Luk.15:1-3; 11-32
Datum: 31 Maart 2019
Prediker: Johan Morkel
Die Here is die God van tweede(en meerdere) kanse….
Met watter broer assosieer jy die maklikste? Met watter een vereenselwig jy jou? Dink jy as jy die verhaal hoor, as ek eerlik moet wees - dit is ek? Dalk die jongste broer? Die broer wat sy erfporsie, waarop mens tog eers aanspraak maak as die persoon sterf, van sy pa opgeëis het? Die broer waarvan ‘n kommentaar sê dit is verregaande in die Oud Midde Oosterse konteks om te doen wat hy gedoen het – sy pa sou sy kind hard kon straf met so ‘n versoek. Die broer wat sy rug op sy ouerhuis, sy familie en sy land gedraai het en na ‘n ver land vertrek het. Die broer wat in die ver land sy geld op ‘n losbandige lewe verkwis het totdat hy geen geld meer oor het nie en toe as vark-oppasser moes werk. Vind jy jouself dalk in hierdie broer? Moet jy vanoggend erken: dit is ek dié? Ek het ook my rug op die Here gedraai? Die Here het nie regtig tyd en plek vir die Here in my lewe nie? Ek het weggestap van God en Gods Woord, gee die Here die plek in my lewe wat Hom toekom nie?
As jy jouself met die jongste broer assosieer, hoef jy nie noodwendig in absolute terme te dink soos die broer in die gelykenis uitgebeeld word nie, asof jy totaal boos en sondig is, asof jy partytjie hou, jolyt hou en in kuierplekke uithang van die oggend tot die aand nie. Asof jy heeltemal Goddeloos lewe nie. Mens kan jouself subtiel van die Here onttrek, die Here uitsluit. Een manier sou wees dat, terwyl ek die skyn van beskaafdheid en christelikheid behou, ek in werklikheid ver van God af lewe. Ander dink nog wel alles is reg in jou lewe, maar jyself en die Here weet dit is nie so nie. ‘n Ander manier sou wees dat ek ten opsigte van een aspek/gedeelte van my lewe die Here uitsluit, die Here agterlaat, ver van die Here af is, - in ‘n verre land! Dalk hoe ek my geld spandeer(gee die Here geen inspraak nie), my gedagte wêreld, my optrede teenoor my man/vrou/kinders(gee die Here geen seggenskap nie), my gesindheid teenoor my medemens(doen soos ek wil), kom ek nooit by die Woord van God en gebed uit nie en leef op hierdie manier ver van Hom! Nog ‘n manier om jou te vereenselwig met die jongste broer sou wees dat jy vir ‘n tyd (kort of langer) ‘n breek maak in jou verhouding met die Here. En dan meteens besef jy(dalk vanoggend?) kyk hoe het ek van die Here weggedryf sonder om dit agter te kom. Kom ons vra weer: Hoeveel van jouself vind jy in die jongste seun?
Dit bring ons by die oudste broer. Dalk vind jy jouself in die oudste broer? Van die oudste broer lees ons hy het by sy Pa – by die huis - gebly. Hy het getrou sy verantwoordelikhede as seun nagekom. Hy was juis in die veld besig om te werk en toe hy huis toe gaan, het hy die feesvieringe by die huis gehoor. Met die eerste lees-slag dink mens hy is die voorbeeldige, die navolgenswaardige, die goeie seun, ‘n prototipe van ‘n goeie gelowige. Ek het as kind altyd gedink die Pa is darem baie hard op hierdie oudste broer! Ongelukkig (gelukkig?) kom ons meer van die oudste broer agter as ons sien hoe hy reageer as hy hoor wat die rede is vir die feestelikheid by sy ouerhuis: die terugkoms van sy broer! Dan lees ons: hy was woedend(NLV: hy het hom liederlik vererg), hy weier om sy broer te verwelkom, hy wou nie die huis ingaan nie, sy Pa moes uitkom na hom, hy was ‘n verleentheid vir sy pa, hy verwyt sy pa omdat sy pa hy oorboord gaan oor sy broer terwyl hy nie eers ‘n ou bokkie kry om te slag nie.
Ons moet onthou Jesus vertel die gelykenis teen die agtergrond van die inleidende verse van Luk.15. Die Farisieërs en Skrifgeleerdes het beswaar gemaak teen Jesus omdat Hy met tollenaars en sondaars gemeng en selfs saam met hulle geëet het. Die NLV sê: Hy het Hom met veragtelike mense geassosieer en selfs saam met hulle geëet. Die oudste broer se optrede beeld dus vir ons die houding van die Skrifgeleerdes en Farisieërs uit. Alhoewel hulle in hul eie oë baie godsdienstig en vroom was, gedink het hulle is baie pligsgetrou en wetsgehoorsaam, gedink het hulle doen reg, hulle leef reg, God is gelukkig met hulle, hou Jesus met hierdie gelykenis vir hulle ‘n spieël op waarin hulle hulself, hul binneste kon sien, ontbloot Jesus hulle! Jesus wil dat hulle in die optrede van die oudste broer sal sien dat hulle(soos die oudste broer) ten diepste ongenadig en onbarmhartig is, neersien op mede-Israeliete, meerderwaardig is, dink hulle is minder sondig as die gewone Jode, dink hulle is beter as hul volksgenote, nie die hart van God verstaan nie.
Die vraag is: Met watter broer assosieer ons onsself? Is ons dalk soos hierdie broer? Leef die gesindheid van die oudste broer in ons harte en lewens? Is ek en jy ook van mening alles is reg en op hul plek in ons lewens, ons is knus en gemaklik in die kerk, ons is naby die Here, maar intussen leef dieselfde gesindheid as dié van die Farisieërs en Skrifgeleerdes in ons harte? Voel ons krapperig teenoor vreemdes, buitestaanders, randfigure, mense wat anders is(waarop Lukas ons dikwels wys)? Is ons meerderwaardig, dink ons speel in ‘n hoër liga as ander - die Here se A-span? Ontbreek die gesindheid van die Vader in die gelykenis die Here by ons? Ontbreek liefde, genade, barmhartigheid, vergiffenis, by ons. Ek vra deurgaans die vraag: Met watter een van die broers vereenselwig ek myself? Watter broer se gesindheid is, ookal is dit vir my swaar om te erken, die uitwysing van my hart? Miskien wil jy saam met my sê nie een van die twee nie .... maar altwee! Ek vind iets van myself in altwee broers, iets van die jongste en iets van die oudste broer leef in my! Ek dryf weg van die Here (jongste) en my hart klop nie soos God se hart nie (oudste).
Wat staan ons te doen, vriende? Wat staan ons te doen as ons hierdie ontdekking maak? Die reaksie van die jongste broer is vir ons die rigtingwyser hoe om op te tree as ons tot die ontdekking kom dinge is nie reg in ons lewens nie. Om te erken en te bely: ek het afgedwaal van die Here, die gesindheid in my hart is ver van dié van die Here. Tweemaal lees ons: ek het gesondig teen die hemel en teen Pa, ek is nie langer werd om Pa se seun genoem te word nie” Om te weet: waar ek ookal die Here gefaal het, daar is vir my jou vergiffenis van sonde, plek by die Here! Ek gee ‘n paar oomblikke van stilte. Lees Luk.15: 20(b) en 22 - 24
Kom ons kyk ten slotte na die optrede van die Vader in die gelykenis. Ek het reeds gesê die pa sou die jongste broer kon straf toe hy sy erfdeel kom opeis het. Tog stem sy pa tot sy versoek toe en laat hom gaan. Ook as die broer terugkeer na sy pa sien die vader hom van vêr af, hardloop hom tegemoed, omhels die broer, soen hom, reël ‘n feesmaal om sy terugkoms te vier!. Die vader tree nie anders teenoor die oudste broer op nie. Die vader(pa) tree met dieselfde gesindheid teenoor die oudste broer op. Hy luister met groot geduld en verdraagsaamheid na die broer se relaas. Hy bly rustig en geduldig terwyl die broer hierdie lang tirade het. Hy gee die broer enduit die geleentheid om in te kom en saam te kom feesvier.
Ons kan ten slotte sê die optrede van die pa is vir ons die uitbeelding van die Here en sy optrede teenoor ons. Neem vanoggend vanuit dit wat van die Pa gesê word wat jou aangeraak het. Ek noem ‘n paar eienskappe. Die Here is anders as ons, verrassend anders as ons – gans anders as ons! Die Here is nie haastig om te veroordeel nie, om tereg te wys nie, te straf nie. Die Here is gereed om te vergewe as ons in berou na Hom kom, die Here se geduld met ons is oneindig groot. Die Here wag ons met liefde in, hardloop ons tegemoed. Laat ons ook hierdie Lydenstyd in ons geestesoog sien hoedat God in Jesus Christus ons tegemoed gesnel, gehardloop het. Kom mens word het, kom sterf het aan ‘n kruis, sodat daar vir ons, of ons jongste of oudste broer is, of ons jongste en oudste broer is, genade kan wees, vergiffenis van sonde, kindskap van God, ‘n plek in die Vaderhuis kan wees.
AMEN