2 Kon 20:1-11; 2 Kron. 32:24-26
Datum: 8 September 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
Ontmoet vir Hiskia:
Die boeke Konings en Kronieke is twee boeke in die Bybel wat jy nou nie eintlik vir die lekkerte lees nie. Dis erg neerdrukkende leesstof, want jy lees net hoe een na die ander koning na die ander sy rug draai op die Here. Telkens gryp die Here weer in, en red sy mense, omdat Hy vir hulle lief is. Maar telkens verval hulle maar net weer in die afgodsdiens van die volke rondom hulle. Israel was ‘n unieke groep mense, deur God self verkies, maar hulle het net nie so gelewe gekry nie. En hulle konings het hulle vir seker ook nie gehelp nie. Van die een na die ander lees ons soos ‘n eentonige refrein: “Hy het gedoen wat verkeer dis in die oë van die Here...”
Hulle het duidelik nie geleer uit hulle foute, of uit hulle voorgangers se foute nie. En jy wat daar lees, voel die hele tyd die krisis soos ‘n donker wolk naderskuif, die onafwendbaarheid van God se oordeel. Ja, dis vir seker nie lekker opbouende leesstof nie. Maar gelukkig is daar natuurlik darem ook na Dawid en Salomo sulke enkele ligpunte, konings wat die donkerte vir ‘n oomblik of twee verdryf. Soos byvoorbeeld Asa, wat sy mense met ‘n eed weer aan die Here verbind, en Josafat, wat gesante deur die hele land stuur om die mense weer die wet te leer. En dan natuurlik Josia, die jong koning wat ‘n herlewing inlei toe hulle die wetboek in die tempel ontdek het, en Joas, wat die tempel laat herstel. En Ussia.
En dan was daar Hiskia. Hy het Agas opgevolg, die jong koning vir wie die Here die Immanuel-teken gegee het, om hom te verseker dat die Here sy mense teen die vyand sou beskerm. Maar Hiskia was anders as Agas. Hy was ‘n vars bries in die boek Konings. Uiteindelik was hier ‘n koning wat regtig die Here met oorgawe dien! Heel eerste het hy die tempel laat skoonmaak van al die heidense goed wat sy voorgangers daar laat versamel het. En toe het hy die verbond van die Here met die volk hernu, en hulle opnuut verbind om die Here te dien. Hy het ook weer die Paasfees ingestel, en toegesien dat die volk weer hulle dankoffers aan die Here begin gee. En toe die magtigste leër in die wêreld onder Sanherib Jerusalem bedreig, het hy net vertrou op die Here, en so het die Here een nag ‘n engel gestuur en die vyand verjaag.
Uiteindelik! kan jy met reg sê. Uiteindelik is hier iemand op die troon van Dawid wat waardig is om God se volk te lei. Wat verstaan wat dit beteken om die Here te dien. Maar toe gebeur dit. In die fleur van sy lewe, word koning Hiskia baie ernstig siek...
- Die Here luister na Hiskia
En terwyl Hiskia daar in sy bed in die paleis lê, stuur die Here sy profeet na hom toe met die slegste nuus na hom toe. Jesaja moet vir Hiskia kom waarsku dat hy aan die einde van sy lewe gekom het. Dat hy maar sy sake in orde moet kry, want hy sou nie weer daar opstaan nie. Hy gaan sterwe.
Dalk het jy dit nie sien kom nie. Dalk het jy gedink iemand wat die Here met sóveel oorgawe dien, moet noodwendig baie lank en gesond lewe. Maar dis ongelukkig nie regtig hoe dit werk nie. Want dis nie net ongelowiges wat siek raak en sterwe nie. As dominee sien ek al te dikwels hoe swaar toegewyde, gelowige mense ook kry. Dit het met Hiskia gebeur en dit gebeur nog elke dag om ons.
En ek en jy kyk vir Hiskia so en dink: God het sy strepie getrek, soos die Karoo-mense sê. Dit help nie eens ons bid vir hom nie, want die Here het klaar besluit dat hy nie weer daar gaan opstaan nie, en as die Here so besluit het, is dit dit. Die Bybel sê mos Hy doen wat Hy besluit het. Maar dan verras die verhaal ons. Hiskia draai dadelik sy gesig na die muur toe en begin bid. En net daar leer ek en jy ‘n geweldig belangrike les. Ons leer iets van die krag van gebed. Want Jesaja was lank nog nie eers terug by die huis nie, of die Here laat hom omdraai. Want God het Hiskia se gebed gehoor. En hom nog 15 jaar bygegee.
En so leer ons ‘n wonderlike waarheid: God luister na sy kinders, God sal selfs sy plan met hulle verander, as hulle daarvoor vra. Natuurlik beteken dit nie dat hy dit sommer outomaties vir almal sal doen nie. Maar jy mag weet dat Hy hóór. Só lief het Hy sy kinders.
- Hiskia se reaksie:
Dis aangrypend. Het dit jou ook opgeval wat Hiskia se eerste reaksie op hierdie wonderlike nuus is? Hy wil sommer oormôre al weer kerk toe gaan, om vir die Here te gaan dankie sê vir hierdie ongelooflike stuk genade wat die Here vir hom gegee het. Hy kan nie wag daarmee nie – hy wil net so gou moontlik vir almal gaan vertel wat die Here vir hom gedoen het. Almal moet weet van die wonderlike genade van die Here!
En dis nou presies op dié punt wat ek wens die storie eerder geeïndig het...
- Hiskia se ondankbaarheid.
Want dan gebeur die absoluut onverstaanbare. Hierdie wonderlike ervaring van God se genade maak nie vir Hiskia selfs nog meer toegewyd aan die Here nie. Dit laat hom nie die Here met net al meer entoesiasme dien nie. Nee, die Bybel sê dat Hiskia toe eerder ‘n groot kop gekry het: In 2 Kronieke 32:25 lees ons: “Hiskia het egter nie dankbaarheid getoon vir die weldaad nie. Hy het ingenome geword met homself...”
Hiskia het begin lewe asof dit maar vanselfsprekend was, dat die Here so goed vir hom was. Meer nog: Hy het begin lewe asof hy dit eintlik verdien het, asof die Here vir hom so goed móés wees, omdat hy dan so oulik is. En hier begin die verhaal van Israel regtig Suid gaan, soos die Amerikaners sê. Hier begin die volk se verval, die afdraende pad wat al vinniger tot in ballingskap sou loop...
- Wat is die les hierin?
Waarom staan hierdie storie in die Bybel? Sou dit nie veel meer inspirerend gewees het as dit gelukkig geeïndig het nie? En terwyl ek so daaroor wonder, gaan my gedagtes terug na die verhaal wat ek verlede Sondag by die aanddiens gelees het: die een van die tien melaatses wat genees is, waarvan net een kom dankie sê het. Aan die einde van daardie storie, as die nou gesonde eks-melaatse voor Jesus gekniel staan, sê Jesus vir hom: “Jou geloof het jou gered.” En dan wil-wil ek net protesteer. Want hier was nêrens sprake van geloof nie. Die man het nêrens enige belydenis van ‘n soort uitgespreek nie.
Maar so leer ek en jy, dat geloof en dankbaarheid eintlik onlosmaaklik één is. Dat jy nie regtig dankbaar teenoor God kan wees, sonder om Hom in afhanklikheid te dien nie, en dat jy nie regtig in die Here as Verlosser kan glo, sonder om oorweldig te wees deur eindeloos dankbaarheid vir sy seën nie. Dankbaar vir baie dinge, maar veral ook vir die gesondheid wat ons elke dag kan geniet. Sy liefde en sorg oorweldig ons, maak ons dankbare mense. ‘n Lewe van geloof is ‘n lewe wat oorweldig is deur dankbaarheid teenoor God. ‘n Dankbaarheid wat sigbaar raak. ‘n Dankbaarheid wat ons daartoe bring om God waarlik te dien...
AMEN