OPENBARING 2:18-29
Datum: 27 Mei 2020 (Aanddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Tiatira was waarskynlik die kleinste en onbekendste van die sewe stede waarvan ons in Openbaring hoor. Uit die brief self kan ons aflei dat dit eintlik baie goed gegaan het in die gemeente. Die Here prys die gemeente vir hulle harde werk en ywer vir die evangelie
Maar Isebel, die vroueprofeet het moeilikheid in die gemeente veroorsaak. Sy het die gemeente openlik aangemoedig om mee te doen aan die heidense feeste. Haar argument was, soos die van die Nikolaïete, dat Christene aan heidense praktyke kon deelneem solank hulle nie regtig in die gode geglo het nie. Ons het reeds gisteraand gehoor dat Christene nie die argument kon steun nie. Vir die God van die Bybel is nie net ons siele belangrik nie, maar ook ons liggame. Ons word nie net geroep om in Christus te glo nie; ons word ook versoek om elke dag heilig te lewe. Daarom was Isebel se leer en haar advies nie vir die Here aanvaarbaar nie.
Daarom ge die Here raad aan die gemeente. Die Here sê vir hulle dat hulle net moet vashou aan wat hulle het totdat Hy weer kom. Hy vermaan hulle “om tot aan die einde toe vol te hou om te doen wat Ek vra”. Dit was die fout van die Isebel-groep – hulle het Jesus en wat Hy van ons vra nie ernstig genoeg geneem nie. As ons Christus en sy gawes ontvang het, plaas dit ’n verpligting op ons om ook te doen wat Hy vra. Ons moenie toegee aan versoekings nie omrede ons praktiese gedrag elke dag diep beïnvloed word deur ons gedagtes en ons begeertes. Wat is daardie liefde in ons lewens? Ons word wat ons lief het. As ons verkeerde dinge liefhet en begeer, kan ons lewens nie reg loop nie. Magdy die Egiptenaar het op ’n dag vir my gesê dat hy eerder in Egipe in afsondering wil bly, as om hier in die Kaap gevestig te word. Ek het gedink hy is “stupid” om eerder daar in die woestyn te bly as hier. Toe sê hy: Want hier is te veel versoekings en liefdes. Sy eerste liefde Jesus sal in die slag bly. Ek het onlangs hierdie waarheid in Engels raak gelees:
Watch your thoughts; they become words.
Watch your words; they become actions.
Watch your actions; they become habits.
Watch your habits; they become character.
Watch your character; it becomes your destiny.
En dit is ’n feit. Ons het onbewustelik toegang tot vele ander liefdes en versoekings. Dalk het grendeltyd ons hiermee gehelp. Sodat ons meer en meer tyd saam met Jesus kan bestee. Vanoggend se teks gee aan die gemeente in Tiatira en aan ons ’n belofte:
As ons wil hoor wat die Gees vir ons sê moet ons altyd weer teruggaan na die prentjie wat Johannes in die begin van die brief vir ons van Jesus gegee het. Hy praat daar oor Jesus as die Seun van God – die enigste keer in die hele boek wat hy dit doen! Dit is ’n sterk titel waarmee hy vir die Christene wil sê dat hulle nie te groot moet skrik vir die plaaslike gode nie. In Tiatira is Apollos – die Seun van die Zeus – vereer as die plaaslike godheid. Die Christene kan weet dat die seun van Zeus nie bestand sal wees teen die krag en vlammende oë van Christus, die Seun van God nie! En met sy stewige voete van `n harde geelkoper allooi kon die mense van Tiatira weet Jesus het gekom om te bly; Hy was nêrens heen op pad nie. Die stad Tiatira het ook aan Hom behoort. En as die Here nog kans sien en op ’n plek bly, dan is dit sommer makliker vir ons om langs Hom te gaan staan en saam met Hom te veg vir die hart van die stad.
AMEN
Gebed:
- Kom ons vra die Here om ons te help om die liefdes van ons lewe in die regte rangorde te kry?
- Bid dat die Here ons meer tevrede-mense sal maak, en daarom ook groter deernis vir ander te hê.
AMEN