Sagaria 4
Datum: 28 Junie 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Hannes Burger
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
Die afgelope week was dit of ek ‘n subtiele verandering in ons gemeenskap begin optel. Daar was ‘n verskuiwing in die gemoed van ons mense. Miskien het ander goed ook daarin ‘n rol gespeel, maar ewe skielik is mense nie meer so lus om saam te werk nie. Die grendeltyd het sy honderdste dag beleef, en raak nou bitter lank. En ons mense is oor dit. En ek verstaan, want ek het myself betrap die week dat ek vir Adri sê ek is nou regtig oor dit. Ons is nie gewoond voorgesê word wat ons mag doen en waarheen ons mag gaan nie. Introvert of nie, ek mis braai saam met my vriende. En nou lyk dit of dit baie mense laat besluit het die gevaar is nou verby, terwyl die teendeel waar is...
Ek is bietjie oor dit. So ek was self ook nie op ‘n goeie stasie toe ek die afgelope week die Bybel oopmaak om te hoor wat God vir ons as gemeente wil sê nie. Eintlik het ek terdeë besef dat ek eintlik ook vir myself ‘n boodskap soek. Wat wil die Here vir ons in hierdie omstandighede sê? Wat sê die Gees, vir mense wat oor dit is?
- Sagaria
Nou is dit natuurlik nie die eerste keer wat ek oor Sagaria 4 preek nie. Twee jaar gelede het ek die Nuwe Jaar daarmee begin, met vers 10 as teksvers, oor “die dag van klein dingetjies”. As die taak waarvoor God ons geroep het, vir jou oorweldigend lyk, maak dan net ‘n klein begin, het die Here daardie dag vir ons gesê. Begin net iewers klein, om jou verhouding met die Here te bou, en jou verhouding met die mense om jou te verbeter, om ‘n verskil te maak, om ‘n nuwe toekoms te bou wat wys dat God se koninkryk gekom het. Moenie “die dag van klein dingetjies” gering ag nie. Maar dit was twee jaar gelede, en toe het ons nog nie eens geweet van Covid 19 nie!
En so vat die Here my toe die week terug soontoe, om weereens saam met Sagaria die gesig te sien, soos een wat uit ‘n diep slaap wakker word. En as ek die slaap uit my oë vryf, sien ek saam met hom die reuse kandelaar met die 7 vlamme. En net soos hy, staan ons verstom. Ons verkyk ons aan die gesig van die goue kandelaar. En terwyl ons nog wonder wat op dees aarde dit kan beteken, kom help die engel aan Sagaria se sy ons uit. Wat is dit, wat die Here vir ons wil sê?
- Die gesig.
Ek voel darem ‘n klein bietjie beter, as ek agterkom ek is nie al een wat nie weet nie. Sagaria het ook nie woorde vir wat hy sien nie. En ek ken daardie emosie. Want hierdie afgelope week was my woorde ook by meer as een geleentheid bietjie op... En so staan ek daar saam met Sagaria, en nie een van ons verstaan wat wil die Here in die oomblik en in ons omstandighede, vir ons sê nie. Ons weet nie wat om te sê nie en wat die gesig beteken nie.
En tog is dit eenvoudig. En dis juis in hierdie eenvoud, wat die geweldige krag van die boodskap lê. God wys vir sy profeet dat die vlam steeds brand. En dis nie wat Sagaria gehoor het, as hy tussen sy mense rondbeweeg het nie. Hulle was oor dit. Die opdrag om die stadsmure te herstel en die tempel te herbou, was net te veel gevra. Hulle was toegegooi en hulle kon nie meer die lig sien nie. In hulle haglike omstandighede voel dit asof die vlam stadigaan aan die uitgaan is. Sodat daar binnekort net duisternis sal oorbly. Asof hulle net nie gebore in staat is om langer God se lig uit te straal nie. Hulle is eens te oorlaai, te uitgeput.
Maar dis juis wat Sagaria moet raaksien. God se vlam gaan nie uit nie. Sy kandelaar word deur ‘n standhoudende bron gevoed. Daar staan nie kanne olie langs die altaar, wat dalk ook later leeg kan raak nie. Daar staan twee olyfbome, wat die sewe lampe die hele tyd voed. En onthou, sewe is die getal van volmaaktheid. God se lig raak nooit flou of ontoereikend nie. Dit brand vir ewig.
Wat is die goeie nuus hieraan, vir ons wat binne in die Covid-storm lewe? Verstaan jy wat dit beteken? Het jy gesnap wat God hier sê? God se lig sal nooit taan nie, maar meer nog, ek en jy word meegeneem daarin, omdat ons sy gesalfdes, sy kinders is, ons staan as’t ware vierkantig IN DIE BRON gevestig! Ons is deurdrenk van die olie wat die lamp helder aan die skyn hou. En nou is ons mos Nuwe Testamentiese gelowiges, ons het al die Openbaringboek gelees en weet waarvan olie in die Bybel die simbool is. Ons is gesalf met die Gees van die Here, deurdrenk van die Gees, om sy dienaars te kan wees en sy lig in ‘n donker wêreld te laat skyn.
- Wat moes dit vir Serubbabel sê?
God roep vir Sagaria op om nie vas te kyk teen die bouvalle van Jerusalem nie. Om nie toe te laat dat dit ons in die grond boor en ons getuienis verdof nie. Om vir Serubbabel, die leier van die Jode wat uit ballingskap teruggekeer het, te gaan sê: Ek weet jy staan voor ‘n skynbaar onmoontlike taak om die stad te herbou. Ek weet jou vlammetjie brand laag. Daar is klaar meer rook as lig. Serubbabel, tel op jou kop, en hoor wat die Here sê: Jy moet weet dat jy gerugsteun word deur die Almagtige. Jy staan nie alleen nie. Moenie moedeloos word nie. Moenie nou oor dit raak, en boedel oorgee nie. Begin net – jy kan weet dat jy SAL slaag!
En vir my en jou? Die engel van Sagaria 4 kom vandag vir jou ook vra: “Weet jy nie wat dit beteken nie?” Weet jy nie dat jy nie verder in jou eie krag hoef te probeer, en so die risiko te loop dat alles net vir jou te veel gaan raak nie en dat jy knak onder alles nie? Hoor jy wat sê die Here: “Nie deur mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige...” Dis mos wat ons bely: Ons is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee. Ons lig sal nie uitdoof nie. Ons is deurdrenk van die Bron...
AMEN