OPENBARING 3:1-6
Datum: 28 Mei 2020 (Aanddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Die stad Sardis was ’n rustige plek wat veral bekend was vir sy lui mense. Op ’n tyd was Sardis gemeente ’n baie lewendige en meelewende gemeente. Na buite het alles goed gelyk. Daar was oënskynlik nie baie teenkanting teen die gemeente in die stad nie. Alles was baie rustig in die stad en in die gemeente. Maar, helaas, rustigheid is ook nie ’n altyd ’n goeie ding nie …Alles was nie so goed soos dit gelyk het nie. Ons hoor in vers 1 en 2 dat die Here vir die gemeente sê dat Hy weet van “alles” wat hulle gedoen het (en nie gedoen het nie!), en minder beïndruk was. “Julle het die naam dat julle lewe; maar ons, Ek en julle, weet dat julle eintlik dood is”, sê die Here. Maar dan kom die heel hardste woord as Jesus byvoeg: “wat julle doen vind ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie” (vers 3).
Die mense wat in die stad gewoon het, was geken aan agterlosigheid en luiheid. Hulle het net nie genoeg omgegee nie. Die duidelikste teken hiervan was die wonderlike tempel wat vir Artemis gebou is wat vir jare onklaar en half gebou gestaan het – as ’n teken van die mense se slapheid en luiheid. En nou wil dit lyk of die gemeente hierby aangesteek het. Die stad het nie soos die Christene geword nie; die Christene het soos die mense van die stad geword!
En dit is die gemeente in Sardis het se probleem. Hulle het hulle entoesiasme vir die evangelie verloor.Hulle het nog kerk toe gekom, maar daar was nie meer hart en passie in nie; hulle oë het nie meer geblink nie. Die gemaklikheid van ’n lewe met sy alledaagse roetine en vele dinge wat moet aandag kry, kan ’n wildernis word waarin ’n mens jou oordeel en uitsig totaal verloor. Daarteenoor, het ‘n Bybelse lewe altyd iets te maak met perspektief, met vergesigte-sien, met geesdrif, met vaart”. Dit was nie meer daar in Sardis nie. Ek dink baie van ons verstaan iets hiervan en het al ’n slag of wat so ’n ervaring gehad. Die lewe is so dat ons gewoond kan raak aan die wonderlikste goed in die lewe. Die wonderlikste visie verloor sy glans as dit nie aangevul of gereeld vernuwe word nie.
Die Here se raad aan die gemeente is dat hulle moet wakker word en onthou waar hulle vandaan kom Die oorgerustheid wat die gemeente gekenmerk het, het gemaak dat die meeste van hulle nie die erns van hulle situasie besef het nie. In plek daarvan dat hulle die stad help om waaksaam te wees, is hulle besig om dieselfde fout te maak.
Die gemeente word genooi om terug te keer na die vroeëre tye van hulle lewe en hulle te bekeer. Hulle het gedink hulle het dit al gedoen, maar blykbaar het die Here nie gedink hulle is klaar nie. Ons hou soms halfpad op met bekering omdat ons dink dit is nie regtig moontlik om meer te doen nie. Dit is ’n fout om so te dink. Die Here sal nie van ons dinge vra waarvoor Hy nie ook vir ons die krag gee nie. Hy gee nie net sy liefde, sy genade, sy vergiffenis aan ons nie; Hy gee ook sy Heilige Gees aan ons! In die brief word spesifiek gesê dat Jesus die sewe Geeste van God het, die Heilige Gees, die ewendmakende Gees aan ons kan gee. Ons hoef nie in lamheid en doodsheid voort te leef nie. Die Gees van die Here kan ook vir ons lewend maak. Dit is waaroor Pinkster gaan.
Weereens lees ons, soos in die vorige gedeeltes, in die teks van ’n klein groepie mense wat toegewyd hulle geloof in Jesus uitgeleef het. Hierdie lidmate het hulself nie oorgegee aan luiheid en lamheid nie, maar het volhard in hulle toewyding aan die Here. ’n Mens kry die gevoel dat Christus hierdie paar mense geweldig waardeer en hulle eer vir wat hulle bereid was om “vir Hom” te doen. Hierdie paar mense het Jesus nie net vertrou vir hulle redding nie, hulle het ook geleer om die Here op nuwe maniere lief te kry vir wie Hy is en vir wat Hy vir hulle gedoen het. Hulle oë het oopgegaan vir Jesus en hulle was reg om vir Hom te doen uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het.
’n 20-20 Geloofsvisie gaan vir ons help om hierdie dinge raak te sien in ons eie gemeentes. Oral is daar groepies in gemeentes wat gewoonlik altyd beskikbaar is en werk in die koninkryk van die Here. So vind ons ook dit in die Bybel, dat die Here sy kerk herstel en weer laat herleef deur te begin met klein groepies gewillige mense. Die werk van die Here is nie afhanklik van groot getalle nie. Dit was dikwels so dat dit kleiner groepe, soms selfs enkelinge, was wat ’n groot verskil gemaak het. Dit is een van die eerste reëls vir getuienis werk, naamlik dat ons begin met die mense wat reg is daarvoor – al is dit twee of drie of vier. Kom ons vra die Here om ons lewend te maak vir Hom en sy koninkryk deur die werk van die Heilige Gees.
Amen