gemeente was. Louheid het hier gestaan vir middelmatigheid, halfhartigheid, besluiteloosheid, ’n gebrek aan oorgawe en toewyding. Die gemeente het gehuiwer tussen twee paaie en kon nie besluit wat hulle wou kies en wie hulle wou wees nie. Geleerdes meen dat die vergelyking met die lou water hier beteken dat die gemeente vir niks goed gebruik kon word nie. Met warm of koue water kan jy ten minste iets doen, maar lou water is nutteloos, goed vir niks – en kan daarom maar weggegooi word.
Die vergelyking vertel nog ’n storie. Lou water was min of meer kamertemperatuur. As water blootgestel word aan die omgewing neem dit oor ’n tyd die temperatuur van die omringende omgewing aan. Dit is wat die Here vir die gemeente wil sê: julle het julle identiteit verloor en aangepas by die stad. Die gemeente se louheid was nie al probleem nie. Dit is duidelik uit vers 17 dat hulle ook hulle situasie totaal verkeerd gelees het. Hulle was vol selfvertroue en het goed gevoel oor hulself. ’n Selfvolna gemeente. Dit was grootste fout van die gemeente. Dit wat vir die Here die naarste was om te sien – was dat hulle gedink het “ons het niks meer nodig nie”. Die Here se reaksie hierop is reguit en hard en dit vlek die lewe van die trotse gemeente tot op die been oop. Hulle is nie so ryk en wonderlik as wat hulle dink nie; inteendeel hulle is ellendig, beklaenswaardig, arm, blind en naak (vers 17). Hulle het hulle geloof so goed as prys gegee en verruil vir goed wat waardeloos is. Dis of die Here dit nie kan verstaan nie, sy kop skud en gril daarvoor. Maar dan voeg Johannes ’n merkwaardige sinnetjie by. In vers 19 lees ons dat die Here sê: “Ek bestraf en tug elkeen wat ek liefhet”. Dit is eintlik merkwaardig dat die Here hierdie woorde sê vir die slegste van die sewe gemeentes. Vriende! Dit is die evangelie! Die Here het nie net die goeie gemeente van Filadelfia lief nie, maar ook hierdie dwase, onbekeerde gemeente in Laodisea. Hy sê dit nie om hulle te verdoem nie, maar om hulle terug te bring op die goeie pad. Die woord wat met tug vertaal word is die woord paideia wat leer of opvoed of formasie beteken. Soms gee die Here ons vir ’n tydjie oor aan ons slegte besluite – in die hoop dat ons iets sal leer. Dit is soms die medisyne wat die kerk nodig het om weer ons roeping met nuwe oortuiging, dankbaarheid en drif op te neem.
Die tyd het aangebreek dat ons in hierdie land terugdraai want die gety het gedraai! Jesus staan buite en Hy klop. Jesus is nie in die vertrek waar sy gemeente bymekaar is nie, maar Hy staan buite, voor ’n toe deur! Hoe is dit moontlik? Is Christus nie altyd by ons nie? Ek dink hierdie prentjie wil ons laat verstaan dat ons soms goed doen, goed beplan, selfs goed dink waarmee ons eintlik vir Jesus wegstuur van ons af, waarmee ons dit vir die Here so ongemaklik maak, so teleurstel, so seermaak dat Hy dit nie meer in ons geselskap kan hou nie.
Is ons louwarm? Ons gaan nie louheid afskud deur op ons tande te byt en harder te probeer om warm te wees nie. Wil jy die waarheid hoor? Die waarheid is dat net Christus ons hiermee kan help. Daarom is die regte plek om te begin om Jesus se klop en veral sy stem te hoor, die deur oop te maak en Hom in te nooi – dalk weer in te nooi, of Hom dalk vir die eerste keer regtig in te nooi! Sit jou geloofsbril op en sien weer met jou 20-20 geloofsvisie die wonder van Jesus raak. As ons vir Jesus helder sien, sal ons louheid verdwyn en sal ons gemeentes wees wat onsself met vreugde gee vir die koningkryk van God.
Gebed:
Kom ons vra die Here om ons ’n 20-20 geloofvisie te gee Hom weer in te nooi in ons lewens.
Kom ons bid vir ons mense in wat elkeen die Corona storm op sy of haar manier moet hanteer.
Kom ons bid vir gesondheidswerkers wat onder hewige druk pasiënte met liefde en deernis versorg.
Amen