Openbaring 2:12 - 17
Datum: 26 Mei 2020 (Aanddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Die boodskap aan Pergamum
Die groot vraag in die gemeente was: Tot hoe ver kan ons deelneem aan die bedrywighede van die stad? Die Christene in Pergamum het met ’n ongemaklikheid gesit. Die vraag was tot hoe ver hulle aan die stad se aktiwiteite en feeste kon deelneem. ’n Deel van die feeste was redelik onskuldig, maar dan op ’n stadium het daar afgodselemente en immoraliteit bygekom. En as jy dan onttrek het, het mense skeef na jou gekyk en vrae oor jou begin vra. So, wat doen jy? Vir ’n gemeente wat hulle getuienis ernstig geneem het was hierdie ’n moeilike vraag. Dit kon tog nie wees dat die Christene hulself totaal moes onttrek van die stad en die gewone lewe in die stad nie? Christene was immers die wêreld ingestuur om hulle getuienis ook in die stede van die wêreld te gaan te lewer. As jy nie in die stad is nie, as jy nie op ’n manier deel van die lewe in die stad is nie, is dit nie moontlik om jou getuienis persoonlik te lewer nie.
Ons ken ook die vraag. Tot waar kan ons meedoen en saamgaan met wat rondom ons gebeur? Wanneer kom ons by ’n punt dat ons moet wegstaan en sê: Jammer, dit kan ek nie doen nie. Dit is baie interessant dat Johannes in die gesprek baie sterk uitkom vir die kant van die mense wat gemaan het teen te veel toegewings. Johannes het dieper gekyk en geweet dat dit hier oor meer gaan as net feeste en wat ons eet of nie eet nie. Dit het ook gegaan oor die waarheid en oor die vraag wie ons regtig is en wil wees. Johannes se vrees was dat die Christene in Pergamum ’n pad van vernietiging sou loop as hulle te gemaklik saam met die heidene begin feesvier. Sy vrees was dat wat begin het as ’n goedbedoelde kompromis sou eindig daarby die Christene hulle identiteit en hulle geloof sou verloor. Die stryd in Pergamum het nie net gegaan oor feeste en vleis nie, maar oor die waarheid van die evangelie en die gemeente se Christelike identiteit.
Die gemeente in Pergamum moes leer om die waarheid te praat, te leef – en veral om die waarheid te vertrou. Soos meeste van die ander gemeentes word die gemeente in Pergamum ook opgeroep om hulle te bekeer. Wat hierdie gemeente moes leer was om die waarheid te praat, die waarheid te leef en veral om die waarheid regtig te vertrou. Don’t just talk the talk, you must walk the walk. Hoe gebeur dit? Hoe leer ’n mens die waarheid vertrou? Daar is `n paar dinge om te onthou: Dat die waarheid van die evangelie werklik ’n krag van God is wat ons kan vertrou (Rom 1:16). Dit wil lyk of hulle groot probleem was dat hulle hieroor begin twyfel het. Wanneer die magte buite ons baie indrukwekkend lyk – soos hier in Pergamum – dan kan dit gebeur dat ons oor die evangelie begin wonder. Dit is ook die rede waarom Johannes in die hele boek soveel klem lê op die krag en majesteit van God en van Christus (vgl hoofstuk 4 en 5) Dit is ook waarom Christus in hierdie brief geteken word as die Een wat die swaard dra (2:12). Ons kan die waarheid van die evangelie vertrou. Wat ook nodig is om te verstaan is dat die Christelike waarheid nie in die eerste plek oor ’n klomp geloofstellings of etiese standpunte gaan nie, maar oor Jesus Christus. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh 14:6). As ons in Hom glo, sal ons ook geloofstellings maak en etiese standpunte hê, maar die fokus sal altyd op Christus val. Die waarheid waarvoor ons leef en sterf is dat Jesus Christus die Here is!
Waarheid is nie net iets is wat ons praat nie, maar ook iets wat ons doen – en selfs belangriker nog – iets wat ons is. Die groot werk van die Gees is om ons aan Jesus te verbind en ons al hoe meer soos Jesus te laat wees en te laat optree. Dit is ten diepste wat hier in die brief bedoel word met bekering. Ons moet die Gees vra om ons weer vir Jesus te laat sien in al sy heerlikheid en mag en liefde, ons al hoe nouer aan Jesus te bind en ons daagliks al hoe meer te omvorm na sy beeld. Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat die waarheid ons sal vrymaak (Joh 8:32). Ons moet in Jesus se voetspore leef.
Wanneer ons, ons daat ‘n wilsbesluit maak om in Jesus se voetspore te leef met ’n 20-20 geloofsvisie, beloof die Here dat Hy vir ons verborge Manna sal gee. Hy sal sorg soos Hy destyds in die woestyn vir Israel gesorg het. Verder sal Hy ook vir hulle ’n wit klippie gee. Die meeste uitleggers dink dat die wit klippie ’n soort toegangskaart was. En dit wou vir hulle sê: moenie te sleg voel as julle hier op aarde nie by enige plek kan ingaan nie. Met dié wit klippie sal julle toegang kry by al die plekke wat regtig saak maak! Kom ons ontvang hier nuwe identiteit en gaan lewe met ’n 20-20 geloofsvisie as nuwe mense wat aan Christus behoort.
AMEN